All posts by perdebytjie

Ek is middeljarig,let wel,glad nie oud nie,met 'n onversadigbare nuuskierigheid oor die wêreld om my.Ek probeer bybly by die nuutste tegnologie,alhoewel ek effe gestremd is in daardie opsig.Dis verskoonbaar,want ek het nie daarmee groot geword nie! Ek is mal oor die natuur en neem graag foto's. Ek is 'n skeptikus en glo moeilik aan onbewysbare dinge. Ons reis baie,meestal in die natuur in.Ek het geen behoefte aan stede mense en museums nie..net stilte en my eie gedagtes.Ek is darem nie heeltemal 'n kluisenaar nie en geniet geselskap en vriende en pret. Ek is lief vir klassieke musiek en speel graag klavier vir my twee honde en ons huishulp.

Anderkant van die wêreld (4)

Toe ek die volgende oggend wakker skrik, is dit die gesig wat my begroet…

IMG_0260

Die boot staan styf vasgemeer teen ‘n loodregte krans met al hierdie “kunswerke” van reisigers uit die onlangse verlede…(Op die boonste foto is ‘n verfsel van ons skippie, wat ook hier aangedoen het in 1994, met ene Kaptein Knight aan die stuur.)

Op die beknopte hawekant staan reeds ‘n trein en etlike busse gereed om passasiers na verskillende interessante bestemmings te vervoer…

IMG_0259

Die dorpie se naam is Skagway. Dis in 1897 gestig en lê in ‘n smal gletservallei in die Alaska “panhandle”, negentig myl noordwes van Juneau. Met ‘n inwonertal van 1,036 mense, is dit piepklein. In die somermaande is daar meer inwoners om die toeristebedryf aan die gang te hou. Daar was ook ‘n goudstormloop in die laat agtienhonderds. Die meeste van die dorp is gerestoureer en lyk soos in die dae van die goudstormloop. Op ‘n stadium was daar tagtig kroeë en natuurlik ‘n berugte bordeel, die Red Onion Saloon,wat vandag nog daar is…

(Google Images)

Een van die tipiese straatjies met ou hout geboue…

IMG_0270

Die volgende geboutjie is in 1899 gebou van dryfhout…die enigste voorbeeld van Alaska-dryfhout-argitektuur. Dis bekend as die Arctic Brotherhood Hall…

IMG_0271

Ons neem ‘n bustoer uit die dorp uit, na ‘n afgeleë plek in die berge, waar ons vandag die beroemde sleehondbedryf van Alaska gaan leer ken…

IMG_0291

Die voertuig waarmee ons teen steil hoogtes gaan uitry om by die honde te kom, staan reeds gereed…

IMG_0282

 

Word vervolg…

Advertisements

Anderkant van die wêreld (3)

Die Misty Fjords wildernisgebied is in 1978 tot Nasionale Monument verklaar.Die inheemse stamme soos die Tlingit, Haida en Tsimshian het duisende jare al hier geleef.

Die dennevlaktes, beboste berghange, rotsstrande en soutmoerasse vorm ‘n besonderse Suidoostelike Alaska ekosisteem. Dreunende watervalle stort orals van die skuinstes af…

_MG_6801

_MG_6785

Volop reën en sneeu op die bergpieke, voed rivierstrome, waarheen salmvisse jaarliks in massas migreer om eiers te lê en dan te sterf…

IMG_0275

Die volgende dag vaar ons die hawe van Juneau binne.Dis die hoofstad van Alaska en is in 1880 as ‘n goudmyn kamp begin. Die inwonertal is ongeveer 32,660 mense. Dis die enigste hoofstad in die V.S.A. wat nie per pad bereik kan word nie.Op die foto kan mens sien hoekom nie…

IMG_0230

Die wandelpad langs die hawe is pragtig versier met kleurvolle kunswerke aan die lamppale…

IMG_0238

Ons gaan weereens op ‘n bootrit om walvisse te sien en later na ‘n pragtige gletser…

_MG_6963

Dit staan bekend as die Mendellgletser. Die blou kleur in die ys, word veroorsaak wanneer sneeu op ‘n gletser val, saamgepers raak en deel word van die gletser. Lugborrels word uitgedruk en yskristalle vergroot om dan die ys blou te laat vertoon.

_MG_6968

Word vervolg..

 

 

 

 

 

 

 

 

Anderkant van die wêreld (2)

Die tweede dag vaar ons meestal op die oop see,maar met pragtige natuurtonele oral…

_MG_6709

Dag drie vaar ons vroegoggend die hawe van Ketchikan, binne. Dit staan bekend as Alaska se “First City”, want dis die eerste plek waar reisigers aandoen oppad na die noorde.

IMG_0178

Die naam kom van die Tlingit woord “Kitschk-Hin”,  wat “dreunende vlerke van ‘n arend”, beteken. Dis na aanleiding van die buitelyne van die Ketchikan Creek, soos van bo-af gesien.

19% van die inwoners is van Tlinglit, Haida en Tsimshian inheemse Alaskaanse afkoms.

IMG_0187

‘n Oorvloed aan salm het die Tlinglit mense hier laat vestig en in 1883 het ene “Snow” die eerste salmsoutery ge-open en dit was die begin van die vissersdorpie.

In die laat 19de eeu is goud en koper ontdek en die dorp het floreer en die houtindustrie is ook gevestig. Dis vandag Alaska se sewende grootste stad met 8,142 inwoners en saam met bewoners van omliggende streke, is daar 13,686 siele.

Ons gaan op ‘n bootvaart in die Misty Fjords Nasionale Monument:

IMG_0226

Dis ‘n ongelooflike waterwêreld met boggelrugwalvisse…

_MG_6936

_MG_6938

Robbe…

_MG_6885

en fantastiese natuurtonele!

IMG_9308

New Eddystone Rock duik op uit die newels. Dit bestaan uit basalt wat uit ‘n vulkaniese pyp deur krake in die bodem van die Behm Kanaal, verrys het. Gletsers het oor miljoene jare die meeste van die lawa weggeskuur en net die rots het agtergebly…

_MG_6747

Vir ‘n oomblik breek die eina-sonnetjie deur en sorg vir ‘n gouelig foto van die anderkant af…

_MG_6764

Ons vaar verby geheimsinnige gletsers, gehul in mistigheid…

_MG_6871

Word vervolg…

 

 

 

 

 

Anderkant van die wêreld

Vir Perdeby van sonnige Suid-Afrika, was dit ‘n lewenservaring om ‘n maand gelede na die anderkant van die wêreld te vlieg. Die verandering in klimaat, lugdruk en bo alles, die tien ure tydsverskil, het sy tol geëis, maar dit was deur-en -deur die moeite werd!

My vlerkies het my op ‘n reis na die skone Alaska geneem en in die volgende paar aflewerings deel ek my wonderlike ervaring met my bloglesers.

Vanaf pragtige Vancouver is ons met die Island Princess op ‘n sewe dae reis noordwaarts.

IMG_0134

IMG_9290

IMG_0152

Word vervolg…

 

 

Loer net gou in..

Om te sê ek leef nog.Internet is alweer af en ek werk gou van iemand anders s’n af.Vreeslik frustrerend…ons telefoonlyne is al die tweede keer hierdie jaar gesteel.Verlede week was ons kragloos vir twee dae en so gaan dit aan.Gelukkig skyn die son elke dag.

Ek is hopelik binnekort weer op die lug.Tot dan….Perdeby.

Perdeby is…

nou moedeloos verby! Hierdie is nie bedoel om ‘n treurmare van selfbejammering te wees nie, maar…

na die vierde verkoue in vier maande,tien ton snotdoekies, x-strale van my longe, is die diagnose bronchitis…sommer bromkaaitjies in goeie Afrikaans.😄

So tussen die kuggery en internet wat al die hele week af was, was ek maar skaars.Ek is darem nog hier…geseënd met ‘n paar toegeplakte oë elke oggend…so pienk soos pienk toffies en aan die brand soos kole vuur….beslis nie geskik vir leeswerk op liguitstralende instrumente soos rekenaars, lêptoppies en I-pads nie.

Hulle noem dit ‘n grênd naam soos “conjunctivitis” of so-iets.Ek kan julle verseker die toestand is alles behalwe elegant soos wat die naam klink! Een kyk in die spieël en dit lyk of ek reeds een van die eerste slagoffers van Armageddon was. Na so ‘n bietjie lou water en wegveeg van ongewenste uitskeidings, kan ek darem weer vir so ‘n wyle sien wat om my aangaan. Al wat tans rosig pienk aan my is, is my kokende ooglede.

Die goeie nuus is,dat ek uitstekende druppels gekry het en ek kan langer as tien minute hier rondkuier!

Ek dink my tien minute is haas verby…tot wedersiens…kug,kug,kug..hegge,hegge,kug…

Eish, dié winter het my hard geslaan!

 

Transkgalagadi-stories 5

Douvoordag geniet ons ‘n vinnige koppie koffie met beskuit en groet ons vriendin.Die laaste skof het aangebreek.Dis so negentig kilometer na Mamunogrenspos, aan Botswana se kant. Dit maak eers sewe-uur soggens (agtuur in die winter) oop en as jy te vroeg daar is,staan daar reeds ‘n lang ry voertuie,veral vragmotors, wat sommer die nag daar oorgestaan het. So in die halfskemer moet mens weereens versigtig wees vir diere op en langs die pad.

Die pad gaan verby plekkies met name soos Karakobis, Xanagas en Charles Hills. Die grenspos is nie te sleg nie en dit gaan redelik vinnig, nadat jy weer papiertjies in duplikaat ingevul het.Die honde hoef nie hier verklaar te word nie, net met die terugkomslag,wanneer hulle Botswana inkom.Dis gewoonlik dán ‘n gesukkel om die staatsveearts op te spoor. Dié se kantoortjie is ‘n lendelam houtgeboutjie en die ou sit soms in sy kar onder ‘n doringboom om die hitte te ontsnap, of al kletsende iewers tussen die ander amptenare in die hoofgebou, waar daar darem bietjie lugverkoeling is.

Nou is dit deur die Namibiese grenspos, Buitepos. Ook nie te sleg nie, maar weereens vorms invul voor jy ‘n tjap in jou paspoort kan kry. Deur die jare het ek reeds ‘n dik stapel vorms versamel en vul dit voor die tyd in. Terwyl ander mense spook om alles neer te pen, seil ons vinnig deur met ons klaar papiere!

Weereens moet ‘n motorpermit gekoop word en die Schnauzers moet verklaar word. Manlief doen die voertuig en ek die honde in ‘n aparte mobiele geboutjie.Die papiere en boekies word intens bestudeer, veral die inspuitings teen hondsdolheid.Gewoonlik is dit ‘n baie vriendelike amptenaar en ons gesels heerlik oor die weer en die voorkoms van die honde. Baie keer wil van die omstanders weet hoeveel so ‘n hond kos en hoekom het die wyfiehond ‘n baard en hoekom lyk die swart ene soos ‘n bobbejaan! Ek lag maar net en kan uit die onverstaanbare gebabbel hoor, dat ek en my brakke goed bespreek en beskinder word, veral as hulle teen alles wil beenlig en ek my morsdood skaam.

Nou is ons in Namibië en die landskap is steeds plat, bosryk en uitgestrek.Op Gobabis word brandstof ingegooi en ek verkyk my aan die Hererovrouens met hul pragtige gekleurde uitrustings. Veral die ouer geslag dra nog hierdie tradisionele klere wat dateer uit die ou Duitse koloniale tydperk.

Nou is dit aanstryk na ons volgende brekfisboom. Namibië se piekniekplekke is silwerskoon. Dis gewoonlik ‘n netjiese betonblad met ‘n tafeltjie en twee bankies en ‘n behoorlike asdrom digby. Daar lê selde papiere rond, behalwe wanneer ‘n troppie bobbejane daardeur is. Dis altyd netjies gehark en dit lyk of iemand daagliks kom opruim…wat ‘n plesier!

Uitgestrektheid is die enigste woord om hierdie landskap te beskryf. Na die piepklein dorpie, Kalkvlei, raak die landskap meer bergagtig en soos Windhoek naderkom, begin die pad op en af kronkel. Windhoek is geleë tussen en op verskeie rante. Ons saag maar vinnig daardeur en nou is dit dorpies met mooi name soos, Okahandja, Karibib, Usakos en uiteindelik Swakopmund, die eindpunt van ons reis!

‘n Volle 3600 km heen en terug…TWEE keer ‘n jaar, die laaste nege jaar. As ek so rofweg ‘n sommetjie maak kom dit neer op ongeveer 34,200 km….ons is eintlik nie lekker in die kop nie!!