Verder Noordwaarts

Vanaf Khaudum, is ons verder tot in die Caprivistrook. Die hoor van hierdie naam was vir my altyd sinoniem met oorlog en vliegtuie wat saans opstyg by Waterklooflughawe, waar ek as kind gewoon het. Dit het herinneringe opgeroep van gebede aan “ons manne op die grens” en die stuiting van die “kommunistiese gevaar”en vriende wat jonk gesterf het in die koeëlreën van ‘n onsinnige oorlog.

Dit was heerlik om uiteindelik die ware plek self te sien, sonder al daardie oorlog-ellendes en geskiedenis van die verlede!Die Okavangorivier vorm die grens met Angola en dit het skielik vir my duidelik geword wat presies gebeur met die moerasvorming in die Noorde van Botswana. Hierdie magtige rivier stoot elke jaar op in die Kalaharisand en vorm duisende eilande in die Okavangodelta. Die diere- en voëllewe hier, is ongekend. Dis onmoontlik om dit te beskryf en elkeen moet dit op sy lewenslys sit om na die Okavangomoeras te gaan.

Ons het baie interessante mense ontmoet, wat “lodges” op die rivieroewer bedryf. By een van hierdie plekke woon ‘n ou met ‘n lang pluiserige baard saam met sy vrou en hy raak skoon in vervoering oor voëls. Sy boekversameling is reusagtig…rye en rye boeke net oor die geveerdes van die wêreld. Dis altyd ‘n openbaring om sulke mense te ontmoet..’n wandelende leeftyd se kennis en ervaring!

Daar naby is die Mahangu reservaat wat ook nou deel geword het van die wêreld se grootste oorgrenspark. Dis ‘n klein reservaat, waar geen oornagfasiliteite is nie. Wat ‘n pragtige plek!’n Groot gedeelte van die pad, loop langs die Okavangorivier en daar staan plate rietbokke, lechwe, zebras, olifante en verskeie watervoëls. Groot was ons opgewondenheid toe ons die mooiste swartwitpensbul te siene kry. Mooi was nog nooit lelik nie en die amper uitwissing van hierdie grasieuse dier, is ‘n klad op die mensdom se naam!Daar is ook ‘n kol met pragtige reusagtige kremetartbome.

Later is ons na “Popa Falls”. Die naam is bedrieglik, want dis nie ‘n waterval nie, maar wel waterversnellings, wat oor groot rotsagtige areas stroom..pragtig, maar mens moet bietjie klim en klouter om daar te kom.

Daarna het ons die terugtog na Swakopmund, ons ander tuiste, begin, deur allerhande agterpaaie te ry.

Goeie herinneringe

 Kremetartboom waaronder ons geslaap het, se “voetjies”

 Sikerettikamp die heel suidelike kamp in Khaudum

Die toilette (regs) en badkamer

 Oulike aanwysings op die deure

Die goed geventileerde badkamer   

 Die “opelug” kombuis

Ekke

Verlate en vergete

Pas terug van ons toer na die noorde van Namibië, wil ek ‘n paar gedagtes met julle deel. Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Behalwe vir die feit dat ons in ‘n wildernisgebied was waar ons in vier dae presies drie ander voertuie gesien het, was dit ‘n 4X4 roete vir spykerbaarde! Gelukkig was ons gids baie bedrewe en was ek geen oomblik bang nie.

‘n Ou se lyf is naderhand seer van al die heen en weer wieg en die feit dat dit vyf ure geneem het om sewentig kilos af te lê, (het darem tussenin gestop om wild en voëls te kyk) sit nie lig in elkeen se broek nie.

Die Khaudum reservaat is ‘n stukkie vergete wildernis, waar min mense kom. Dis in die Noord-Ooste van Namibië en het net twee kampterreine. Alles is erg verwaarloos, maar ons het dit verwag en was geestelik ingestel om geen water of geriewe te hê nie. Dus was dit ‘n heerlike verassing toe daar wél “badkamers” en toilette was!

Die toilet was heel gesellig. Die bak het nie ‘n deksel op gehad nie en as mens op die troon sit, word jy van bo-uit die bak gespuit met ‘n straal water…sommer ‘n “bosbidet”! Die stort was vol bye wat water kom soek by die druppende kraan en natuurlik steek een van die knape my toe in die voet. Gelukkig is ek nie allergies nie, maar my voet was die volgende dag pofferdik geswel.Die sparretjiesmure was ook lekker deursigtig en aan ventilasie op ‘n moeë warm lyf, het dit nie ontbreek nie.

Afgesien van die algehele verval, het die sien van die hoogs bedreigde Bastergemsbok, opgemaak daarvoor. Ons kon pragtige foto’s neem. Die bokke is ongelooflik sku en ons het vir ure geduldig sit en wag by watergate vir hulle om te kom drink. Daar was geweldig baie olifante wat heeltyd die water geannekseer het en dit moeilik gemaak het vir ander diere om te kom drink.

Een aand teen laatskemer, het ons aanskou hoe trop op trop olifante aangehardloop kom na die water. Met die son agter hulle en die stof wat uitslaan soos hulle hardloop, was dit ‘n ongelooflike gesig. Ons het naderhand opgehou tel toe ons by honderd kom. Die interaksie was verstommend. Elke nuwe groep aankomelinge het die ander gegroet deur met hul slurpe in mekaar se monde te voel. Die heel kleintjies is deur die opgeskote koeie beskerm en toe enetjie effens in die modder vassit, was daar gou een by om hom uit te stoot.Hierdie jong vroulike diere is nes agt tot tienjarige mensdogtertjies wat graag oor babas koer!

Ons het ook gesien hoe ‘n Geelbekwou ‘n duif vang, ‘n Jagarend met ‘n slang in sy bek en ‘n Witkruissperwer wat ‘n mossie kap. Die kersie op die koek, was ‘n rooikat , wat doodluiters oor die pad geloop het. Al is hierdie katsoort in die sestigerjare tot pes verklaar op plase, sien ‘n mens selde hierdie pragdier. In al die jare wat ons in die bosse rondploeter, is dit maar die tweede keer dat ons een te siene kry! 

Hoe meer ‘n mens daar buite kom, hoe meer wil ‘n mens dit doen. Dis soos ‘n verslawing..’n baaaie lekker een!

My hart is in Namibie

Daardie wye, droë stuk land, het my hart heeltemal gesteel. Ons het nou al heelwat van dié wêreld gesien en gaan nie rus voor ons nie omtrent alles wat daar is meegemaak het nie. Verlede jaar het ons Kaokoland gefynkam en dit was ‘n wonderlike ervaring, wat ‘n mens vir niemand kan oorvertel nie.

Ons is besig om voor te berei vir ons volgende toer wat môre begin! Ons gaan bo na die Noorde. Ons eerste besoekpunt is Khaudum, ‘n wildernisarea, waar ons veral gaan soek na die bedreigde Swart-wit-pense en Bastergemsbokke. Manlief gaan hulle skiet..met sy kamera en ek gaan net kyk! Hierdie geweste is bekend vir sy dik sand en moeilik rybare paaie. Ons het egter ‘n ervare gids, wat elke klip in Namibië al meer as tweekeer omgedraai het! Ons was verlede jaar saam met hom en het volle vertroue in sy vaardigheid.

Daarna gaan ons na die Caprivi en Popa Falls.Oral gaan ons maar tent opslaan en met ons eie water regkom. Dis wat dit so lekker maak. Ek los my horlosie, ringe, kamme, pommades en “make-up” alles by die huis. Tydens so ‘n toer, sluit ek my af van die buitewêreld en al die dinge wat “saak” maak. 

Dis die wonderlikste kopskoonmaak wat enige mens kan kry!

Sal meer vertel as ons terug is.  

Snaakse mense met vreemde uitkyk op die lewe

Ek sit gister in ‘n geselskap waar iemand vol bravade vertel hoe sy haar wynpapsakke dokter voor sy dit weggooi. Blykbaar het sy eendag gesien hoe ‘n bedelaar in haar swartsakke krap en toe die laaste droesempies uit ‘n leë papsak suig. Dit het haar woedend gemaak, want hoe durf hy aan hààr papsak suig, nogal uit hààr vuilgoedsak!

Nou het sy hierdie asemrowende gelykmaker uitgedink. Sy maak ‘n soutwatermengsel en spuit dit by die kraantjie in. In haar geestesoog verlustig sy haar aan die arme drommel, wat ‘n klein knertsie uit ‘n weggegooide wynsak neem, se ellende. Hel, ek het nie geweet ‘n mens kry sulke kleinlike mense nie. Raai wat? Hulle sit Sondae in die voorste gestoeltes van die kerk!

Wys jou net…godsdiens is nie ‘n waarborg vir deemoed, medemenslikheid, liefde, respek en al die ander kleims wat die kerk maak nie.

Vrouens se manier van kuier

Ek was vandag weer by my maandelikse leeskring. Ons is vyf vriendinne, wat ons lekkerste boeke saambring en dan onder mekaar uitruil. Daar word nie een spesifieke boek gelees en bestudeer nie. Ons boeke wissel van hygromans, outobiografieë, die nuutste boeke in Afrikaans en Engels, tot by geskiedenisboeke oor die Anglo-Boereoorlog…voorwaar ‘n wye veld.

Elkeen kry ‘n beurt om die boeke wat hy laas geleen het, vinnig te bespreek en aan te beveel of af te keur. Dan lewer jy kommentaar oor nuwe boeke wat jy in die poel insit. Dis georganiseerde chaos en ‘n buitestaander sal dink dis ‘n malhuis! Terwyl een praat oor sy boek, vertel ‘n ander een gou-gou ietsie waaraan die boek hom herinner. Kort voor lank is die hele storie op ‘n syspoor gerangeer.

Tussendeur hardloop iemand kombuis toe om tee en koek aan te dra. Deur alles heen word lief en leed en die nuutste skinderstories ook sommer in een asem afgehandel tussen die volgende ou se boekbehandelings deur. ‘n Mens moet kophou soos ‘n dronk weeluis om te weet waar ons nou trek. Een beleef ‘n blonde oomblik en dan help almal dink wat die vergete woord is..dis ongelooflik hoe almal net inval, gelyk praat, luister, eet, drink en nog steeds weet wat aangaan!

Ek dink dis net vrouens wat so kan kuier! 

Burokrasie, die mens se grrrrootste PYN

Hoeveel keer moet ek nog my vervalde motorlisensie hernu? Hoeveel keer moet ek weer gaan vir oogtoetse vir ‘n nuwe bestuurslisensie? Hoeveel keer moet ek belastingvorms invul? Hoeveel keer moet ek wéér my bankbesonderhede gaan Fika?

Al hierdie goed is elke jaar se storie, behalwe die bestuurslisensie…vyf jaar is egter ook TE GOU verby! Hierdie takies is die ergste dorings in Jan Alleman se vlees.

Behalwe dat dit ‘n permanente gat in my beursie laat, is dit lang rye wat getrotseer moet word, vieslik-ingewikkelde vorms wat mens moet invul (nogal in Ingels ook)…ek weet nie hoe voel iemand wat nie baie geletterd is nie! My nek gaan sommer in ‘n spasma in en ‘n soort angssweet tap onder my arms af, terwyl my wange bloedrooi bot soos ‘n ontploffing in ‘n kleurstoffabriek!

Natuurlik moet jy nie ‘n oog knip of reageer, wanneer een of ander geïrriteerde omie in die ry, rassistiese kommentaar lewer oor die diens nie.Ek skaam my gewoonlik dood, want die stem is dan nog so kliphard ook. Het hulle al vergeet dat die vorige staatsdiens maar net so vrot was?

 Burokrasie is maar wêreldwyd ‘n pyn wat nie wil weggaan nie. Ek onthou toe ek begin skoolhou het, kry ek my eerste salaris..KLEINGELD! Daarby ‘n formele brief, wat aandui dat ek geen kwalifikasies het nie en slegs vir drie maande mag werk. Wat het dan nou geword van al my met moeite-gewaarmerkte afskrifte van kwalifikasies, diplomas, sertifikate, getuigskrifte en al  die ander pampiere? Woedend en in my eer gekrenk, storm ek vol bravade daai onderwysdepartementsgebou in Pretoria.

Dit het alles niks gehelp nie. Ek was die goddelike dag daar, van bakboord na stuurboord gestuur. Dan is dit vloer een, kamer vyf, dan vloer sewe kamer drie, vloer agt kamer twee..nee ons gaan nou op “lunch”, kom oor ‘n uur terug! En die amptenare is suur, asynsuur en behandel my soos ‘n infantiel! Alles darem naderhand uitgesorteer is ek poegaai huistoe.

Raai wat? Volgende salaristjek, selle ou storie! Plus die volgende ses maande. Na baie gesukkel is die sakie opgelos en kom my eerste stel dokumente iewers te voorskyn! Wonder nou nog watter ou se stêre het my pampiere warm gehou.

Ek het nou al geleer, as jy enigsins met ‘n staatsdiensinstansie, bank of munisipaliteit “besigheid” moet doen, neem alles saam..ID, paspoort, kredietkaarte, foon- en klererekening, munisipalerekening, geboortesertifikaat, doopsertifikaat en les bes, jou tandheelkundige afdrukke en DNA! 

Blare wat mors

Hoekom is daar altyd mense wat kla as blare mors? Ek het nou al probeer om sulke mense te klassifiseer. Dis opvallend dat hulle meestal perfeksioniste is. Verder sorteer hulle onder die ouderdom vyftig plus, want hulle het grootgeword in ‘n tydperk waar daar nie veel notisie geneem is van die natuur se invloed op die omgewing nie.

Dis ook die tipe persoon wat maklik die spuitbottel nadertrek en al wat ‘n bewegende nie-menslike skepsel is, verdelg met ‘n nare wolk gaggagif.Ek veralgemeen ‘n bietjie, maar maak nogal so ‘n waarneming.

My skoonouers woon in ‘n aftree-oord en daar is alewig hewige rusies oor morsende bome. Gewoonlik is dit die arme bome wat in die slag bly. Ek kan nie glo, dat ‘n mens op daardie ouderdom nog wil kerm oor so-iets en dan ‘n boom wat soveel jare neem om te groei, se lewe wil kortknip, sodat jy jou laaste jare “blaarvry” kan lewe! Selfsugtig se moses!

In ons plaaslike koerant is daar gedurig briewe van morpotte wat die stadsraad uitskel oor sypaadjiebome wat pla.Party het selfs die vermetelheid om self die bome af te kap, al is dit nie hul eiendom nie!Hier om die hoek staan die stomp van ‘n boom wat verlede jaar wederregtelik sy lewe verloor het.

Ek sal seker nooit sulke mentaliteit verstaan nie!

Ek is op ‘n lekker plek in my lewe

Klaar met kinders grootmaak en rondspring om almal terwille te wees, is ek uiteindelik my eie mens. Ek het nou tyd om te dink, terug te kyk op wat verby is en ‘n voorraadopname te maak van my lewe.Miskien sou ek ‘n paar dinge anders gedoen het, maar oor die algemeen is ek baie tevrede.

Daar was tye van swaarkry, smart, drama, siekte, ellende…maar dis deel van die lewe. Die beter dinge was baie meer en tans leef ek in die paradys. My grootste liefde is die natuur en daarom skiet ek en wederhelfte so veel as moontlik uit na allerhande wonderlike plekke.

Ons is nou ook nie meer gebonde aan naweke en vakansies nie en kan sommer enige tyd gaan waar ons wil. Met Manlief, gewapen met sy kamera en ek met boeke oor enige denkbare onderwerp in die natuur, vorm ons ‘n gedugte span. Hy kyk deur die klein venstertjie en ek sien die groter prentjie! 

Ons was juis weer die afgelope week op so ‘n wegbreek. Die interaksie van mens en natuur kom ter sprake wanneer ‘n mens so baie daarbuite kom.Dan eers besef ‘n mens hoe futiel ons hele bestaan geraak het. Losgemaak van die omgewing, jagend na status en rykdom, pret en plesier, het ons eintlik onsself versaak.Ongelukkig kon dit nie veel anders uitwerk nie, want die ontwikkeling van homo sapiens het hom in hierdie bestaan vasgeverf.

Die enigste manier hoe balans weer herstel kan word, is ‘n grootskaalse uitwissing van die mens met al sy speelgoedjies en geite! Dit sluit ongelukkig kameras, rekenaars en Landrovers in! Maar tot dan, maak ons tweetjies die meeste daarvan om na snaakse interessante plekke te gaan.