Lewe in ‘n Waterwesekamp…Jozinidam.

As pasgetroudes het ek en manlief in Januarie 1976, opgewonde na ons eerste blyplek vertrek…’n houthuis in die Ubomboberge, net anderkant Pongola. Dit was ons eerste damprojekervaring. Die grondpad na Jozini, die Waterwesedorpie, was teen die steil Ubomboberge uit en nogal ‘n uitdaging vir twee onervare jongmense met ons kerriegeel tweedehandse Ford CortinaV6 met sy bruin vinieldak!

Ons spogmotor en eerste ryding.

Ons trek het twee dae voor ons uit soontoe gegaan en by ons aankoms was alles netjies in die huis gepak en die hele dorp se mense het geweet watse besittings ons het…een dubbelbed, ou spieëlkas, twee bedkassies, een enkelbedjie, my ma se ou yskas en ‘n rottangsitkamerstelletjie, bestaande uit vier stoele en twee klein tafeltjies. Toe ons die dorp inry, sien jy net gordyne beweeg. Dis nou van klein gemeenskappies, almal se besigheid is almal s’n!

Ons sitkamer met vier stoeltjies en een skildery wat ons as trougeskenk gekry het. O ja, die matte het ons by skoonma geërf.

Die bure het nuuskierig op ‘n afstand gebly, want duidelik was daar ‘n ingeburgerde respek vir titels. Ons wis niks hiervan nie, want ons was stadsmense en manlief het ‘n jaar lank in Waterwese se hoofkantoor gewerk. Ons moes later uitvind dat ons nie die regte huis gekry het nie. Die assistent plaaslike ingenieur (manlief se posomskrywing) moes ook in een van die groot baksteenhuise gevestig gewees het. Dit het ons min geskeel en ons het regtig probeer om onsself nie beter te ag as die sout-van-die-aarde-dambouers nie. Ons het toe lekker gebly in een van die houthuise, tussen die gewone werkers, met gawe hulpvaardige bure aan albei kante.

Ek voor ons houthuis, met ‘n pragtige massiewe rubberboom links.

Die eerste aand hoor ons vreemde geluide in die kombuis. Ek het die halfuitgepakte kartondose net so laat staan vir die volgende dag. Toe ons die lig aanskakel, skarrel ‘n hele legioen Natalse kakkerlakke uit genoemde bokse. ‘n Natalse kakkerlak is amper so groot soos ‘n klein vlêrmuis en wraggies die grillerigste ding ooit! Nadat ek klaar gegil en gegril het, is ons maar weer kooi toe. Dit was die begin van ontmoetings met daardie tot dusver ongerepte omgewing, se insekte en reptiele.

Een oggend hoor ek ‘n bloedstollende gil uit die badkamer en toe ek om die deur loer, spring ‘n wit padda uit die stort. Manlief het gedink dis die seep en padda se kind het homself nog witter geskrik. Die Natalse boompadda kom juis net in Natal voor en hierdie outjie moes die spoor byster geraak het, om in ons badkamer te beland. https://www.sanbi.org/animal-of-the-week/natal-tree-frog/

Dis ‘n warm wêreld, met hoë humiditeit, baie naby aan die see. Die dam was reeds klaar gebou en redelik vol water. Daar was egter probleme met die Swazilandse regering, want die water sou oor hulle grondgebied opstoot, dus is die watervlak altyd op ‘n sekere hoogte gehou. Destyds het die dam bekend gestaan as die Pongolapoortdam, want dit lê in die poort tussen die Ubombo-en Lebomboberge. Vandag staan dit bekend as Lake Jozini.

Die dam is heeltyd halfvol gehou.

Onderkant die damwal is ‘n reuse kanaalstelsel gebou, waarby manlief betrokke was. Die doel was om besproeiing te skep vir die vrugbare Makatinivlakte. Dit was ‘n ongerepte vlakte vol binnelandse mere, pragtige plantegroei, klein gehuggies waar Zoeloes gewoon het, taamlik onbegaanbare paaie, waar mens net met ‘n 4×4 kon ry. Die bekende Sordwanabaai was een van die ruwe aantrekkingskragte van die gebied. Kosibaai, wat vandag maklik bereikbaar is, was ‘n missie op sy eie.

Pongolarivier onderkant die damwal. Regs is die kanaalstelsel in aanbou en in die verte lê die Makatinivlakte.

Die dam is vandag ‘n aantrekkingskrag vir vissermanne en natuurliefhebbers. Met ‘n onlangse besoek aan die damwal, was die teleurstelling groot. Dit was vuil en krotterige huisies is oral teen die eens ongerepte hange gebou. Die skoonheid van die omgewing is weereens geskend deur bevolkingsaanwas en onbeplande “ontwikkeling”.

Die damwal met die pragtige omgewing, wat vandag vol gebou is.

Tydens ons verblyf daar, was die waterfiskaal, ene oom Papie Papenfuss. Hy het nogal ‘n kunssinnige streep gehad en die damwal en omgewing versier met klein miniatuur kliphuisies met grasdakkies en vetplanttuine. Gelukkig het ek foto’s daarvan. Alles is vandag weg.

Een van Oom Papie se kunswerke.
Nog een van die miniatuurhuisies met sy eie tuintjie.
Aansig op die uitlaattoring en Oom Papie se mooi tuin.

Ons was baie afgesonderd en ons naaste dorp was Pongola in die noorde en Empangeni in die suide. Dit was nogal ‘n uitdaging om met die bergpad af te ry dorp toe en daarom is inkopies tot eenkeer ‘n maand beperk. Vandag is die pad geteer en maklik om te ry.

Om besig te bly het ons Saterdae tennis gespeel en Sondae die klein hotelletjie reg langs die dam, besoek, waar ons lekker kon eet. Om op die dam te vaar was ‘n belewenis, want as die wind opsteek veroorsaak dit reusegolwe en dis ‘n skrikwekkende ervaring. Dis een plek waar ek gedink het my laaste oomblikke het aangebreek. Die waterwese boot met sy lae perdekragenjintjie het ons daardie dag amper ‘n vroeë waterdood laat sterf!

Ek met my raket by die piesangboom in ons lekker tuin. Dis subtropiese wêreld en die storie lui dat as jy lank genoeg op jou kierie rus, skiet dit wortel.

Die mense het gebruik gemaak van “fanjanne” om in die tuine te werk. Dit was jong Zoeloeseuns, wat vir ‘n ekstra geldjie, oor naweke kom werk het. Ek het Fanagalo (‘n taal wat ontwerp is deur Suid-Afrikaanse mynmaatskappye, bestaande uit elemente van Nguni tale, Engels en Afrikaans), leer praat om met ons fanjan te kommunikeer. Ons het die oulikste slim kêreltjie gehad en ek wens ek weet wat van hom geword het. Hy was so gretig om te leer en het vir my gevra vir ‘n Engels/ Zoeloe woordeboek. As sy werk klaar was, het hy sit en lees en skryf.

Alpheus Dlamini, ons fanjan. Hy is seker vandag al diep in sy vyftigs.

Ons eerste hondjie was ‘n klein foxterriër en is teen ons sin aan ons “geskenk”. Na ‘n daguitstappie het ons by die huis gekom en ‘n baie opgewonde Alpheus met die hondjie aangetref. Wat kon ons maak? Mens kon tog nie ‘n geskenk teruggee nie. Nietemin, ons was baie lief vir Vlekkie.

Alpheus en Vlekkie.

Op Jozini het ek uit noodweer geleer om brood te bak. Die plaaslike vrouens het hul aartappelsuurdeegplantjies met my gedeel en ek het later, na ‘n hele paar mislukkings, bobaasbrode gebak. Daar was ‘n spesiale gat agter in ons tuin, waar die gesneuwelde baksels begrawe is.

Ons het gehuil toe ons die dag daar weg is. Wat ‘n wonderlike ervaring, saam met fantastiese mense in een van ons land se mooiste dele.

62 Replies to “Lewe in ‘n Waterwesekamp…Jozinidam.”

  1. Ai jinne, dit was nou so lekker om te deel in jou herinneringe en jou foto’s. Ons het daardie jare ‘n Toyota Corona gehad, ook roomkleur met so ‘n bruin vinieldak.Jou fanjan en die hondjie het my nou skoon tranerig gehad. Dankie vir die lekker leesstuk.

    Liked by 1 person

    1. Ek is bly jy het dit geniet. Ek was so lief vir my fanjan. Ongelukkig het hy op ‘n stadium net verdwyn en ons kon hom nie weer opspoor nie. Hy was so ‘n slim ordentlike seun en ek skat hy was so twaalf jaar oud toe hy by ons gewerk het.Natuurlik sal dit vandag as kinderarbeid geklassifiseer word. Ons was baie goed vir hom. Hy het vertoiingd en honger by ons aangekom.

      Liked by 1 person

  2. Kan jy glo Dina, ons het in 1964 tot 66 op Jozini gebly. My pa was skoolhoof, my ma onderwyseres. Toe ons nou Desember deur die dorp gery het oppad Kosiebaai grens toe, het ek hard probeer om net iets bekends te sien.😉

    Liked by 1 person

  3. Dis lekker om van jou wedervaringe daar in Jozini te lees. Ons het baie in Pongola gekom want van ons skoolvriende was daar op ‘n plaas. Dit kon vreeslik waarm daar word! Ek ken Empangenie ook baie goed het vir so 27 jaar in Eshowe gebly en my man het baie in daardie omgewing gewerk.

    Liked by 1 person

        1. Groot plesier. Dis alles mooi aangeteken in mens se brein. Moet dit net laat uitkom. Jy doen beslis goed met jou neerskryf. Het jou volgende stuk ook gelees. Mens kannie glo hoe baie ‘n mens kan vertel as jy net bietjie na jou jou fotos en dokumente kyk nie.

          Liked by 1 person

    1. Ek was nog net eenkeer weer daar, so ek weet nie hoe dit deesdae lyk nie. My man was ‘n paar jaar gelede daar en het gesê die omgewing by die damwal is nou lelik en bebou.Dankie dat jy kom lees het, Dries. Ek is bly om jou te sien.

      Liked by 1 person

      1. Ons kom nogal gereeld daar verby wanneer ons die reservate in noordelike KZN besoek, en vir my begin die mooi altyd by Pongolapoortdam na mens vir ure deur die vaal en vervelige Hoeveld en dan die dooie plantasies by Piet Retief moes deur sukkel. Was lekker om jou ook weer hier raak te lees, Dina!

        Liked by 1 person

  4. Vir sommige jongmense sou so ‘n afgesonderde lewe dalk nie gewerk het nie. Julle het egter die beste daarvan gemaak met foto’s daarby en nou kan ons ook deel in jou storie. Die foto’s is spesiaal en iets om te bewaar.

    Liked by 1 person

        1. LOL. There must be way to send a voioce message here but I don’t know how. I probably have an accent from “Amsterdoom”. Remember I lived 3 years in Holland. One of my biggest regrets not to have learnt proper Dutch. I understand a word here and there, but hardly a whole sentence. Is Afrikaan accent different? (“Ryding” has me at a doubt. Does it sound like the English Riding or the Dutch rijding?)

          Liked by 1 person

        2. Afrikaans accent is quite different from Dutch, but somehow we can understand each other. Our language has its origins from Dutch settlers in 1652. Dutch changed a lot then, being influenced by indigenous languages and later Malay(slaves imported from the East), French brought here by Huguenots fleeing from France. Lately English has also made its mark. Afrikaans is a living language and still developing a lot. We easily make up new words and if people like it, it ends up in word lists.

          Liked by 1 person

        3. Interesting. Is it easier for you to understand Dutch or for them to understand Afrikaans? (A strange example: Brazilians understand Spanish fairly well, and manage to speak a mixture, but Latin Americans who speak Spanish don’t understand a word of Portuguese.

          Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Picture Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Writing - Photography - Lifestyle

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +

%d bloggers like this: