Saterdagoggend was ek heerlik verras.My huishulp het my Vrydag gevra om haar gou Saterdag met ietsie by haar huis te kom help.Daar aangekom,sit sy en haar vier kinders met blink oë en uitgevat in hul sitkamer.Die klein eetkamertafeltjie in die hoek,is netjies gedek met teekoppies en heerlike eetgoed en ek word soos ‘n koningin verwelkom.
Liewe Leitjie trek los en bedank my omdat ek volgens haar so goed is vir haar en haar gesin.My oë was vol trane,want mens help maar net waar jy kan en besef nie altyd wat dit vir mense beteken nie.Ek was veral geskud,toe sy sê dat ek en manlief van die min mense is wat haar soos ‘n mens laat voel.Dit was nogal skokkend en ‘n aanklag teen baie van ons.
Nadat foto’s geneem is en die jongste enetjie vir my ‘n hele Engelse kinderboek vlot deurgelees het,is ek nog verder bederf met ‘n bos blomme en ‘n dankie-sê kaartjie in Afrikaans!Dit was so ‘n heerlike oggend en ‘n uur en ‘n half later is ek daar weg met ‘n lied in my hart.
Hierdie vrou,wat vier jaar gelede een keer ‘n maand haar kinders in die “tuisland”gaan sien het,het nou ‘n volwaardige warm gesinstruktuur opgebou.Ek het haar aangemoedig om die kinders te gaan haal en hulle by haar te hou.So deur die huiswerkies deur het ek haar sommer ouerleiding gegee en doen dit vandag nog steeds.Dis vir my wonderlik om te sien hoe hierdie gesinnetjie uiteindelik gejel het en deur dik en dun by mekaar staan!
Ons besef nie altyd watter sosiale skade aan gesinstrukture gemaak is deur ‘n stelsel wat families uitmekaar geskeur het nie.Al is die vader in hierdie geval totaal afwesig,kan hierdie vrou haar kop hoog hou en haar kinders leer om respek te hê vir andere en om mekaar te ondersteun.
Dankie Leah,jy is een van die beste mense wat nog ooit my pad gekruis het!