VVVTT Towerinwêreldtoer. Hoofstuk 4 deel 1.

Hierdie hoofstuk vorm deel van die uitdaging vir Afrikaanse bloggers wat as die Towerinne bekend staan. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar, onverklaarbaar. Maar nie vir die Towerinne nie.

As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die eerste hoofstuk te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.

Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel https://fresh.inlinkz.com/party/935a80f8f1d64f4f8f4a491bb1abb030

Sou jy graag deel van hierdie avonture wou raak en self ‘n hoofstuk saamskryf, kan jy dit ook in die kommentare noem.

Die V(Vlieënde)V(Virus)V(Vlugtende)T(Towerin)T(Tent) ruk en skud toe ek (Perdebytjie) die Kwien op die muntstuk, se neus vryf. Sy moes beslis ‘n niesbui gehad het, maar gelukkig stabiliseer die tent en ons vlieg op ‘n gemaklike spoed deur die lug, oppad na Perreby se gunsteling plek…Namibië!

Die tent maak ‘n sagte landing in die droë Hoanibrivierbedding. Voordat die tentflappe behoorlik oopgaan, gil die klomp Towerinne van verbasing want ‘n pragtige leeuwyfie kom doelgerig op ons afgestap om te kyk watter vreemde voorwerp in haar domein geland het…IMG_8059Gelukkig het ons towertent ‘n selfbeskermende funksie en verander in ‘n lekker digte bos. Mevrou leeu stap rustig verby.

Net toe almal dink dis veilig om uit te klim, gil Bondels waarskuwend, dat daar nóg ‘n leeu is, dié keer, ‘n befoeterde kraagmannetjie, wat ons kwaai aangluur…IMG_8162

Die towertent lig outomaties op en vlieg verder tot by ‘n rotsagtige wal, langs die Hoanibrivier. Terwyl ons so in die lug hang sien ons ‘n pragtige gesig…’n leeuwyfie wat gemaklik teen die krans afklim…IMG_8218

Die Towerinne snak na hul asems toe hierdie toneel hom afspeel in die Dubispoort, net ‘n entjie verder…IMG_8356

Asof dit nou nie vir genoeg opgewondenheid sorg nie, sien ons hierdie ou olifantbul rek en strek, om blare van ‘n Anaboom af te stroop…IMG_7896

Steeds is dit nie die einde aan verrassings nie. Oor die heuwel verdwyn twee kameelperde…IMG_8419

Uiteindelik na ‘n opwindende dag, land ons tent op ‘n verlate plek, waar netjiese tente met gerieflike slaapmatrassies op ons almal wag..IMG_8018

Die spulletjie kreun en steun om by die tente in en uit te kruip, maar na ‘n paar knertsies  Franjelico en ander saamgeflansde tuisgebroude konkoksies, om die lieflike kampvuur, raak dit al hoe makliker…IMG_8031Hulle kom nie eers agter dat daar geen geriewe is nie en plons later net so vuil neer op die slaapgoed, ala Towerinstyl..enige iets is moontlik!

Die volgende oggend sweef ons tent vroeg-vroeg Noordwaarts na Purros. Die Towerinne sien taamlik gehawend daaruit, maar toe hulle hoor daar is ‘n dorp en ‘n winkel, helder almal sommer dadelik op. Soos net vrouens kan, bespreek hulle opgewonde wat hulle alles gaan koop en hoe hulle lekker gaan stort by die dorpshotel. Perdebytjie lag skelmpies in haar mou, want dít is die winkel…IMG_8058en van ‘n hotel met stortgeriewe, is daar geen sprake!

Die naaste wat ons nou aan water kom,  is die yl watertjies van die Hoarusibrivier. Hier wag ‘n vier by vier voertuig op ons en die tent word netjies weggepak. Die verskeie warm en koue lugstrome oor die woestyn, sal ons tent in ‘n spiraal boontoe suig, of laat neerplons met nare gevolge…IMG_8066

Ons ry uit die Hoarusbrivier Noordwaarts en die omgewing verander na dor en onherbergsaam.Die volgende toneel laat die Towerinne na hul asems snak. Dit staan bekend as die kleikastele…IMG_8539Daar word vermoed dat die Hoarusib miljoene jare gelede ondertoe geblok is en hierdie klei-neerslae so gevorm het.

Skielik sien ons dit…IMG_8076Ons volg hierdie olifantspore vir meer as dertig kilometer, voordat dit terugdraai rivier toe. Daar is absoluut niks, maar hy stap!

Fantastiese tonele soos hierdie…IMG_8085

en hierdie…IMG_8557

volg. Om ‘n draai kom ons af op hierdie interessante rots, wat bekend staan as Die Ysbeer…IMG_8112

Naderby lyk dit so…IMG_8114

Verskeie kopsere as gevolg van die vorige aand se mildelik vloeiende voggies, roep nou om koffie en ontbyt. Dis net hier in ou Ysbeer se skaduwee, waar ons afpak vir ‘n boerelafenissie…IMG_8118

Die verlatenheid en stilte is onbeskryflik…IMG_8124

Na ontbyt ry ons verder, kilometer na kilometer. Almal raak al hoe stiller, want skielik tref die besef hoe nietig die mens in werklikheid is. Uiteindelik is daar ietsie van die beskawing in sig…toe net ‘n naambordjie en ‘n uitsig sewe dae in die toekoms in…IMG_8138

Hier moet ons regs draai, want niemand word sonder ‘n gids in die Skedelkuspark toegelaat nie. Skielik is daar ‘n beroering onder die Towerinne. Frannie beduie opgewonde dat doer ver iemand onder ‘n boom sit. Nou babbel dit opgewonde en Toortsie haal dadelik een van haar banting broodjies uit ‘n Tupperbak, om vir die arme siel te gee. Die ander klomp bespiegel nog, waarom iemand op so ‘n verlate plek sal sit onder die enigste witgatboom in honderde kilometers…IMG_8150

Dis toe al die tyd een van Kaokoland se geheimsinnige klipmanne…IMG_8142

(Word vervolg)

NS. Die verhaal is suiwer verbeelding, maar die foto’s is in ‘n kronologiese volgorde van ‘n werklike toer deur Kaokoland en Hartmannvallei.

 

 

Hoofstuk 9 …Coronamouna.


Hier is die negende hoofstuk van ‘n nuwe bloguitdaging : Die storie oor die Towerinne en Coronamouna. Soos gewoonlik by ‘n vervolgverhaal, moet almal wat wil deelneem ‘n inskrywingsvorm voltooi – kry die vorm hier: https://forms.gle/spN3EwV1kt5wGW9F9

Bloggers sal skryf in die volgorde waarin hulle inskryf – kyk na HIERDIE vorm (spreadsheet) wat outomaties op datum gehou word om te sien wanneer dit jou beurt is om te

NB! Hierdie uitnodiging is oop vir alle bloggers op alle platforms – ons soek altyd “nuwe bloed” om deel te neem aan ons uitdagings. As jy in Afrikaans skryf, sluit gerus aan by die Towerinne en neem deel aan hulle avonture. As jy nog nooit deelgeneem het aan een van ons uitdagings nie, besoek die volgende skakels Lê-Jou-Eier: Reëls en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? Laasgenoemde blogpos bevat ook al die onderwerpe en skakels na vorige uitdagings.

Onthou ook die addisionele reëls vir vervolgverhale – (1) wag jou skryfbeurt af, (2) wanneer ‘n nuwe blog geplaas word en jy is volgende aan die beurt – gee net eers ‘n dag of wat kans sodat almal die blog kan lees en kommentaar lewer voordat jy jou bydrae plaas en (3) plaas jou bydrae binne die volgende drie tot vyf dae sodat ons nie die vloei van die verhaal belemmer nie.

https://fresh.inlinkz.com/p/c0342166738644c9875c54b4f5669017

Die volgende berig verskyn vanoggend in die Adder, plaaslike koerant van Pofadder:

Die situasie op ons buurdorp, Rebusfontein, lyk uiters bleek. Ons verslaggeefster van virusse en bonatuurlike verskynsels, me Broodina Barber, berig dat verskeie faktore daarvoor verantwoordelik is.

Me Barber, wat klandestien poseer, as ene me Corona, het haar tuisgemaak in ‘n verlate houthuisie, net buite die dorp. Vandaar kan sy ongestoord die pettalje dophou.

Daar is gerugte van ‘n moesieneusheks, wat kekkellaggend op ‘n besem rondvlieg. Sy koester glo spinnekoppe wat sy kan toor om so groot soos huise te wees. Klaarblyklik is twee van die inwoners gemesmeraais deur só ‘n reuse wyfiespinnekop. Hulle lê tans soos babatjies, in haar harige voorpote en kyk met benewelde bewonderende oë op na die dierasie, terwyl sy met ‘n grieselrige taai tong, haar lippe smakkend aflek.

Etlike van die inwoners hardloop wild en wakker rond met bottels Doom en daar heers glo algehele chaos. Lorenzo, ‘n buitengewoon aansienlike spierpaleis en die enigste manlike inwoner op Rebusfontein, weet nie meer herwaarts of derwaarts met die dorp se paniekerige vrouens nie. Camilla, die seksieste pop in die suidelike halfrond, het nou ‘n goeie verskoning om aan Lorenzo se magtige biseps te klou, terwyl sy sagte kermrige murmelgeluidjies in sy oor maak. Camilla is ‘n ou kalant, opgewasse om enige situasie uit te buit.

Ons verslaggeefster het later per ongeluk laat val dat sy by aanblik van hierdie romantiese toneel, gelyktydig geril het van pure jaloesie én lekkerkry.

Meeste van die dames is ook sterk onder die invloed van verskeie saamgeflansde drankies, wat tydens grendeltyd orals op die swartmark te koop was. Me Barber het ‘n nota hiervan gemaak, vir latere optrede teen die sondaars.

Volgens alle aanduidings, is spinnekoppe verantwoordelik vir die klein onsigbare stekelrige balletjies, wat tans die hele mensdom gevange hou. Dit gaan ‘n groot ingryping kos, om hierdie netelige situasie om te keer. Die Rebusfonteininwoners is teen hul wil geforseer om op te tree, want die wêreldekonomie en die hele Pofadderdistrik is lamgelê deur hierdie klein pestilensie.

Skielik sonder enige aanduiding, verander die hele atmosfeer. Die dorp se spinnekopvanger het vanuit die niet opgedaag en slaan ‘n reuse Cosulkênfroetbottel bo-oor die spinnekop. Die harige gedierte skrik só, dat sy haar twee gevangenes in die lug opgooi, voordat die bottel op haar toeslaan. Hulle trek soos vrot velle deur die lug, maar die dorp se spierpaleis vang een in elke arm en sit hulle saggies neer. Camilla is egter saam met die spinnekop in die bottel vasgevang en nou is daar werklik ‘n dilemma.

Ons suidelike seksieste pop, laat egter nie op haar wag nie. Sy pluk haar bloedrooi stiletto’s uit en slaan met mag en mening die spinnekop se ses oë uit met die spykerhakke. Die stomme arachnida sterf daar en dan ‘n gruweldood en die dorpsinwoners juig en is skielik almal nugter.

Me Barber het gisteraand voor druktyd uitasem in haar knallende blou rokende Uno, na ons kantoor aangejaag gekom, sodat ons vir u, ons getroue lesers, vanoggend, die scoop van die dekade kon lewer.

Hierdie is lank nie die einde van hierdie bonatuurlike gebeure nie en ons noop u om hierdie koerant fyn dop te hou vir verdere verwikkelinge.

Klem de Kaak. (Redakteur)

Woordnoot moet die storie verder van hier af neem.

Blouwildebeeste…

is van my gunsteling diere om te fotografeer. Daar is altyd aksie en hulle kleur kom pragtig geaksentueerd uit op ‘n foto. Ek plaas vandag ‘n paar van my gunstelinge…

_MG_0071

_MG_0107

_MG_0104

_MG_0100

_MG_0094

_MG_0105

_MG_0126

_MG_0127

Die ligte foto’s het ek in “High Key ” geneem. Dit beteken ek het my ligmeter heelwat ligter gestel en dit beklemtoon die effék van afgeëtstheid mooi.

 

Kgalagadistories 2

Bertie Bleeksingvalk het vanoggend ‘n heerlike stukkie ontbyt opgepik…IMG_2535

Wat nou gemaak met hierdie stukkie wriemelende spaghetti?IMG_2530

Nee man, moenie so rondkrul nie…IMG_2532

‘n Stewige houvas en ‘n skerp klou, sal hom in bedwang hou…IMG_2533

Babette Bleeksingvalk kom loer gou wat is op die spyskaart…IMG_2547

Saam bekyk hulle die maaltyd, met gourmet kennersoë…IMG_2546

Hmm ja, hy is oorlede en steeds heerlik vars. Bertie besluit dis ‘n voortreflike geskenk om Babette se guns mee te wen…IMG_2545

Grootmeneer gaan sit hy waaksaam die  wêreld en dophou, terwyl Babette derms uitryg…IMG_2561

Klaar gesmul, nou wag Bertie net vir die ja-woord…IMG_2557

Babette steur haar nie aan Bertie nie, draai net haar rug op hom en tuur ook die verte in. Dis nie aldag dat jy verniet ‘n maaltyd in die bos kry nie!IMG_2562

NS. Dis heel waarskynlik ‘n jong voël wat steeds deur sy ma of pa gevoer word, maar wie bederf nou ‘n romantiese storie met feite?

Mooiste name.

Tydens goeie reën spring allerhande verrassings op uit die dorre aarde van die Kgalagadi. Die pragtige Afrikaanse name is ewe beskrywend en uniek. Die mees sigbare rankplant in die Kalahari, is die duwweltjie(afgelei van duiweltjie).Ook bekend as dubbetjie (Tribulus Zeyheri)…IMG_2962

Die springbok, volstruis en waaiersterteekhoring vreet die blomme, wat van naderby so lyk…_MG_0499

Verskeie ruspes en goggas vreet ook die plante…IMG_2980

Honderde van hierdie plante het vanjaar, na goeie reëns, hul verskyning gemaak.Dit staan bekend as die gifbol (Nerine lacticoma)…IMG_2220

Die blomme is baie giftig vir diere…IMG_2518

Swartstorm (Senna italica) lyk soos ‘n kers in die sand…IMG_3585

Brandboontjie/Bokboontjie (Sesamum triphyllum) laat jou brand as jy daaraan vat…IMG_3562

Duiwelsklou (Harpagophytum procumbens) het vieslike dorings. Wanneer die blare met koue water in jou hande stukkend gevryf word, gee dit ‘n seperigheid af, baie beter as enige fabriekseep…_MG_9919

Kalaharisampioene ( Sommer my eie naam) het orals in die veld opgeslaan…IMG_2779

Tsammas (Citrullus lanatus) is tydens droogtetye die hoofbron van water. Dit bestaan uit omtrent 90% tot 95% vog…_MG_0498

Gemsbokkomkommer (Acanthosicyos naudinianus) smaak baie bitter, maar word tog deur springbokke, ratels, damaramolle en jakkalse gevreet. Die leë doppe gaar water op tydens reënval en is ‘n waterbron vir insekte en kleiner soogdiere…IMG_3587

Wilde-ertjie/Oorpynpeultjie (Cleome angustifolia)…  IMG_3617

Driedoring (Rhigozum trichotomum) het nie dorings nie, maar elke takkie se eindpunt, vertak in drie verskillende takkies…IMG_3361

Katstert (Hermbstaedtia fleckii) is loshande die mooiste vir my…IMG_2966

_MG_0583

Besembos kan goed gebruik word…IMG_3822

 

 

 

Kgalagadistories.

Sagrys Swartkraai is op ‘n missie. Ewe parmantig stap hy in die pad af en bekyk die wêreld…IMG_3234

Sy swart manelpak blink in die son en ewe breëbors beplan hy sy volgende aanslag…IMG_3232

Hy kyk stip en nael sy een oog vas op sy daaglikse prooi…IMG_2906

Dis wat die karnallie sien…twee voertuie langs die pad…IMG_2904b

Hy soek sy prooi versigtig uit en vlieg ewe kontant tot op die voertuig se enjinkap…IMG_3269

Deur die gespikkelde ruit, maak hy sy stem dik teenoor die twee verskrikte insittendes…IMG_3252

Kom nou julle twee! Hoe lyk dit met ‘n happie van daardie heerlike koffie en beskuit waaraan julle so vraatsig knaag…IMG_2907

Intimidasie is al wat nou gaan werk..ek kyk vir julle!IMG_3245

Miskien sal ‘n sagter aanslag werk…IMG_3254

Nou goed dan, ek het heeldag tyd en ek sit heerlik op die windskermveërs. Ek hoop net nie die insittendes kry ‘n plan om my van die ruit af te vee nie…IMG_3259

Na langer as ‘n halfuur se kyk deur die ruit, verskeie intimidasietegnieke en smeking, blaas Sagrys ewe manmoedig die aftog. Miskien is hy môre gelukkiger…IMG_3233

Gog+ga=Gogga

Ek is mal oor goggas en al ken ek net enkeles se name, keer dit my nie om hulle raak te sien en te verwonder aan hul prag nie.

Ek plaas ‘n reeks van drie “skoonhede”, wat ek in die Kgalagadi raakgesien het…IMG_3814

Dié torretjie is ook goed gekamoefleer en met ‘n klipharde doppie as beskerming, oorleef hy ook goed…IMG_3812

Die Kgalagadi was oortrek met geel blomme van die Dubbeltjieplant. Honderde van hierdie goggas het heerlik gesmul aan die geel lekkerte…_MG_0507

Kyk die pragtige hartvormige bolyfie met rooi kolletjies…rooi is ‘n afskrikmiddel vir voornemende vreters en die kolle lyk soos oë, wat vyande raaksien…_MG_0505

_MG_0504

Loshande my gunsteling! Hy is piepklein, omtrent so groot soos my wysvinger se nael…_MG_0684

Sy rug is bedek met sandkristalle wat hom goed kamoefleer…_MG_0689

Sy verdedigingsmeganisme is om dood-dood te speel. As mens aan hom raak rol hy op en lyk nes ‘n sandkorrel…_MG_0676

Wie dink nog dat goggas vervelige wesens is?

 

 

Op die hitte van die dag…

besluit Koggelina Koggelmander dat dit tyd is om nes te maak onder ‘n klip…_MG_0573

Sy duik in die gat in en begin skrop dat die klippe spat…_MG_0570

Dis harde werk, veral as die sand aanhoudend terugval in die gat…_MG_0569

Nou is daar nog die kwessie van hierdie klip…_MG_0567

Dit moet dien as beskerming vir die eiers, maar dit val heeltyd in die gat in. Laat ek net bietjie dink…_MG_0564

Probeer weer…_MG_0561

Hierdie klip gee my nou regtig ‘n kramp…_MG_0540

Knyp oge toe, want die sandkorrels spat orals…_MG_0539

Skoon uitasem, vat net ‘n blaaskansie…_MG_0556

Probeer uit ‘n ander hoek…_MG_0552

Skrop dat die sandkorrels so spat…_MG_0549

Nee wat, ek gaan soek liewer ‘n ander gat…_MG_0579

Ek vermoed hierdie is ‘n grondkoggelmander. (Agama aculeata). Dries, help hier asseblief.

 

In die natuur moet mens…

wakker wees!

Ek sit heerlik op die stoepie van ons Kieliekrankiehuisie (wilderniskamp wat slegs tien mense huisves) en uitstaar oor die pragtige rooi duine van die Kgalagadi. Na goeie reëns, is die duine oortrek met gras en veldblomme. Ek is half in ‘n beswyming van die hitte (sowat 38°C elke dag) en my ooglede wil-wil toe val. Skielik sien ek ‘n beweging uit die hoek van my oog. Langs die houtreling van die stoep, is ‘n digte struik, waarin die voëltjies heeltyd baljaar.

Ek kyk, maar o wee… dis ‘n hele paar meter groter as die geveerdes!IMG_3852

Ek skrik nie regtig vir slange nie, maar ‘n Kaapse kobra (Naja nivea) is nie jou speelmaat nie! Gewoonlik maak hulle bakkop as hulle skrik, maar hierdie slang was heel rustig en op ‘n missie…_MG_0793

Hy seil aanmekaar en patrolleer die struik van hoek tot kant…IMG_3853

Dinge raak nou bietjie warm vir my, veral omdat ta nou stoep se kant toe mik! _MG_0818

O nee! Miskien is dit nou ‘n goeie tyd om hakke te klap na ‘n veiliger oord!_MG_0782

Hy sit sy kop op die dwarsbalk en sy hele lyf val ondertoe uit die bos uit, maar hy klou met sy kop en soos ‘n wafferse gimnas, hys hy sy lyf tot op die hout!_MG_0820

Steeds steur hy hom nie aan my nie en ek bly op ‘n veilige afstand…_MG_0822

Hier kom hy…_MG_0825

Krul homself om die pale van die stoepafskorting…_MG_0827

Teen hierdie tyd is ek binne met die deur stewig toe!_MG_0831

Deur die glasvenster lyk die slang ekstra lank en daar is nie genoeg spasie om sy hele lengte te fotografeer nie…_MG_0832

Hy krul deur die koelsak, wat ek buite gesit het om droog te word…_MG_0830

Nou sommer onderdeur!_MG_0842

Gelukkig kry hy nie waarvoor hy gesoek het nie en verdwyn weer in die bos, nadat die kampbestuurder met sy slangstok hom verjaag het. Hy was op geen stadium agressief nie.

Feite oor die Kaapse kobra ook bekend as Geelslang: Hulle is bedags en vroeg saans aktief en vreet ‘n verskeidenheid prooi asook ander slange. Hulle sal in lae bome klim en voëlneste deursoek vir eiers en kuikens. Hulle eet verskeie knaagdiere en is dus nuttig om rot- en muisplae te beheer.

Ongelukkig is hulle baie senuweeagtig en dodelik. Die kop maak ‘n breë bak as dit gekonfronteer word en dan moet mens maak dat jy wegkom. Hulle spoeg nie. Die gif is neurotoksies en die dood word deur vinnige verlamming veroorsaak.Groot hoeveelhede teengif is nodig om die byt te behandel…dus is kanse op oorlewing op ver-afgeleë plekke, maar skraal.

Habitat: Dorre karoostreke, veral langs rivierlope tot in goed gedreineerde oop gebiede langs die suidkus. Verspreiding: Deur Kaapland, in die ooste tot by Oos-Londen en noord tot in Suid-Namibië, Botswana en die Vrystaat.