Ons was slegs agt maande op Jozini, toe word ons verplaas na Standerton, waar ‘n nuwe dam gebou sou word. Ons was baie hartseer, want vanaf Jozini se pragtige tropiese omgewing, skuif ons toe na ‘n plat kaal wêreld, waar jy sewe dae in die toekoms kon inkyk. Dit was egter ook ‘n opwindende tyd, want hier het ons beleef hoe ‘n hele skema van grondvlak af begin het.
Eerstens was daar nog geen huise nie en van die mense het tydelik in dorpshuise in Standerton, gewoon, terwyl die kamp opgerig is. Met ons geluk, beland ons toe vir twee maande in ‘n karavaan in Standerton se karavaanpark, op die oewer van die Vaalrivier. Ons meubels het in Jozini agtergebly en Vlekkie, ons hondjie het by my skoonouers ‘n nuwe tuiste gevind.
Die karavaanblyery was omtrent ‘n belewenis en dis hier waar ek tydelik en vir ‘n lang tyd, alle bande met kampeer, verbreek het. Ek het darem later bekeerd geraak en enige kampeerdery, hoe woes ookal, baasgeraak en geniet.
Eerstens was dit Septembermaand en verskriklik koud. Dink jou in hoe voel so ‘n blikkaravaan as dit afkoel in die nag…’n ysterkis op wiele! Soggens wanneer jy uit die bed klim, ys jou voetsole aan die vloer vas en die velle waai, as jy jou voete oplig.
Ons karavaan was heel goed ingerig en ons het ook ‘n tent aan die voorkant gehad, maar geen grondseil nie en ook geen stoele en ander kampkakkies nie…. net die karavaan, met die heel basiese dinge.

Die kleedkamers was ‘n hele ent weg en ‘n trippie soontoe in die donker, was enige vrou se nagmerrie, veral as jy kniediep deur modder moes spartel. Op ‘n stadium het dit baie gereën en as jy gaan stort het, was dit nie eers nodig om af te droog nie, want jy het deurdrenk weer by die karavaan aangekom. ‘n Sessie in die badkamer, het jou gewond en geskend gelaat op plekke waar jy nie eers geweet het jy het plekke nie. Die muskiete was so groot soos mossies en het bloeddorstig afgeduik op enige oop kol, waar hulle ‘n suig kon inkry.

Ek was bitterlik eensaam en verveeld en het bedags ons wasgoedjies met die hand gaan was en opgehang op die kommunale waslyn…dit was die dae voor die goud uit jou tande gesteel is. Gelukkig het een van die jong ingenieurs ons bevriend en sy vrou het my soms kom haal om by haar op die dorp te kuier. Ons het later baie goeie vriende geword en ons het vandag nog kontak via FB.
Dit was ‘n miernes van bedrywigheid om die bou van die Grootdraaidam aan die gang te kry. Daar was omtrent vyf ingenieurs as ek reg onthou, wat elkeen verantwoordelik was vir ‘n sekere afdeling. Die doel van die dam was om water te verskaf aan Secunda, wat ‘n nuwe uitbreiding van Sasol was. Daardie jare is daar nog vooruit beplan en nie gewag tot die modder die fên slaan nie!
Na twee maande in die karavaan, was ons huis uiteindelik klaar en het ons ons karige besittinkies op Jozini gaan haal. Die huise is op ‘n oop vlakte buite Standerton gebou en dit was van voorafvervaardigde asbespanele. Die wind het gehuil oor daardie vlakte en geloei om die huishoeke en dit was woes, lelik en leeg. Maar ons was ‘n klomp jongmense wat ‘n missie gehad het en ons nie laat onderkry het nie.


Ons het hard probeer om tuin te maak in die pikswart turfgrond. Iemand wat nie turfgrond ken nie, sal dit nie verstaan nie. As dit nat is en jy loop daardeur, is jy binne ‘n paar treë heelwat langer as jou gewone lengte. Dis klei wat plak en plak en daar waar ons gewoon het, was ‘n wandeling na die bure, ‘n hele avontuur. Dit was in die dae voor gumbootse en ons het sommer plastieksakke om ons voete geknoop. Dit het tot op ‘n punt gewerk, totdat jou voete so vassuig en die plastieksak afruk en in die modder agterbly.
Tuingereedskap was ook nie opgewasse teen klipharde droë turfgrond nie. Ons het ‘n hele paar vurke se tande gebreek en grawe se stele het sommer omgebuig. Net met ‘n pik kon mens iets vermag en ons kon darem ‘n grasperk aanlê, voordat ons na die volgende skema verhuis het.
Intussen het die dambouery aan die gang gekom en die eerste sooie is gespit. Die manne het hard en in skofte gewerk. Dinge was vier-en-twintig uur aan die gang. Daar is gegrawe, geboor, geskiet, keerwalle gegooi, beton gemeng…dit was ‘n absolute belewenis. Die masjienerie wat gebruik is, het mens se asem weggeslaan en net weer laat besef hoe vindingryk die mens is.



Ons het sowat agt maande daar gewoon en wonderlike vriende gemaak, so tussen die werkery deur. Op ‘n stadium het ek ‘n aflospos by George Hofmeyer Meisieskool gehad. Dit is ‘n storie vir ‘n anderdag…ook iets heel buite my ervaringsveld. Al wat ek kan sê is dat dit ‘n spesiale skool was en dat my onskuld by tye getroef was.
Standerton het bitter koue winters en op een so ‘n koue dag met ‘n temperatuur van -7 grade, is ons vort na ons volgende avontuur. By ons was weer ‘n nuwe hond, Oubaas. Hy sou lang jare sy lewe met ons deel.

Ek het my oë uitgehuil toe ek in Standerton aangekom het en weer my oë uitgehuil toe ons die dag daar weg is. Dit wys net weer, mens kan op enige plek gelukkig wees. Dit hang af wat jy daarvan maak.
Ek het jou pragtige teks deur Google Translate laat loop, want dit sou andersins moeilik wees vir ‘n dom Vlaams om te verstaan :).
Avonture wat jy hier beskryf word die beste as ‘n jongeling ervaar, dit sal onwys wees om so iets op jou huidige ouderdom aan te pak.
Wonderlike storie, dankie vir die deel!
LikeLiked by 3 people
Dankie dat jy moeite doen om te verstaan, Paul. Ja,vandag sien ek nie kans vir sulke avonture nie.
LikeLike
As mens nou van plekke praat wat agteruit gegaan het dan is Standerton seker redelik na aan die bokant van die lys… As tiener het ek af-en-toe daar gekom omdat my niggie en haar gesin daar gewoon het, so ek het gelukkig ook die mooi Standerton van weleer gesien. Deesdae ry ons af-en-toe daar deur as ons die N3 wil vermy, maar ek is gewoonlik spyt elke keer wat ons dit doen.
LikeLiked by 2 people
Ek was nog nooit weer daar nie, Dries. Dit was ‘n netjiese dorp. Ek kan glo dit lyk sleg, soos al die ander plattelandse dorpe. As jy ‘n riller wil sien, moet jy deur Belfast ry. Ek wil sommer huil as ek daar kom!
LikeLiked by 1 person
Jy is reg, Dina. Belfast, of watookal die naam nou is, lyk woes. Vir my was dit nou weer nooit n mooi plek nie so ek wou in alle geval altyd huil as ons daardeur ry, maar nou…
LikeLiked by 1 person
Wat my vang is dat daar geen trots is nie. Wanneer jou hoofstraat so lyk, met sy afgebreekte lamppale, al vir die laaste vier jaar en die gate.. ag nee ek het nie woorde nie. Het jy al die stadsaal gesien… dis ‘n murasie in ‘n vuil park. Ons ry nogal daar verby om ons munisipale rekening te betaal ( ons plek naby Dullstroom val ook onder Emakazeni…)Dis ook ‘n riller… die munisipaliteit!!
LikeLiked by 1 person
Jy het ‘n avontuurlike vroeë huwelikslewe met jou man gedeel Bytjie. Gelukkig is jy ‘n sterk vrou en jy is reg, mens kan gelukkig wees op baie plekke. Dankie vir die deel.
LikeLiked by 1 person
Ek is bly ons het toe nog nie kinders gehad nie. Dit sou ‘n heel ander storie gewees het.
LikeLike
Prachtige serie! En werd ontroerd bij je laatste twee regels: Dit wys net weer, mens kan op enige plek gelukkig wees. Dit hang af wat jy daarvan maak. Zo is het!
LikeLiked by 2 people
Dankie dat jy kom lees het en vir jou mooi kommentaar, Peter
LikeLiked by 1 person
Weereens, lekker gelees. Dankie!
LikeLiked by 1 person
Dankie, nou wag ek dat jy skryf oor daardie dam wat julle gebou het, Danie.
LikeLike
Een mens kan veel aan als hij jong is. Het zag er daar heel kaal en desolaat uit, maar je maakte er toch het beste van. Heel mooi om te lezen.
LikeLiked by 1 person
Lelikste plek waar ek ooit gewoon het! Maar ons moes die beste daarvan maak. Dankie vir inloer, Bea.
LikeLiked by 1 person
Hierdie storie herinner my aan ons aankoms in Mmabatho voor daar selfs paaie was. Die stof, die modder, die aanhoudende bouery … tog het ons baie goeie vriende daar gemaak!
LikeLiked by 1 person
Jy moet ook bietjie daaroor skryf, Anne. As mens so terugkyk, besef mens dis geskiedenis. Dis eintlik nodig dat dié wat kan onthou, die stories vertel, anders gaan dit verlore.
LikeLike
Dankie – jy is reg. Mmabatho lyk nou so anders. Toe ons daar gebly het was dit net veld end stof storms.
LikeLiked by 1 person
Ai Dina, jy laat my ook terugdink aan my vryery na my man en ons huwelik en lewe saam. Ek van Potgietersrus na Secunda. Weet presies van daardie modder en turf wat moeilik is om te bewerk. Ons het amper twee jaar in ‘n parkhome gebly wat sommer in rye gestaan het met die modder paadtjies tussenin. Was begin jare van Sasol II en III. Nuwe huis gekoop en alles kon uitkies was heerlik. Die breek van die grond was ‘n reuse werk.
LikeLiked by 1 person
Dis nou interessant dat ons dieselfde tipe ervarings gehad het. Dit was die dae toe dinge nog gedoen is met spoed, beplanning en vooruitsig.
LikeLike
Jy praat so, My man het by Sasol II gewerk en toe begin hul met Sasol III en hy was gewillige ou om weer in te spring en te help met opbou nadat hy Sasol II belewe het. Hul het tot 16 ure gewerk per dag. Dit was sy lewe want hy was nie ‘n ou wat baie slaap nodig gehad het nie. Sug en dit vir ‘n pas getroude vroutjie wat nie meet skoolhou nie. Sieldodend. Sommer na drie maande my naam gaan ingee om weer skool te hou, haha.
LikeLiked by 1 person
Dit was met ons ook so… oortyd, naweke, vakansiedae… nooit ‘n ruskans nie. Gelukkig was ons ‘n paar vrouens wat saamgekuier het, want almal was in dieselfde bootjie.
LikeLike
Ek nie, was op my eie eerste ruk want meeste om my was net mans wat aanhoudend gewerk het. Toe ek weer begin skoolhou het dit beter gegaan met nuwe mense en dinge(was toe nogal onwetende verwagtend gewees ook)
LikeLiked by 1 person
Ek geniet jou onthoue. Die hoëveld se turf en koue is iets om te beleef.
LikeLiked by 1 person
Jip, dis ‘n ander wêreld daardie. Dankie dat jy kom lees het.
LikeLike
Ons het weer van George na Middelburg Transvaal getrek in my St 7 jaar Het ook in die karavaan park gebly tot ons ‘n huis kon kry, dit was in JULIE!
LikeLiked by 1 person
Oe en Middelburg kan self koud wees in die winter, veral in ‘n karavaan! Dankie vir inloer, Aletta.
LikeLike
😊
LikeLiked by 1 person
Don’t know why WP doesn’t translate Afrikaans any more…
Was that you in the first picture?
LikeLiked by 1 person
Oh, I am so sorry about the translation. Some people use Google translate. This is a story about our early life as a freshly wedded couple and our adventures in construction camps for the building of dams in SA.
Yes that was me in the photo in a caravan, where we had to live for three months. Hubby is in the other photo.
LikeLiked by 1 person
I thought that would be hubby. So you guys built dams? Nice.
LikeLiked by 1 person
Jip, hubby was a civil engineer and worked for the department of Water Affairs.
LikeLiked by 1 person
A very nice and important job. Water is so important in Africa… 👏🏻
LikeLiked by 1 person
Kosbare fotos, wat herhinneringe terugbring. ❤️
Wordpress het ‘n “Translate widget” wat ek gelukkig lank gelede ingesit het, voor hulle gekom het met hulle “Blocks”
Nou kan ek nie die ouses verader of nuwes insit nie.😞
Ek gebruik wel “Chrome se Translate Extension” want ek self moet soveel blogs vertaal.
LikeLiked by 1 person
Dankie dat jy ingeloer het, Linda. Ek waardeer dit.
LikeLiked by 1 person
Lekker gelees hieraan. Die woorde kleef aan my soos turf grond. Wil net graag ‘n feitelike regstelling maak. Die byskrif onder die eerste foto moet lees: Die karavaan is nie regtig so vaal nie. Dit kom valer voor want dit word gekontrasteer met die mooi jong nooi.
LikeLiked by 1 person
Hehe, daardie nooi was meer as 40 jaar gelede… lyk nie meer dieselfde nie, maar voel darem dieselfde.☺️😁
LikeLike