Besondere mense

Die volgende dag besoek ons ‘n Himba gemeenskappie naby Purros. Hulle huisies van stokke,modder en mis,staan in ‘n sirkel. Die beeskraal se hek is reg oorkant ‘n heilige vuurmaakplek,waar die hoofman heeltyd moet sorg,dat die vuur bly brand,al is dit net ‘n paar rokende stokkies.

Hierdie mense is eintlik Hereroveewagters wat jare gelede deur die Namas die wildernis ingedryf is.Die meeste Hereros het ‘n Westerse leefwyse aanvaar en sommige van die vroue dra nog steeds die veelkleurige uitrustings vanuit die vroeë Duitse koloniale tydperk.

Die Himbas klou egter nog aan hul ou leefwyse en hul groot trots is hul vee. Die karigheid waarmee hierdie mense in die ongenaakbare Kaokoland bly, grens aan die verstommende.

Met ons aankoms by die kraal,betaal ons dertig Namibiese Dollar vir ‘n toer deur hul kraal en ons kry toestemming by die hoofman om foto’s te neem.

Hierdie ou vroutjie was so vriendelik en bly om ons te sien.Sy het heeltyd loop en giggel.

Kombuishut,waar hul karige eetgerei in sakkies opgehang word, met emmers,

swartsakke en dromme vir stoorplek.

‘n Pragbees.In droogtetye trek die Himbas rond op soek na beter weiding.

Hulle is een van die min oorblywende nomadiese volke op aarde.

Hierdie vrou suig lustig aan haar pyp.Sy was nie baie vriendelik nie en hier het ek

 meteens besef dat ons eintlik die mense se waardigheid aantas.

Hierdie ou klein seuntjie met sy lang wimpers,het dadelik my aandag getrek.

Hierdie knapie was hoeserig, met ‘n vreeslike loopneusie en rooi ogies.

Die hare op sy kop word op ‘n spesifieke manier laat groei.

Die hoofman met een van sy vrouens en hul twee kleingoed.Die vrouens dra vreeslike

 interessante kopstukke en smeer hul lywe met oker,gemeng met dierevet.

Dit gee aan hulle die rooi-blink voorkoms.

Toe ons later vertrek,was ek effens uit die veld geslaan.Dit was voorwaar ‘n verskriklike kultuurskok!

Besondere mense,hierdie Himbas!

Wanneer moet mens ingryp?

Gister betrap ek buurman se Maine Coon,besig om ‘n kat-en-muisspeletjie met ‘n arme rooiborsduifie te speel.Woedend storm ek op hom af en gryp die voëltjie.Die arme dingetjie se stertvere is omtrent almal uitgepluk en in sy borskas is ‘n gapende wond.

Wat nou gemaak?Ek maak die geskokte geveerdetjie gemaklik op ‘n sagte lappie in ‘n ou roomysbak.Later probeer ek bietjie water in sy bekkie drup,maar niks help nie.Die heelnag slaap hy langs my bed en ek droom selfs dat hy môre-oggend lustig op die grasperk saadjies pik en daarna wegvlieg.

Vanoggend is hy baie swakker en ek oorweeg dit om sy nekkie vinnig en pynloos om te draai.Ek kry dit nie reg nie en hou hom maar verder rustig en gemaklik.

Eintlik moes ek die kat gelos het,dan was die arme duifie lankal uit sy ellende verlos.

Ek en my simpel geaardheid!

Geveerde fantasie

Manlief het hierdie jong bleeksingvalk verlede week afgeneem in MabuaSehube, Botswana.

Ek wil dit graag met julle deel.

Verlatenheid

Na ‘n heerlike stort,wat my soos ‘n koning laat voel,ry ons ‘n entjie uit die kampplek uit en kom op hierdie verlate Himba gehuggie af.Dis nogal spookagtig,want die kraal lyk vervalle en die landskap lyk nie baie herbergsaam nie.Ons gids vertel vir

ons dat dit ‘n oorstaanplek is vir Himba veewagters,wat soek na beter weiding vir hul beeste.

Net een vervalle hut staan hier in die verswelgende middaghitte.

Die drumpelklip is ‘n aanduiding,dat hierdie hut aan iemand behoort en dat hy weer gaan terugkeer.Binne is nog die oorblyfsels van ‘n vuurtjie.Dit laat my soos ‘n skelm voel wat iemand se geheime ruimte betree.

Dis maar ‘n klein ou hutjie en mens moet goeie knieë hê om so naby aan die aarde te leef!

Kampplek by Purros

Na die dor, droë voorkoms van die dorpie, Purros, is die kampplek verbasend mooi en gerieflik.Na die versengende woestynson,vorm die pragtige ou kameeldoringbome op die oewer van die Hoarusibrivier, ‘n sambreel van lawende koelte.

Alles wat ‘n mens in die kampplek sien,is deur die ou lorrie uit my vorige blog,aangery en met vernuf aanmekaar gesit..iets waarvoor mens net waardering kan betoon,gegewe die onherbergsaamheid van die area!

Hierdie interessante aanwysingsbord verwelkom mens by ontvangs.Die kunswerk is saamgestel uit verskeie beendere van lankgestorwe diere.

Die netjiese kantoortjie met waarskuwende kennisgewing.Hier speel mens nie met die olifante nie.Redelik onlangs is ‘n buitelander hier doodgetrap deur ‘n verwoede olifant!Ons gids se pa is ook vyf jaar gelede deur ‘n olifant doodgemaak.Hy was baie ervare en het die wêreld en olifante goed geken.Dit wys net weereens dat mens die natuur te alle tye moet respekteer.

Oulike klip opwasbak met ‘n dwarslêer (“sleeper”) waarin die krane netjies pas.Gerief,o gerief,vanaand buk ons nie met moeë

rûe oor ‘n skotteltjie nie!

Nog beter..’n badkamer!Na drie dae se GMV (gesig,mikke,voete), gaan dit saaalig wees om uit te toets.

Die wasbak, met ‘n spieël,waarsonder ek op hierdie stadium liewers kon doen! Myself pertis des mertis geskrik toe ek daarin kyk!

Daar is selfs ‘n bankie in die badkamer,waarop ek my klere kan neersit. Kyk hoe lekker skyn die son deur die sparretjies en met net die boomblare as dak,is daar geen lekkerder stort op aarde nie!

Ons speel lekker huisie-huisie onder die oer-ou bome.

Blomme en katkenades.

Die Kraanvoëlblomme in my tuin, is hierdie jaar besonder mooi!

‘n Mens kan duidelik sien waar die naam vandaan kom.

Die blomme lyk net soos kraanvoëls.

Buurman se Maine Coon maak spookstories in die maanlig!Partymaal loop hy oor my dak en beproef my skeptisisme oor bose geeste,tot die uiterste!

Klein Gehuggie

Ons ry die volgende dag verder en kom by Purros,’n klein gehuggie in ‘n baie bar landskap.Dis die woonplek van ‘n klein gemeenskappie Hereros.

Die ironie bly nie uit,toe ons hierdie spoedbeperking by die ingang van die dorpie sien nie.In Namibië word paaie en padtekens onderhou,maak nie saak hoe ver en afgeleë dit is nie!

Hierdie mense maak hulle bestaan uit die inkomste van ‘n kampplek in die Hoarusibrivier,digby die dorpie.

Hier is die aanwysing na die kampplek.

‘n Vinnige toer deur die dorpie,wys hoe hierdie geharde mense leef in ‘n baie ongemaklike omgewing!

Hier is die skooltjie,met ‘n yl boompie wat spartel om te groei,reg by die deur.

Die Herero onderwyseres is hier besig om die klimraam  en ander hout speelgoed reg te maak.Let op die warm outydse uitrusting wat sy aan het.

‘n Paar van die huisies met hier en daar ‘n watertenk vir wanneer die skraps jaarlikse reën val!

Toyota is oral..!!

Met behulp van hierdie ou vragmotor,is die kampplek tot stand gebring..voorwaar ‘n prestasie,as mens die ongenaakbaarheid van die omgewing in ag neem!Ongelukkig staan die ou strydros gedeeltelik sonder wiele.

Ons reis verder saam met die geheimsinniges

Na ‘n lang vermoeiende rit oor klippe en deur sand,kamp ons op ‘n hoë plato met ‘n pragtige uitsig sover as wat die oog kan sien!Die sonsondergang is besonders en selfs die maan lê soos ‘n lemoenskyfie in die Weste.

Die nag is bitter koud en die volgende oggend word ons wakker met misvingers wat om ons eina- tentjie krul!

Teen die tyd dat ons klaar ontbyt gehad en opgepak het,het die warm son die mis opgeslurp en vat ons die pad oor die bar vlakte.In die verte dans geheimsinnige,ruwe gebergtes in die lugspieëling.

Nie lank daarna nie,kom ons af op dié Welwitchia,’n oer woestynplant wat eie aan die Namib is.Hierdie fassinerende plante het net twee blare,wat ontsettend stadig groei en dan skeur en toiingrig lyk.Van die plante word horingoud en dié een is waarskynlik oor ‘n duisend jaar!Wat ‘n voorreg om langs so ‘n ou aardbewoner te sit!

‘n Groot verrassing wag toe ons hierdie vars spore in die pad sien.Doer vêr hol hy, ja niemand anders as die sku Swartrenoster van die Namib nie!Hy was te vinnig vir my,maar sy spore is vasgevang deur my lens.

Later ry ons in sanderige rivierbeddings en ontmoet nog van die pragtige inwoners van die omgewing..Gemsbokke!

en Springbokke..

‘n Welkome blaaskansie in die rivierbedding,in die skadu van ruwe kranse.

 Beton-en klipstruktuur om die olifante weg te hou van die watertenk.In die Hoanibrivier.Ons maak hier ons waterkanne vol,want die woestyn is ongenaakbaar droog.

Ingang na die tenk..dit is te nou vir ‘n olifant om deur te gaan,dus is die waterbron gewaarborg!

Water,water!Wonderlike lafenis..drie dae laas gebad,net gewas in een liter water per dag! 

  

Spore van die geheimsinniges

Kaokoland met sy woestynolifante, is ‘n wonderwêreld vol verrassings!Twee jaar gelede het ons hierdie geheimsinniges se spoor gevat en dit het ons stoutste verwagtings oortref.

Met hulle spesiaal aangepaste groter pote,kan die olifante makliker in die sand beweeg.Hulle behoort tot dieselfde spesie as die Afrika Olifant,maar met ‘n kleiner borskas,wat hul bene langer laat vertoon.Hierdie diere is ontsettend goed aangepas en beweeg heen en weer in die rivierbeddings van die Ugab,Hoab,Abba-Huab,Uniab,Hoanib en Hoarusib.Hierdie pragtige name klink net so geheimsinnig soos die diere wat in hierdie onherbergsame landstreek woon.

Dit verg harde werk en baie beplanning om so ‘n tog te onderneem en ek wil nie te langdradig wees nie..net die interessantste dinge vertel.

Groot was ons opgewondenheid oor die eerste spoor in die Ugabrivier! 

En hier is hulle!Hulle is bekend daarvoor dat hulle baie agressief kan raak en hul spasie moet te alle tye gerespekteer word!

Modderbad by Purros,(klein Herero-gehuggie)in die Hoarusibrivier.

Landskap naby Purros.Droë berge weerkaats in die helder water!Amper te goed om waar te wees in hierdie ongenaakbare landskap!

Nog ‘n verassing..vars leeuspore in die sand!Ook in die Huarusibrivier.

Vars karkas van ‘n gemsbok.Die leeus het vir ons gevlug,maar ons het hulle tog te siene gekry,waar hulle tussen riete weggekruip het.Hulle is baie sku,omdat hulle gereeld deur mense verwilder word.Die plaaslike bevolking skiet ook na hulle en ons het onlangs gehoor dat die laaste leeus in hierdie omgewing,uitgemoor is!Hoe hartseer tog!

Volgende keer vertel ek meer van hierdie interessante wêreld!

Help asseblief!

Ek is so gefrustreerd,want ek kry nie foto’s gelaai op my blog nie. Ek doen alles reg soos altyd,maar wanneer ek “insert”druk,gebeur daar niks en die “preview” foto verdwyn in die niet.Ek kan al skreeu!

Kom julle slimmes,help my!

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +