Die mens het ‘n ontstellende vermoë om die wêreld behoorlik op te foeter. Dit word vooruitgang en ontwikkeling genoem en is eintlik meeste van die tyd ‘n dekmantel vir geldgierigheid.
Ses jaar gelede het ons in die Kahnrivierbedding naby Swakopmund gery en ‘n pragtige ongerepte natuurarea beleef. In hierdie dor landskap was volstruise, bobbejane, klipspringers en ander onsigbare wesens.
Ons het heerlik piekniek gehou onder hierdie boom…
Teen die boom was ‘n kennisgewing wat aandring dat mens hierdie plek en boom respekteer…
Dit beteken kortliks dat die boom sy bas nodig het soos mens jou vel nodig het om te lewe. Neem jou sigaretstompies huis toe. Bewaar ons natuur.
Ses jaar later maak ons weer ‘n draai in die Kahnrivier en wat ‘n teleurstelling! ‘n Reuse pad is gebou, waar die ou historiese spoorlyn tussen Swakopmund en Jakkalswater geloop het. Die pragtige boom is vasgedruk in ‘n noute tussen die pad en die bergwand. Natuurlik is die atmosfeer heeltemal verpes. Niemand sal regtig daar wil stop en piekniek hou nie. Die kennisgewing het ook lankal letterlik in die stof gebyt. Die reuse opvulling van die pad is omtrent drie meter agter my, vanwaar ek die foto geneem het…
Op sommige plekke lyk dit so…vieslike kragpale orals…
Die brug oor die rivier…
Ek moet toegee, dis ‘n pragtige struktuur…
Die ou waterput, waarmee die lokomotiewe se tenks gevul is, is nog duidelik sigbaar in die sandbedding…
Die ironie is, dis ‘n privaatpad na die Husabmyn, wat behoort aan Sjinese. ‘n Mens mag nie eers daarop ry nie! Gelukkig kon ons steeds in die rivierbedding ry en die ongelooflike natuurskoon geniet…
en by ‘n ander piekniekplek…
‘n koffietjie geniet, met my arm deur ‘n gat in die rots…