Dis reeds Vrydag die 13de hier onder op die aardbol. Ek is glad nie bygelowig nie en het nie eers geweet wat vandag se datum is nie.
Vroegoggend stap ons met kleinseunjie na ‘n koffiewinkel hier naby. Oppad deur die parkie blerts ‘n voël uit een van die digte bome, op my spierwit hoed. Gelukkig was dit nie ‘n hadida nie, maar poef is poef.
Oppad terug gooi kleinseuntjie ‘n vloermoer, want hy wil ‘n ander pad stap as ons. Bose ouma het nie tyd vir redenasies en twak nie en sleep hom aan die arm saam op die bospaadjie.
Ewe vermakerig hardloop hy vooruit, maar ouma en oupa kap hom ‘n dowe en ignoreer hom heeltemal. Ons stap by hom verby, waar hy nors onder ‘n boom staan… maak of ons hom nie sien nie.
Later merk ons op hoe hy ons op ‘n afstand volg. As ons stilstaan, staan hy ook stil. Ons maak steeds of ons nie weet dat hy daar is nie.
Na ‘n lang wandeling deur die bos, kom ons uit by die sement fietsry- en voetpad. Ons stap verkeerde kant toe en sien knapie loop nou in die regte rigting, maar nou voor ons. Die mannetjie stap en ons moet wikkel om hom binne sig te hou.
Skielik seil ‘n lang dun slang uit die gras uit, reg voor my voete verby. Met die nodige gil en reuse onelegante sprong, verloor ek net daar my oumawaardigheid.
Gelukkig het die slang groter as ek geskrik en vinnig in die lang gras verdwyn. Seuntjie wals steeds vooruit en naderhand is ons tuis en hy kom vra vreeslik verskoning vir sy slegte gedrag.
Tyd om my hoed te was en op die draad in die son te hang. Die wasgoedpennetjies is ewig aan die draad en dis van plastiek. Ek knyp ‘n pennetjie los om die hoed mee vas te knyp en daar breek die ding in stukke en skiet in my oog in.
Dadelik toets ek my sig en sien alles is wel. Dit het my oogbal naaste aan my neus getref en dis nou bloedrooi.Sal seker môre lyk of daar huismoles was.
As ons nie gaan koffie drink het nie, sou die voël nie op my hoed geblerts het nie, sou ek nie my hoed gewas het nie, sou ek dit nie opgehang het nie, sou die wasgoedpennetjie nie gebreek het en in my oog geskiet het nie… Murphy’s Law of Vrydag die dertiende?