Verhaal van ‘n besondere hond…Oubaas (April 1977-April 1990)

Hy was slegs drie maande oud toe hy per trein in ‘n houtkrat op Standertonstasie aangekom het. Hy is iewers op ‘n plaas naby Theunissen in die Vrystaat gebore en ons het hom vir R30 gekoop. Hy was net kop en kloue en maer van die wurms en ons was aanvanklik baie teleurgesteld. Na ontwurming en goeie voeding het hy pragtig begin word en min het ons besef, wat ‘n besondere hond hy sou word.

Oubaas, drie maande oud… Standerton Junie 1977.

In Julie 1977 het ons verhuis na Klein-Letaba, waar manlief die plaaslike ingenieur van die nuwe Middel-Letabadamskema was. Oubaas was in sy element, want die oop ruimtes was sy kos en hy het orals saam met sy baas gegaan… soms agter op die bakkie en ook lang ente saam met die bakkie gedraf, totdat hy superfiks was.

Sy gunsteling tydverdryf was om te swem in die Klein-Letabarivier, wat naby ons huis verby gevloei het. Dit was nie ‘n standhoudende rivier nie en in die droë somermaande het hy in die poele baljaar.

Oubaas saam met Cheeky en Trixy, ons buurman se twee Foxterriërs.

Somtyds na groot reën, het die rivier woes afgekom en dan was hy in sy element agter stokke in die bruisende waters aan. Ek het niks daarvan gehou nie en was altyd bang dat hy sou verdrink. Tog het hy elke keer uitgekom met ‘n stok in sy laggende bek.

Oubaas in die skuimende water van die Klein-Letabarivier..November 1977.

Soos wat hy ouer geword het, het hy allerhande toertjies begin doen. Elke toertjie het begin met: ”Dink my hondjie nie jy moet“…dan volg die opdragte: “gaan lê, rol op jou rug, gaan drink water, pas die baba op”, ens. Dit was geen stemverheffende bevele nie, bloot praat soos met ‘n mens. As hy wou water drink het hy doodstil langs die buitekraan gaan sit en wag totdat dit oopgedraai word en dan lustig die water in sy keel laat afloop. Hy het selde uit ‘n bak gedrink.

Hier was hy uitgegroei… ‘n jaar en ses maande oud en in topkondisie. Oktober 1978.

Hy was wonderlik lojaal en as iemand naby my kom het hy op bevel my beskerm..grommend en met oë wat geel word. Met kinders en in die familiekring, was hy baie saggeaard en daar was nooit enige voorvalle nie.

My susterskinders met hul eie hondjie (ook Oubaas) by ons Oubaas…19November 1978.
Hy was altyd in elke foto, of mens hom daar wou hê of nie!
Hy het ons babaseuntjie soos ‘n kleinnood opgepas.
Orals agter hom aangedrentel. (Februarie 1980)

Terwyl ons op Klein-Letaba gewoon het, was Suid-Afrika steeds in ‘n staat van oorlog en F is opgeroep vir kommandodiens. Hy moes ses weke lank ‘n hondehanteringskursus bywoon. Daar aangekom, het die weermag ‘n Rottweiler aan hom toevertrou vir die opleiding. Van die ander kursusgangers het hulle eie Rottweilers saamgebring en toe F nie met die vreemde hond kon klaarkom nie, het hy aansoek gedoen om Oubaas te gebruik.

Aanvanklik was almal vreeslik skepties en het hom Plaashond gedoop. Dit was egter gou duidelik dat Plaashond nie sommer ‘n gewone hond was nie.

Dwarsdeur die kursus het hy stof in die ander honde se oë geskop. Hulle moes ses voet mure klim, deur tonnels en pype kruip, aanvalswerk doen, op smal planke loop en nog baie ander dinge. Saans het Oubaas vodde saam met F op sy kampbed neergeplons. Mens en dier was een.

Die ander kursusgangers, wat doerie tyd R130 vir ‘n Rottweiler betaal het, het gereken Oubaas was ‘n “bargain” teen R30! Die uiteinde van die kursus was dat F en Plaashond die hoogste punte behaal het. Plaashond het 100% gekry!

Die rapport… die teorie was F se bydrae en die prakties was Oubaas s’n!

Ongelukkig het Oubaas se muurklimmery later baie probleme veroorsaak, want ‘n energieke viriele weermagopgeleide hond laat hom nie deur mure stuit nie.

Van dambouers het ons padbouers geword en na Ladysmith in Natal getrek. Toegekamp in ‘n kleiner erf as waaraan Oubaas gewoond was, het hy kort-kort ontsnap en by die plaaslike laerskool gaan speel met die kinders…hy was allemansvriend as ons nie naby was nie!

Met sy buite-die-erf-uitstappies, is natuurlik vele klein Oubasies en Ounooitjies ook geskape. Die dag toe ons van Ladysmith af moes trek, Oosrand toe, was die meubelwa al gelaai en ons motor ook. Oubaas was net weg en F het gedreig dat ons sonder hom gaan ry. Ons het die hele dorp toe al plat gery op soek na hom. Gelukkig kom die posman daar verby en toe ons vra of hy so ‘n hond gesien het, kon hy ons die presiese adres van die romantiese eskapade gee.

Die meubelwa was al om die draai toe ons die rondloper se wittebrood wreed kortknip en hom in die kar boender, Johannesburg toe. By ons nuwe adres het hy hom nie veel beter gedra nie en Don Juan het baie nasate agter gelaat.

Op ‘n stadium het ek gereeld groot vleisbene op ons grasperk sien lê en kon nie dink waar dit vandaan kom nie. Ons plaaslike predikant het lig op die saak gewerp en vertel hoe hy Oubaas bo van die slaghuis af sien kom het, met ‘n reusagtige been in sy bek. Toe hy nog wonder, spring hond se kind gemaklik oor die sesvoet muur in ons erf in. By nadere ondersoek het die slagter erken dat Oubaas elke dag kom regstaan het vir ‘n been.

Wanneer hy op ‘n romantiese uitstappie was, het hy maklik ‘n hele paar dae lank verdwyn en later in ‘n gehawende toestand teruggekom. Eenkeer het F hom uit iemand se erf gaan haal en die vrou het vir hom gesê: “He sleeps with my dog“. F het hom huis toe gebring, hy het ‘n hele bak water opgeslurp en woeps oor die muur gespring terug na waar die romanse was.

Die mooiste ding wat ek van Oubaas onthou, is die dag toe hy my peuterdogtertjie gekeer het om in ‘n besige straat in te hardloop. Ons tuinhekkie het oop gestaan en ek het my rug net vir ‘n oomblik gedraai, toe ek uit die hoek van my oog sien hoe Oubaas my dogtertjie stoot met sy snoet. Sy het sowaar uitgegaan en was oppad om in die straat in te waggel op haar kort beentjies! Ek het yskoud geword en is vandag nog dankbaar teenoor hom.

Altyd saam met die kinders, om ‘n wakende ogie te hou. Die baba in die waentjie is die een wat hy met sy neus uit die straat uit gestoot het.

Ouderdom het sy tol begin eis en die muurspringery het Oubaas se heupe aangetas. Soggens het hy gesukkel om op te staan en een koel Apriloggend het ek besef dis nou tyd. Ek en my huishulp het hom saam gedra tot in my motor en ek is veearts toe. Ek het by hom gestaan totdat hy sy laaste asem uitgeblaas het….

Oubaas in sy gryse ouderdom, met oë wat al dof geword het.
Sy gunsteling lê-posisie op ons agterstoep.
Op sy mooiste!

Oubaas ons mis jou nog elke dag en ek is bly dat ek jou storie kon deel.

Geldwassery op ‘n Maandagmôre.

Deesdae heers daar soveel onheil in ons droewe land. Dis weggesteekte geld in rusbanke, vuurpoele wat met operamusiekbegeleiding aan ons opgedis word, bewilliging van miljoene rande vir ‘n vlagpaal, dertigmijoen vir ‘n nuwe simfonie-orkes,(terwyl daar reeds baie orkeste is wat op hul eie moet swoeg om kop bo water te hou) die stigting van ‘n tweede ESKOM ( terwyl die eerste een besig is om te sink) en, en en…

Met dit in gedagte, besluit die inwoners van ‘n sekere woonbuurt aan die Oosrand, om die voorbeeld van ons kripvreterpolitici te volg. Wat is ‘n paar gewaste honderd Rand nootjies tussen familie en vriende dan tog?

Al verskil tussen politici en genoemde inwoners, is dat die Maandagmôregeldwassery onbepland en die gevolg van ‘n fratsongeluk was.

Perdeby sit rustig in die sonnetjie en vererg haar vir al die boewe, skelms en korruptes (versamelnaam vir die gespuis is politici), toe sy wreed uit haar donker mymerings geruk word. ‘n Harde plons en ‘n goeie paar kragwoorde van die swembad se kant af, laat haar vervaard opspring om ondersoek in te stel.

‘n Druipnat wederhelf kom snakkend na asem, aangehink. Met ‘n groot gesukkel word alle sopnat klere afgestroop Onthou dis winter en mens het baie aan…trui, pet, hemp met baie knope, belt, denim wat vassuig ( het jy al ooit haastig uit ‘n nat denim probeer klim?) kouse, tekkies, onna die lot. Intussen klappertand die slagoffer van die koue en Perdeby stoot hom sonder seremonie onder ‘n warm stort in.

As mens ‘n fratsongeluk beleef, bly ander onverwagte dinge ook in die slag. Saam met die gewaste banknote in ‘n beursie, het ‘n selfoon en I-pad ook ‘n duik gevat in die ysige water. Gelukkig was daar ‘n net oor die swembad, want ‘n totale wegsinking sou beslis groter skade veroorsaak het. Genoemde huisgenoot wat die plons oorleef het, is nou oortuig dat die net waaroor hy so skepties was, beslis werk…was bietjie ‘n koue onsmaaklike manier om uit te vind.

Die I-pad het die gees gegee, maar die selfoon het niks oorgekom nie, want die slagoffer het so te sê op die water geloop.

Die gewaste banknote is nou weer veilig waar hulle hoort en het ongelukkig nie belastingvry vermeerder nie!

,

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Picture Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Writing - Photography - Lifestyle

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +

%d bloggers like this: