My Covidprojek

Ek het iets begin, wat my elke dag laat opstaan. My liewe huishulp van dertien jaar, het vyftien jaar gelede haar bestuurslisensie gekry op een van daardie platbak vragmotortjies waarmee elke tweede ryskool hul kandidate leer bestuur het. Dus het sy amptelik ‘n C1 lisensie. Ek het ‘n B lisensie, wat dui op ‘n gewone motor en motor met sleepwa.

Nodeloos om te sê, vanaf die dag waarop sy haar toets geslaag het, het sy nooit weer eers soveel as ‘n kruiwa bestuur nie. Elke vyf jaar het sy getrou haar lisensiekaart hernu en toe Covid ons tref, het ek besef, sy moet haar lyf uit oorlaaide, besmette taxis kry.

Ek het haar by ‘n ryskool ingeskryf en ‘n sagmoedige dierbare vrou het haar begin neem vir lesse. Sy moes heel van vooraf leer hoe om ‘n motor te hanteer en dit was duidelik dat daardie lisensie nie die ink en foto daarop, werd was nie. Dis eintlik skokkend as mens daaraan dink hoeveel mense met sulke lisensies rondry…. sy het hare heel wettig gekry.

Ons het ‘n tweedehandse klein motortjie aangeskaf en met ‘n reuse L agterop die ruit, gaan ry ek en sy elke dag in die stil strate van die buurt. Aanvanklik was my senuwees aan flarde en my hand was permanent op die handrem vir die wis en onwis.

Tussenin kry sy steeds haar lesse by die ryskool en sy word aan die verkeer blootgestel. Die ryskoolmotor het dubbele remme en koppellaar, sodat die instrukteur ook beheer het. Ek sien nog nie kans daarvoor nie, maar intussen oefen ons koppellaarbeheer, veilig om draaie en spoedhobbels gaan, trurat, u- draaie en driepuntdraaie.

Ons het ons angsvolle oomblikke, waaroor ons agterna heerlik lag. Gelukkig het niemand gesien toe die kantspieël ‘n trollie-asblik tref wat bietjie te ver in die pad gestaan het nie. Dit was asblikdag en die straat was vol swart trollies. Van pure skrik ry ons toe sommer tot bo-op die sypaadjie, waar die motor rukkend tot stilstand gekom het. Diep asemhaal, moed inpraat, vasstel dat daar geen skade is nie, is ons weer vort. Agterna moes ‘n sterk koppie tee as lafenis dien.

Op ‘n ander keer was die pad te nou vir ‘n u-draai en die sypaadjie ‘n bietjie styl om sommer daarteen op te ry. Met ‘n slag, tref ons die hoë grond en met die terugtrek, ploeg die motor se lae voorkant, die gras uit, dat jy net polle sien spat. Gelukkig weer nie veel skade nie, behalwe dat daar nou ‘n effense sloot is, waarvan net ons weet. Wanneer ons daagliks ons roete ry, lag ons elke keer as ons by die boe- boe plekke verby gaan.

Terme soos poer-poer (te stadig), goep-goep (wanneer die kar ruk) oeghhh ( wanneer die kar stol), is deel van ons taalgebruik tydens lesse. Ons albei geniet dit baie en sy vorder pragtig.

Met ons identiese maskers op en ons tjorretjie met die reuse L agterop, is ons nou al ‘n bekende gesig in ons buurt. Gelukkig gooi niemand meer wye draaie om ons nie, want oefen en oefen lei tot sukses.

Mooi so Leah!

Vreemde tyd

2020 het aangebreek soos enige ander nuwe jaar in die 66 jaar wat ek al op die aarde is.Vanaf November 2019, was daar kort-kort gerugte van ‘n epidemie in Sjina, maar ons het ons min daaraan gesteur. Dis mos ver van ons af .

Einde Februarie het ons ‘n kleindogter ryker geword en die plan was dat ek na ons wegbreek, sou gaan help met die nuwe kleinding. In Maart was ons op ons jaarlikse uitstappie na die Kgalagadi. Dit was wonderlik en terwyl ons daar was het allerhande gerugte van grenssluitings en inperkings die rondte begin doen.

Gelukkig was ons al tuis, toe die skokkende nuus kom dat ons ingeperk word en nie eers met ons kinders mag kuier nie. Die kinders met die nuwe baba moes self sien kom klaar en waar ek vreeslik graag my dogter wou help, moes sy maar alleen regkom.

Aanvanklik was dit snaaks en het ons elke dag geoefen, kos gemaak, nuwe resepte uitprobeer, gelees, gelag, tv gekyk en sommer net buite gesit in die heerlike soel laatsomer- en vroeë herfsdae.

Uit Duitsland het my seun laat weet dat hulle in kwarantyn was, na ‘n ski- naweek in Italië. Die oord waar hulle was, was een van die plekke waar die virus met mening toegeslaan het. Gelukkig kon hulle die huis haal, sonder dat hulle in Italië vasgekeer is. My seun- hulle, was albei siek, maar is nooit getoets nie. Hulle vermoed hulle het die virus gehad, na aanleiding van die simptome. Iemand het elke dag vir hulle kos gebring en by hul deur gelos. Die werklikheid het stadigaan by ons begin insink, dat daar iets leliks aan die broei was.

Hier in SA was daar baie gegis en gewonder of dit nie ‘n politieke maneuver was om beheer oor mense te hê nie en samesweringsteorieë het orals op sosiale media rondgevlieg.

Toe begin die eerste gevalle, die eerste sterftes en die ding begin al naderkom. Eers was dit stadig en min gevalle. Weer is daar bespiegel dat dit leuens is en dat statistieke gedokter word om ons in die duister te hou.

Die dag het gekom dat dit aan ons deur kom klop het. Iemand in ons buurt het gesterf, sy vrou dodelik siek. Hier en daar begin mens hoor van iemand wat jy ken. Tot die dag wat my skoonseun en dogter ook platgetrek word. Die viermaande oue baba was ook nou in gedrang en ons het nie geweet wat om te doen nie. Eindelik het hulle besluit sy moet maar by hulle bly en dat hulle maskers dra naby haar en heeltyd steriliseer voor hulle aan haar vat. Sy kon ook nie na ons toe kom nie, want sy kon ‘n moontlike draer sonder simptome wees.

My ander dogter het aanlyn begin klasgee en ‘n hele nuwe wêreld is geskep. Aanvanklik het dit maar met rukke en stote gegaan, maar soos tyd aanstap het hul tegniek verbeter en kon hulle later dit weer toepas toe vakbonde dwang gebruik om weereens die skole te sluit.

My oudste dogter en haar man is omtrent in die diepkant ingegooi. Met twee lewendige seuntjies wat opgekrop tuis moes sit en ‘n ma en pa wat veeleisende beroepe aanlyn probeer beoefen, het dit soms dol gegaan. Toe die pappie ‘n noodblindedermoperasie moes ondergaan, was dit eers chaoties. Geen besoeke is toegelaat nie en hy was regtig baie siek. Gelukkig het hy Covid vrygespring.

Waar ouers vroeër kon inspring en help, moes ons nou slegs sit en kyk hoe ons kinders spook om alles onder beheer te hou. Dit laat mens magteloos voel.

Intussen het een van my beste vriendinne eensaam in ‘n hospitaal aan kanker gesterf en ‘n ander een se man is oorlede nadat sy hom meer as ‘n maand gelede laas kon sien. Dis so onnatuurlik, maar ek verstaan dis oral aan die orde van die dag en niemand se storie is uniek nie. Terloops, net 15 uitgenooide mense mag die verassingsroudiens in ‘n kapel bywoon.

Dis asof daar ‘n hele gat in my lewe is. Ons kan nie ons kleindogter sien ontwikkel nie en ons kleinseuns word onderwerp aan onnatuurlike gedrag soos maskers dra en afstand hou. Probeer dit nou aan ‘n drie- en sesjarige verduidelik. Vreemd genoeg, verstaan hulle dit en pas goed daarby aan, maar die effék wat dit later gaan hê is nog onseker. Een van hul hulponderwysers het ook gesterf en dit is nou die kleinste wat vir jou oor die telefoon sê: “Teacher Sibongile died from Covid”!

Ek het vir niks lus nie, het lanklaas geblog, gaan nêrens as ek nie moet nie, lees niemand se blogs nie. Kortom, ek het my lewenslus verloor. Ek veg bitter hard daarteen, want ek besef dit is depressie. Dus as ek nie by julle lees nie, wees geduldig. Ek sal weer die lig sien.

VVVTT Towerinwêreldtoer. Hfst 4 deel 2

Wat reeds gebeur het: https://perdebytjie.wordpress.com/2020/07/06/vvvtt-towerinwereldtoer-hoofstuk-4-deel-1/

Almal bondel uit die voertuig en draf nader na die klipman. Omdat dit Towerinne is, begin hulle ‘n gesprek met hom voer, wat min of meer só klink:

Vraag:”Mannetjie, hoekom sit jy hier op dié verlate plek? “Antwoord: “Kughukughu!”

V: “Mannetjie is jy dors vir ‘n knertsie?” A:”Kughukughu!”

Na vele probeerslae gee almal moed op en bestudeer sy fyn afwerking van naderby en gooi ‘n paar aalmoesies in sy verroeste bedelblikkie…IMG_8149

Ons  ry verder en kom uiteindelik by ‘n interessante padteken uit. Dit staan bekend as die Groen Drom…IMG_8156

‘n Mens moet jou storie ken in die woestynland. Vanaf die drom loop paaie in verskillende rigtings en jy moet weet waarheen jy mik. Grapjasse wat al hier verby is, het verskeie lagwekkende items en plakkers, agtergelaat en vir ‘n oomblik talm ons om te  sien wat alles daar is. Die botteltjie Jaegermeister sorg vir groot opgewondenheid, want die drank-connoisseurs in ons midde lek lippe af vir ‘n doppie. Helaas, iemand was reeds voor ons hier…sugggg… IMG_8157

Ons koers verder na die westelike kant van die Hartmannvallei…IMG_8238

By ons kampplek word tente uitgedeel, wat self opgeslaan moet word. Sonell protesteer kliphard dat haar pragtig gemanikuurde naels gaan breek. Frannie steek viervoet vas en dreig dat sy Perdebytjie met een van haar broodjies oor die kop gaan slaan. Kort voor lank murmereer almal en Perdeby swig onder die druk. Tyd om die towertent uit te haal en oop te vou. Die gerieflike beddens en badkamergeriewe, laat almal bedaar en oeee! en aaa! oor die pragtige omgewing…IMG_8175IMG_8350

‘n Reuse trop springbokke kom nuuskierig nader…IMG_8232

Na ‘n heerlike nagrus in uiterste luuksheid styg die towertent op en hang bokant die uitkykpunt oor die Kunenerivier en Hartmannvallei.Misslierte maak die rivier onsigbaar. Anderkant die rivier is Angola…IMG_8211

Nietige mens, wat dink jy kan die wêreld regeer! Hierdie bring mens tot jou sinne…IMG_8328

IMG_8331

IMG_8253

Verskeie lugstrome laat die towertent teen ‘n flinke spoed by die Blou Drom land…IMG_8362

Die humorsin ontgaan niemand…

 

Die volgende landingsplek is die Rooi Drom…IMG_8371

en ‘n ontmoeting met Himbavrouens…IMG_8418

Die pragtige Marienflussvallei oppad na Camp Sincro, langs die Kunenerivier…IMG_8400

Wie sit daar?IMG_8396

Nog een van die geheimsinnige Kaokoland klipmanne. Hierdie een wou glad nie praat nie en het nie eers opgekyk toe Seegogga vir hom ‘n glasie van haar bokswyn aanbied nie…IMG_8397

Na ‘n heerlike nagrus in ons gerieflike Towertent, word Toortsie, Woordnoot en Kameel wreed ontnugter deur hierdie skepsel…IMG_0327

Hulle kies sommer die hasepad…IMG_8754

Die tent haal hulle eers in by die Hoarusibrivier. Adrenalien doen snaakse goed met mense! Ons oornag hier. Perdeby sê sy het nou genoeg van gemak gehad en verkies om in haar eie tent op die sanderige rivierbedding te slaap..IMG_8797Die volgende oggend styg ons vir oulaas in ‘n stofwolk op en wuif totsiens aan die pragtige Namibië. Ons reis word nou verder beheer deur Seegogga….

Hierdie hoofstuk vorm deel van die uitdaging vir Afrikaanse bloggers wat as die Towerinne bekend staan. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar, onverklaarbaar. Maar nie vir die Towerinne nie.

As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die eerste hoofstuk te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.

Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel https://fresh.inlinkz.com/party/935a80f8f1d64f4f8f4a491bb1abb030

 

 

 

 

VVVTT Towerinwêreldtoer. Hoofstuk 4 deel 1.

Hierdie hoofstuk vorm deel van die uitdaging vir Afrikaanse bloggers wat as die Towerinne bekend staan. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar, onverklaarbaar. Maar nie vir die Towerinne nie.

As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die eerste hoofstuk te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.

Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel https://fresh.inlinkz.com/party/935a80f8f1d64f4f8f4a491bb1abb030

Sou jy graag deel van hierdie avonture wou raak en self ‘n hoofstuk saamskryf, kan jy dit ook in die kommentare noem.

Die V(Vlieënde)V(Virus)V(Vlugtende)T(Towerin)T(Tent) ruk en skud toe ek (Perdebytjie) die Kwien op die muntstuk, se neus vryf. Sy moes beslis ‘n niesbui gehad het, maar gelukkig stabiliseer die tent en ons vlieg op ‘n gemaklike spoed deur die lug, oppad na Perreby se gunsteling plek…Namibië!

Die tent maak ‘n sagte landing in die droë Hoanibrivierbedding. Voordat die tentflappe behoorlik oopgaan, gil die klomp Towerinne van verbasing want ‘n pragtige leeuwyfie kom doelgerig op ons afgestap om te kyk watter vreemde voorwerp in haar domein geland het…IMG_8059Gelukkig het ons towertent ‘n selfbeskermende funksie en verander in ‘n lekker digte bos. Mevrou leeu stap rustig verby.

Net toe almal dink dis veilig om uit te klim, gil Bondels waarskuwend, dat daar nóg ‘n leeu is, dié keer, ‘n befoeterde kraagmannetjie, wat ons kwaai aangluur…IMG_8162

Die towertent lig outomaties op en vlieg verder tot by ‘n rotsagtige wal, langs die Hoanibrivier. Terwyl ons so in die lug hang sien ons ‘n pragtige gesig…’n leeuwyfie wat gemaklik teen die krans afklim…IMG_8218

Die Towerinne snak na hul asems toe hierdie toneel hom afspeel in die Dubispoort, net ‘n entjie verder…IMG_8356

Asof dit nou nie vir genoeg opgewondenheid sorg nie, sien ons hierdie ou olifantbul rek en strek, om blare van ‘n Anaboom af te stroop…IMG_7896

Steeds is dit nie die einde aan verrassings nie. Oor die heuwel verdwyn twee kameelperde…IMG_8419

Uiteindelik na ‘n opwindende dag, land ons tent op ‘n verlate plek, waar netjiese tente met gerieflike slaapmatrassies op ons almal wag..IMG_8018

Die spulletjie kreun en steun om by die tente in en uit te kruip, maar na ‘n paar knertsies  Franjelico en ander saamgeflansde tuisgebroude konkoksies, om die lieflike kampvuur, raak dit al hoe makliker…IMG_8031Hulle kom nie eers agter dat daar geen geriewe is nie en plons later net so vuil neer op die slaapgoed, ala Towerinstyl..enige iets is moontlik!

Die volgende oggend sweef ons tent vroeg-vroeg Noordwaarts na Purros. Die Towerinne sien taamlik gehawend daaruit, maar toe hulle hoor daar is ‘n dorp en ‘n winkel, helder almal sommer dadelik op. Soos net vrouens kan, bespreek hulle opgewonde wat hulle alles gaan koop en hoe hulle lekker gaan stort by die dorpshotel. Perdebytjie lag skelmpies in haar mou, want dít is die winkel…IMG_8058en van ‘n hotel met stortgeriewe, is daar geen sprake!

Die naaste wat ons nou aan water kom,  is die yl watertjies van die Hoarusibrivier. Hier wag ‘n vier by vier voertuig op ons en die tent word netjies weggepak. Die verskeie warm en koue lugstrome oor die woestyn, sal ons tent in ‘n spiraal boontoe suig, of laat neerplons met nare gevolge…IMG_8066

Ons ry uit die Hoarusbrivier Noordwaarts en die omgewing verander na dor en onherbergsaam.Die volgende toneel laat die Towerinne na hul asems snak. Dit staan bekend as die kleikastele…IMG_8539Daar word vermoed dat die Hoarusib miljoene jare gelede ondertoe geblok is en hierdie klei-neerslae so gevorm het.

Skielik sien ons dit…IMG_8076Ons volg hierdie olifantspore vir meer as dertig kilometer, voordat dit terugdraai rivier toe. Daar is absoluut niks, maar hy stap!

Fantastiese tonele soos hierdie…IMG_8085

en hierdie…IMG_8557

volg. Om ‘n draai kom ons af op hierdie interessante rots, wat bekend staan as Die Ysbeer…IMG_8112

Naderby lyk dit so…IMG_8114

Verskeie kopsere as gevolg van die vorige aand se mildelik vloeiende voggies, roep nou om koffie en ontbyt. Dis net hier in ou Ysbeer se skaduwee, waar ons afpak vir ‘n boerelafenissie…IMG_8118

Die verlatenheid en stilte is onbeskryflik…IMG_8124

Na ontbyt ry ons verder, kilometer na kilometer. Almal raak al hoe stiller, want skielik tref die besef hoe nietig die mens in werklikheid is. Uiteindelik is daar ietsie van die beskawing in sig…toe net ‘n naambordjie en ‘n uitsig sewe dae in die toekoms in…IMG_8138

Hier moet ons regs draai, want niemand word sonder ‘n gids in die Skedelkuspark toegelaat nie. Skielik is daar ‘n beroering onder die Towerinne. Frannie beduie opgewonde dat doer ver iemand onder ‘n boom sit. Nou babbel dit opgewonde en Toortsie haal dadelik een van haar banting broodjies uit ‘n Tupperbak, om vir die arme siel te gee. Die ander klomp bespiegel nog, waarom iemand op so ‘n verlate plek sal sit onder die enigste witgatboom in honderde kilometers…IMG_8150

Dis toe al die tyd een van Kaokoland se geheimsinnige klipmanne…IMG_8142

(Word vervolg)

NS. Die verhaal is suiwer verbeelding, maar die foto’s is in ‘n kronologiese volgorde van ‘n werklike toer deur Kaokoland en Hartmannvallei.

 

 

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +