Hekke

Hekke vertel stories.Plaashekke roep ou verlangens by my op.Kleintyd moes ons altyd beurte maak om hekke oop en toe te maak.By sommige hekke het dit gespook en almal was saans katvoet dáár.Ander het moeilike knippe gehad,of sommer net oopgeswaai en jou amper deur die gesig geslaan.Laasgenoemdes is smoelslaners genoem en was gewoonlik gemaak van draad en paaltjies.Hulle het ook nie op skarniere gedraai nie,maar sommer so los gespring en dan moes jy net koes of jy is voortydig haasbek!

Hekke speel nog steeds ‘n belangrike rol en elkeen het sy eie karakter en storie.

Hierdie een is vêr in die wêreld,en hou iemand se kosbare beeste uit die pad uit.

Party hekke verwelkom mens by vreemde plekke met pragtige name.

Iets geheimsinnigs en romanties,wag verderaan.

Sommige hekke is kunstig aanmekaar geflans en dit skep die indruk van ‘n

 perfeksionistiese einaar met ‘n skeppingsvermoeë,soos min!

Dan is daar die grieselrige hekke,waar die dood as versiering dien! .

Kliphekke met interessante kennisgewings,voorspel wonderlike belewenisse vorentoe.

‘n Outydse poort met ‘n soetklinkende naam, verberg ‘n ou fort uit ‘n vergange koloniale era.

‘n Ingang met vreemde behangsels aan ‘n boom, prikkel die nuuskierigheid.

Hierdie een is my persoonlike gunsteling.

As hekke kon praat…

Woestynvlei

Hierdie wonderwêreld van sand en water staan bekend as Sossusvlei en is seker een van die mees gesogte toeristebestemmings in Namibië.Om ‘n begrip te vorm van wat daar aangaan, skep lugfoto’s die heel beste prentjie.

Die Tsauchabrivier is die voedingsbron van hierdie vlei en in nat jare,sorg dit vir water in die andersins dorre vlei.Die hele vleikom bestaan uit twee groot areas wat soms water kry.Dan is daar ‘n derde geslote “meer” genaamd die Dooievlei.Rooi sandduine versper al vir jare lank die water om hier in te loop.Die gevolg is ‘n dooie wit aarde met klei neerslae en pikswart geraamtes van  bome,wat donkiejare terug hier gegroei het.Dis ‘n heel spookagtige plek,veral as ‘n mens skemeraand alleen daar ronddwaal! 

Die meeste mense besoek die vlei vroegoggend en omdat ‘n mens saans met sononder uit die park moet wees,is dit die beste om te bly in die Sossusvlei Dune Lodge,wat binne- in die reservaat is.Dan mag jy na sononder nog daar rondhang.Dis presies wat ons gedoen het en dit was ‘n magiese ervaring..net ons,die spokerige boomarms wat reik na ‘n hemelgewelf vol kristalle en die stilte wat mens se ore laat suis!

Uitsig oor die Dooievlei,(middel)afgeskort deur rooi duinsand.Agter is ‘n gedeelte van die vlei wat soms water kry.

Die Dooievlei met die watervlei reg langsaan en linksvoor.Dis nou van die anderkant af.

Die rivierloop is sigbaar in die middel links.

Water is duidelik sigbaar.Dooievlei is nou regs agter en ander waterdeel is reg langs Dooievlei.

Die voorste rooi duin is ‘n gewilde klimplek.

Die Kameeldoringbome daar naby,sorg vir heerlike skadu en piekniekplekke.

Dooievlei nou links bo .

Horingou modderneerslae,sorg vir ‘n pragtige sandskildery!

Grypende boomhande laatmiddag in die Dooievlei.

Wonderlike woestynland vanuit die lug

Die Namibwoestyn fassineer my van kleinsaf en verlede week het ek die voorreg gehad om oor ‘n gedeelte daarvan te vlieg in ‘n redelike stabiele muskiet.Ek was aanvanklik vreesbevange,maar later het ek ontspan en besluit dat die waagstuk deur en deur die moeite werd was!

Met my kamera wat klik en klik,het ek die ongelooflike skoonheid probeer verewig.Ons vlug was oor die rooi duine vanaf Tsondabvallei tot by Sossusvlei,waar ons gedraai het en weer terug is vir ‘n vlug oor die Kuiseb Canyon.Dit was ‘n grootse ervaring en ek sal dit enige dag weer doen!

Lieflike rooi duine.Hierdie duine is heelwat ouer as wit en geel duine en die rooi voorkoms is vanweë die korosie van die yster in die sand.Dus hoe rooier,hoe meer geroes,hoe ouer.Wanneer mens ‘n magneet oor die sand trek,staan die ystervylsels soos hare op ‘n hond se rug daarop.

Duine naby Sossusvlei,met die rivierloop van dieTsauchab,wat lyk soos groot wit are.

Wat kan ek sê….?Gewoonlik is hierdie duine sonder plantegroei,maar na die ongewone goeie reënjaar,is dit oortrek met gras en bossies.

Versteende duine..nog ouer as die vorige rooi duine..miljoene jare se kompaksie,maak dit hard soos klip.

Feetjiesirkels

Die geheimsinnige feetjiesirkels van Namibië,wat strek vanaf Angola tot in die Noord-Kaap,lê in ‘n parallelle strook met die Atlantiese kus.Niks groei in hierdie sanderige sirkels nie en vanuit die lug gee dit ‘n mens ‘n goeie beeld van hoe dit lyk.Onlangs was daar ‘n berig in Beeld,wat min of meer die mites ager die sirkels, die lug inskiet.

Daar was aanvanklik drie teorieë:

1.Radio-aktiewe grond-geen tekens van buitengewone uitstraling is egter gevind nie.

2.Gifstowwe wat deur die Damara-melkbos afgeskei word-daar is gevind dat woestynplante soos die grasspesie “Lolium Multiflorum”, onder melkbosse floreer..dus is dié teorie ook onder die bos begrawe.

3.Grasdraertermiete wat die plante binne die sirkels wegdra-slote van twee meter en dieper is in en om die sirkels gegrawe en geen teken van termiete is gevind nie.Dus is hierdie teorie ook na die miere!

Nou het hul tot die gevolgtrekking gekom ,dat dit aardgas is wat boontoe borrel en dan op die oppervlak oopbreek in ‘n volmaakte sirkel.Die gronchemie verander en niks groei in die sirkel nie.

Ek hoop van harte nie dat die vraatsugtige mensdom in hierdie wonderlike wêreld gaan ronddolwe vir olie of ander energiebronne nie.

Ek wens dit was regtig feetjies wat hier gedans het!

Hierdie lugfoto’s is naby Sossusvlei geneem.

Moes ek of moes ek nie?

Gister was ‘n gewone dag, vol helder sonskyn en ‘n vars briesie wat oor die see aangewaai kom.Ek sit en kyk na die parkeerarea reg voor ons blyplek en verwonder my aan al die flukse stappers en drawwers,wat armswaaiend en voetklappend hul vroegoggend inspanning doen.

Verskeie brakke hol rond aan leibande of sommer net uitbundig los.My oog raak skielik gevang deur twee jong armoedige knape,wat vir ‘n piepklein brakkie water gee in ‘n ou afgeskeurde melkkarton.My eerste gevoel is,dat die brakkie verlore is en dat hulle net uit jammerte vir haar water gee.

Ek stoom oor die straat en teen hierdie tyd,krap die tweetjies in ‘n asblik en die ou hondjie waggel agterna.Ek vra hulle of dit hul brakkie is en of die dingetjie verdwaal is.Ek weet nie of hulle ‘n geleentheid gesien het nie,maar hulle sê ek kan ‘n prys onderhandel plus ‘n ou ietsie te ete.Die groen sous van iets wat hulle uit die asblik ge-aas het,drup van die een se ken af! Heeltemal impulsief vat ek die brakkie,draf huis toe en pak vir die twee ‘n groot sak kos en ‘n geldjie vir die brak.

Die twee is so dankbaar, druk vir oulaas vir Fluffy (die naam wat hulle vir haar gegee het) en hervat hul roete van asblik tot asblik.Ek staan met die brakkie in my arms en wonder wat my besiel het.Ek is met vakansie in ‘n ander land en moet met die vliegtuig huis toe en hier staan ek met ‘n hond!

Doen toe maar wat mens doen met ‘n nuwe woef.Ek gee vir haar ‘n bakkie water en bietjie koue vleis. Dis al wat in my yskas was.Die ou dingetjie raak naderhand aan die slaap,maar ook nadat sy ‘n voorspelbare plassie op die mat gemaak het!Hoekom kies honde altyd matte?

‘n Uur of wat later,besef ek dat daar nou tot aksie oorgegaan moet word.Ek laai die ou diertjie in die kar en ry na die naaste veearts,wat vir my aanwysings gee na die DBV.Daar gekom,word ek aangenaam verras.Omtrent twintig brakke van alle groottes, kleure en soorte,verwelkom my by die hek.Selfs die katte loop houtkerêrie daar rond..een groot gelukkige dierefamilie!

‘n Baie vriendelike vrou laat my ‘n vorm teken en dis koebaai aan my nuutgevonde brakkinnetjie!Met ‘n knop in my keel,ry ek huis toe en hoop in my hart dat klein Fluffy ‘n goeie huis kry.My hart voel ook seer oor die twee jongmense,wat hul troeteldiertjie verkwansel het vir ‘n sakkie kos.

Dis die ongelukkige werklikheid van ‘n wêreld vol armoede en ellende.Die hondjie gaan uiteindelik ‘n beter toekoms tegemoet..hoe ironies!

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +