Liewe blogvriende..

Ek gaan vir so ‘n kort wyletjie verdwyn,maar is darem nie vêr weg nie.Mag julle almal ‘n heerlike naweek hê en ‘n week vol opwinding en gesondheid en sommer net ‘n lekker lentedag ook vir almal.

Ietsie om julle op te kikker!

_MG_5150b
Lente is in die lug en Geelvis se eetlus neem toe!
IMG_0025
Sommer net ‘n mooi ietsie uit my tuin vir al my getroue lesers.

Dankie aan…

daardie twee eiegeregtigde mans,wat dit goed gedink het om hul verwronge sin van moraliteit op so ‘n barbaarse manier te laat geskied!

Ja,ek praat van julle twee spierpaleise met die styfgespande broekies en die bakbeen-staphouding wat jul manlikheid so ten toon stel.Dis omtrent al waarop julle kan roem,want van deernis,respek,liefde en aanvaarding van andere wat nie soos julle is nie,is daar geen sprake nie!

Julle het dit goed gedink om iemand wat baie naby aan my is,aan te val en hom so te verniel,dat hy nou in die hoësorgeenheid van ‘n hospitaal lê met septisemia!Dit het nou al vier weke gelede gebeur,maar die gevolge van jul walglike daad strek verder as wat julle met jul skewe,oningeligte denke,ooit sal besef.

Ek wens ek kan julle in die oë kyk en vir julle vra of julle al ooit julself in iemand wat “skeef” is se skoene geplaas het.Julle weet niks van die ongelooflike stryd,waarmee hierdie mense daagliks gekonfronteer word nie.Hulle het NIE GEKIES OM SO TE WEES NIE!!!!!

Dis tog ongelooflik dat julle nog nooit moeite gedoen het om te gaan lees oor die nuutste navorsing wat interessante bevindings opgelewer het,wat baie mites oor homoseksuele mense die nek inslaan.Julle hang nog steeds aan die bevooroordeeldheid wat van jul oupas na jul pappies na julle oorgedra is,omdat dit in ‘n swart boek geskryf staan,dat dit verkeerd is.Daardie einste swart boek skryf ook jy mag nie linne en katoen saam dra nie en die aarde is plat en vroue is minderwaardige wesens.

Nou hoe is dit dan dat julle sulke selektiewe moraliteit beoefen?Julle grinnik met glimmende wit tande by julle “straight”tjomme:”Ja,ons het vanaand ‘n mof in die hospitaal in geblixem!Kyk hoe “cool” is ons.Ons maak die aarde skoon van hierdie drek”.

Intussen is julle twee laer as slangspoeg.Julle oortree al die wette van julle swart boek.Waar is die liefde,omgee,respek,aanvaarding,medemenslikheid,deernis,altruïsme,onselfsugtigheid?Julle besit nie een enkele een van hierdie eienskappe nie!

Die wiel draai en draai en een van dae knars hy bo-oor julle sogenaamde “manlikheid”!

Lente is in die lug!

Kleinseuntjie help vir ouma om bietjie nat te gooi en om te spit!

IMG_5351
Ouma,kyk my mooi voorskootjie en tuingereedskap!
IMG_5320
Eers gou die blommetjies natgooi.Ouma moes tien keer die gietertjie vol maak!
IMG_5332
Spit en skep in die blombak.
IMG_5333
Konsentrasie!
IMG_5341
Klaar!

©dinavanwyk

Aksie in die Kgalagadi

IMG_9939
Versamelvoëls dorstig aan die drink..Grootkolk,Kgalagadi
IMG_9233
Koringvoël in vlug.
IMG_8327
Kameelperd lek sy lippe af na ‘n heerlike sopie water.
IMG_9035
Springbokke stoei.
IMG_9712b
Blouwildebeeste stormloop by watergat.

©dinavanwyk

Valie Vaalboskat

Hierdie besondere katsoort is een van Suidelike Afrika se bedreigde spesies,omdat dit so maklik met huiskatte uitbaster.In die Kgalagadi en plekke vêr van die beskawing,waar verbastering nie maklik kan plaasvind nie,word ‘n suiwer kat nog aangetref.So ‘n enetjie is Valie Vaalboskat wat ek in Nossobkamp afgeneem het.

Hy staan bekend as Felis silvestris cafra en lyk baie soos die huiskat.Hy kan egter maklik uitgeken word aan die ryk rooibruin kleure van die rug en ore en aan die agterkant van die pens en agterbene.

_MG_8870
Lekker sit hy in die warm wintersonnetjie.Sy lyf het vertikale strepe,wat wissel van duidelik tot dof.

Hulle is alleenlopertjies,behalwe wanneer hulle paar of die wyfie die kleintjies opppas.Hulle merk ook hul gebied af met urine en krapmerke op bome.

_MG_8872
Valie gaap luilekker terwyl hy dink aan sy volgende smullige happie.

Hulle eet knaagdietjies,klein soogdiere,voëls,reptiele amfibieë,insekte en ander ongewerweldes.

_MG_8876
Man dis lekker om so te gaap!

Drie tot vyf kleintjies word na ‘n dratyd van 56 tot 65 dae,gebore,gewoonlik in September tot Maart.

_MG_8877
Lekker strek hy hom uit en beplan sy volgende plan van aksie.Sy bene is duidelik langer as ‘n huiskat s’n.

‘n Mens is weereens dankbaar vir wildernisgebiede waar hierdie diere kan floreer en bewaar bly!

Die storie eindig so…

Na haar aanvanklike blydskap en opgewondenheid,skop die werklikheid in.Surprise het klere en skoene nodig en sy moet blitsvinnig plek vind waar sy hom bedags kan los terwyl sy werk.Gelukkig is sy ou crèche nog aan die gang en sy smeek dat hulle vir hom plekmaak.Seunskind kan nou trots die onkoste dra,want hy verdien darem nou iets.

Dit gaan sukkel-sukkel,want Surprise is onhanteerbaar.Hy sit nie vir ‘n oomblik stil nie,hardloop rond soos ‘n waansinnige en klouter op alles.Sy praat met haar werkgewer en saam kom hulle tot die gevolgtrekking dat hy dalk aan alkoholonttrekkingssimptome ly.In sjebienouma se huis was dit vryelik beskikbaar en soms al wat die knapie skelmpies uit amper-leë bottels gesluk het,om sy honger te stil.

Saans is dit ‘n verskriklike stryd om hom te laat slaap.Haar werkgewer raai haar aan om hom elke aand dieselfde tyd op dieselfde bed te laat slaap.Om hom te kalmeer moet sy by hom lê en vir hom stories lees.Hy moet in ‘n roetine kom.Dit gaan egter woes en hy ruk en pluk aan die beddegoed,spring op en gaan lê by een van die ander kinders.Net ‘n rukkie later is hy weer op en gaan verpes nóg iemand.So gaan dit strykdeur tot die anderdagmôre.Almal word wakker met kopseer en leepoë en die nerwe raak dun.

Wanneer hy uiteindelik slaap,steek die son kop uit en moet hy wakker gemaak word vir kleuterskool.Die kind huil en kerm,maar daar is geen uitweg nie en so vaak-vaak word hy gewas en aangetrek en afgelaai by die skooltjie.Daar gaan dit aanvanklik moeilik en die outjie huil elke dag dat hy nie wil gaan nie.

Sy is skoon moedeloos en ploeter vaak en gestres deur haar daaglikse werk.Om nou skielik ‘n vierjarige in die huis te hê,verg groot aanpassings van almal.Gelukkig is die ander kinders al tieners en hulle help haar so vêr as wat hulle kan.

Naweke kom Seunskind huistoe en neem vir Surprise heeltemal in sy sorg.Hy slaap in ‘n buitekamer en die twee het nou genoeg tyd om in privaatheid hul bande te versterk.Soms is Seunskind kwaai en ongeduldig en dan moet sy of een van die ander kinders mooipraat dat hy nie moedverloor met die ontwrigte kind nie.

Soos die tyd aanstap,raak die mannetjie rustiger en ontwikkel ‘n goeie eetlus.Kort voor lank is sy asvaal droë velletjie weer blink en glad.Sy ogies skitter en hy begin soos ‘n normale vierjarige homself besig hou met allerhande dingetjies.Sy luister hoe hy soms in sy verbeeldingswêreld gesels met onsigbare maatjies.Hy maak wroem-wroem geluide wanneer hy met sy vragmotortjie in die sanderige agterplaas speel.Hy sit ure lank stil en krabbel prentjies met kleurkryt.Voorheen het hy die papier stukkend geskeur en die potlode gebreek.

Deesdae kan hy nie wag om na sy skooltjie te gaan nie en die onderwyseres rapporteer dat hy rustig en gedissiplineerd is.Vroeër het hy die klas op horings geneem en almal ontstig.Wanneer hy na ‘n lang dag tuiskom,vertel hy van sy maatjie.Die twee is soos Dawid en Jonathan,onafskeidbaar.

Haar hart word warm as sy een middag by die huis kom.Daar in die netjies geharkte agterplaas,is ‘n klomp kleingoed en hulle speel dat die stof so staan.Surprise is die middelpunt.Hy lag van oor tot oor.Hy is dolgelukkig…..

Die storie gaan nog verder en verder en…

Nog ‘n jaar snel einde se kant toe.Dis alweer Novembermaand.Sy en haar gesin het vrede daarmee gemaak dat hulle nooit weer vir Surprise gaan sien nie.As ‘n soort verdedigingsmeganisme teen die pyn,het sy hom uit haar gedagtes verban en probeer om nooit aan hom te dink nie.Soms spring die hartseer onverwags uit haar binneste op en voel sy so angstig,dat sy sommer hartkloppings kry.Sulke tye,sluk sy die dik traanknoppe wat haar benoud laat wurg,weg en werp haar voluit in allerdaagse takies.

Sy knip-knip verbaas haar oë,vryf oor haar gesig en wonder of sy droom.Voor haar staan die meisiekind met ‘n grootoog,maer verwese seuntjie aan die hand.Surprise,Surprise…kan dit wees?Sowaar!

Die meisiekind vertel dat sy nooit haar ma in die hande kan kry nie.Die foon word altyd doodgedruk as sy bel.Met genoeg geld uit haar karige salarissie bymekaar geskraap,kom sy onverwags by die huis van haar sjebienkwienmammie aan.Sy is uit haar sokkies geskok toe sy Surprise sien.Die outjie se klere is meer gate as lap en aan sy voete is massiewe ou skoene wat hom laat rondslof soos ‘n sirkusdwerg.Hy is smerig en stink só,dat ‘n vuurhoutjie sommer vanself naby hom aan die brand kan slaan.

Die ander twee kinders is ook erg verwaarloos,maar hulle is in ‘n beter toestand as Surprise.Haar moederinstink skop in en in die nag sluip sy daar weg met haar kind aan haar sy.By haar sinkmakoekoe aangekom,laat sy vir Surprise lê en week in ‘n skottel warm water.Sy skrop en skrop en skrop…maande se vuilgoed laat die waswater soos ertjiesop lyk.Die volgende oggend word die proses hehaal en sy grou pikswart vuilgoed onder sy naels uit.Met net die flenterhempie en broekie aan sy lyf,maar darem weer skoon,neem sy hom na die enigste mense wat nog ooit vir haar en Surprise omgegee het.

Goeie ouma se mond hang oop.Haar lankverlore kleinkind is net ‘n skaduwee van die spekvet,blinkgesig kleutertjie wat eens om haar voete rondgemaal het.Die ander kinders is net so geskok,maar hulle spring op en af van blydskap.Seunskind werk nog in Middelburg en kan nie wag vir die naweek om aan te breek nie.Hy het ‘n lied in sy hart.Uiteindelik gaan hy weer sy kind sien,’n volle twee jaar later!

….word vervolg….

Die storie gaan nog verder…

Die einde van die jaar en Kerstyd breek aan.Sy is besig om wasgoed op te hang.’n Volgepakte Quantumtaxi,stop in ‘n stofwolk voor haar huis.’n Groep mense peul by die deure uit en sê hulle is die meisiekind se familie en hulle wil haar sien.Sy is lam geskrik en bel vinnig haar ma en broer om te kom.Intussen vloei die drank binne-in die taxi…’n hele afvaardiging van vriende en familie gebruik die geleentheid om ‘n intimidasie-partytjie te hou. Die bakwerk bewe van die oorverdowende musiek wat uit reuse speakers blêr en sy voel hoe die ritme in haar binnegoed klop-klop en haar hart laat ruk van die spanning.

Haar ma en broer kom aan en die meisiekind se twee ooms en ma word te woord gestaan.Die ander klomp buite die hek, gooi die kanne en jaaif op die ritme van townshipkwêla.Die gesprek gaan heen en weer…ons wil tienduisend rand van julle hê,dan kan julle die kind hou.Sy sê sy het nie sulke geld nie.Sy kan nie glo dat mense ‘n kind wil verkwansel vir ‘n pot lensiesop nie.Die humeure vlam later hoog,maar uiteindelik is die taxi vort met die spul dronk lywe al gillende en bottelswaaiende met vuiste wat by die vensters uitpomp.

Meisiekind het uiteindelik werk gekry en vir Surprise kom haal.Dinge gaan weer beter en die outjie is heel gelukkig by sy ma.Intussen word druk op haar geplaas..haar familie soek die kind.Sy en Surprise gaan “huis” toe,na ‘n ma wat nog nooit vir haar omgegee het nie en haar geensins ondersteun het tydens die grootste krisis in haar lewe nie.Haar twee ooms en ma forseer haar om die kind daar te los.

Surprise beleef twee jare van uiterste hel.Sy ouma bedryf ‘n shebien en hy word soos ‘n kakiebos groot.Hy hardloop waar hy wil,doen wat hy wil,probeer slaap wanneer hy moeg is en is geklee in flenters.Die ouma eis gedurig geld en klere van die ander familie.Wanneer die klere gestuur word,word dit vir meisiekind se verstandelik gestremde sustertjie en kleuter halfsussie gegee.Surprise leef voort in sy vodde.Die sustertjie is gestremd as gevolg van ‘n hou teen die kop tydens ‘n kroeggeveg.Sy moet nou sorg vir Surprise en nog ‘n jonger kleuter van die shebienkwien.Sy is slegs tien jaar oud..

Die kinders vrek van die honger en die ouma is heeltyd gesuip.By tye is hul enigste voeding,slukkies bier uit leeggedrinkte bottels.Sy hou haar drankvoorraad aangevul met Surprise,haar gestremde kind en haar kleuter se Grantkaarte.

Saans is die shebien vol dronk lywe en die twee kleuters en gestremde kind,word blootgestel aan ‘n gevloek en geskel en bakleiery,wat deurnag duur.Die ewige goembagoemba-musiek waarvan die desibels deur die klankgrens kerf,is die kindertjies se wiegeliedjies tydens slaaptyd.

Skielik bel ‘n lank afwesige oupa van die meisiekind vir goeie ouma.Hy woon in Transkei en wil hê Surprise moet saam met sy ma daar kom kuier.Hy wil egter geld hê om kastig vir die kind klere te koop.Goeie ouma is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie en bied aan om Surprise vir ‘n dag te neem en vir hom kleertjies te koop,sodat hy by die besorgde oupagrootjie kan gaan kuier.Die ou is woedend en gooi die foon neer.Nodeloos om te sê,daar was nooit sprake van ‘n kuier in Transkei nie!

Intussen duur die outjie se ellende voort en goeie ouma en haar seun word netjies van hom af weggekeer.Wanneer hulle bel,word hul foonoproepe geïgnoreer.Meisiekind ondervind presies dieselfde en niemand besef wat is besig om met Surprise te gebeur nie. ….word vervolg…

Die storie gaan verder…

Surprise groei pragtig en verander in ‘n blinkvet laggende peuter.Intussen het die meisiekind klaar matriek geskryf en besluit om sy versorging oor te neem.Die vehouding tussen haar en Seunskind dobber in ‘n flenterbootjie op rowwe vaarwaters!

Nuwe Ouma het intussen opgegradeer na ‘n piepklein baksteenhuisie in ‘n naburige township.Seunskind help trots om die lendelam plekkie op te kikker met verf,wat deur sy ma se werkgewer geskenk is.Sy leen ook gereedskap,want Seunskind is verskriklik handig en timmer al die stukkende goed reg.Nie lank nie,of die huisie lyk pragtig en die erf is gehark en skoon van hoek tot kant.Die gesin trek in…Seunskind,sy twee sussies en jonger boetie.Surprise bly agter in die sinkmakoekoe saam met sy ma.

Die ellende begin.Meisiekind het drie vakke gedruip en kan dit Aprilmaand oorskryf.Intussen help Seunskind met sy karige salarissie om haar en Surprise se lywe te klee en te voed.Haar pa dra nie ‘n sent by nie en maak kort-kort geluide van “damages”.

Meisiekind kry nie werk nie.Sy ploeter rond daar tussen die sinkmakoekoes op ‘n oop stofvlakte,waar die wind saans deur die lendelam sinkerasie tier en die rookwalms van steenkoolvure,mens op ‘n trip sit.Natuurlik soek sy allerhande ongure geselskap op om haar eensaamheid te verdryf en die verwerping deur haar pa te probeer hanteer.

Surprise word verwaarloos en uiteindelik gaan haal seunskind hom dat hy by die familie in die skoon tweeslaapkamer-huisie intrek.Seunskind werk nou in Middelburg as ketelmaker in opleiding.Dis ‘n goeie werk en die outjie sit kop neer en doen sy bes.Hy was nog altyd ‘n perfeksionis en het van kleinsaf die oulikste goedjies uit karton,vuurhoutjies,proppies en roomysstokkies gebou.Selfs ou batterye is skoongevryf en met nuwe lewe opgekikker om modelletjies te laat beweeg.Sy ma het altyd gesê sy kop is bietjie styf,maar sy hande is reg!

Vir ‘n wyle gaan dinge beter.Surprise is nou twee en ‘n pragtige gelukkige seuntjie,wat deur sy pa verafgod word.Ouma en die ander kinders is mal oor hom.Hy blom en floreer van al die liefde en aandag.Die einde van die jaar en Kerstyd kruip nader…..     Word vervolg…