Kuier-safari: Die waarheid is uit.

IMG_0469

In vanoggend se Kromkoerant, verskyn hopelik die laaste berig oor hierdie aangeleentheid, onder die opskrif:

Broodjie kry haar loontjie.

Gistermiddag was hier totale chaos by ons kantore. Alles het begin met ‘n blou Uno, wat met skreeuende bande en met verskeie knalgeluide, reeds van vêraf hoorbaar, deur die voorportaal se deure gebars het.

Verskrikte kantoorpersoneel moes tot hul skok agterkom, dat die insittende die immergewilde me Broodina Barber was. Sy is soos reeds bekend, ons koerant se verslaggeefster van damsake en plaaslike morele standaarde. Die druipnat,  modderbesmeerde me Barber was gelukkig ongeskonde en het al swetsende, uit die verwoeste Uno gestrompel.

Die ore het behoorlik getuit oor die taalgebruik uit hierdie puriteinse dame se mond. Iemand het grappenderwys ‘n koekie seep aangebied, wat nog ‘n string totaal onbekende woorde vir geskokte lede van ons behoudende kantoorgemeenskap, tot gevolg gehad het.

Kort na die voorval, het een van die dames van die nou reeds berugte Broodbus, haar opwagting by die kantore gemaak en ‘n volledige verslag van gebeure aan ons beskikbaar gestel. Sy was smaakvol geklee in ‘n geel kniehoogte ontwerpersrok met bypassende stiletto’s en knyphandsakkie.

Na ‘n lang intense gesprek, het ons tot die gevolgtrekking gekom, dat ons joernaliste, die dames van hierdie bus, onnodiglik en onregverdig in ‘n heel slegte lig gestel het. Me Barber se felle aanslag, was die finale brood wat die kameel se rug gebreek het.

Om me Barber verdere verleentheid te spaar, sal ons nie verder ingaan op die gebeure by die Elephant Sanctuary nie. Haar ontslagvorm lê klaar gereed op haar tafel en sy het reeds aanduiding gegee dat sy nuwe weivelde gaan opsoek om haar brood te verdien.

Ongelukkig het die storie ‘n nadraai met ‘n kaserige klankie. Met openingstyd, vanoggend, kon niemand die kantore binnegaan nie. Al die vertrekke was gehul in ‘n rioolagtige walm en ons personeelbeampte het almal gemaan om vir eie veiligheid nie die gebou te betree nie.

Die munisipaliteit se rioolwa het later opgedaag en onder die bekwame leiding en toesig van mnr. Poen Schuyters en me Letrine Spoelsma, ingenieurs water en  riolering, is die septiese tenks agter die kantoorgebou, leeggesuig.

Desnieteenstaande al hierdie pogings, het die walm hardnekkig bly vasklou. Uit desperaatheid het ons Sersant Sputnik Beeslaar, van die plaaslike polisiekantoor ontbied. Sy snuffelhond, Kaasje, het vinnig die bron van kwaad uitgevis. Op me Barber se lessenaar was die kamerasak, wat sy die vorige dag op haar vervolgings-en agtervolgingstog van die Broodbusdames, saamgeneem het.

Selfs Kaasje, wat nogal daarvan hou om per geleentheid vir homself ‘n kamoefleerkakkragie te skep, deur met sy skof in ietsie misserigs te rol, het verskrik teruggedeins by die geur uit genoemde sak. Na ‘n deeglike terplaatse ondersoek, het ‘n met sakdoekgemaskerde Sersant Beeslaar bevind, dat die sak lewe van stukke baie beleë bloukaas en ander onbekende sterk variëteite.

Die vermoede ontstaan, dat dit by die Van Gaalen Kaasmakerij gesteel is en met ‘n kinderagtige wraakmotief, deur me Barber geplant is. Haar ontslag kon nie op ‘n beter tydstip gekom het nie.

img_0473.jpg

Die verdagte kamerasak met verskeie sterkgegeurde kase.

Ons hier by die Kromkoerant, slaak ‘n sug van verligting dat die afgelope week se gebeure tog goed afgeloop het. Ons vra ook nederig om verskoning vir die aantygings en baie swak beriggewing aangaande die groep hoogs gesofistikeerde dames op die Broodbus.

Hiermee ons beste wense vir die res van hul toer vorentoe.

Vis de Arend, Redakteur en hoofaanvoerder van reggestelde sake.

Volg die verdere avonture van die dames op die Broodbus hier:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

‘n Amerilla vir Ma

Dis weer 22 September, amptelik lentedag en Ma se verjaarsdag. Onder die afdak blom die bloedrooi Amerillas in die pot, wat sy staanplek hier gekry het, toe Mams ouetehuis toe is.

Die onthou is seer en lekker en vandag stuur ek vir Ma ‘n kiekie die ruimte in..

IMG_4716

Mams se verlangende dogter.

Kuier-Safari:Laaste Koerantverslag

fishing ocean boat tropic
Photo by Pixabay on Pexels.com

In vanoggend se Kromkoerant verskyn die volgende berig onder die titel:

Wilde Waters.

Ons ondergrondse, onderduimse misdaadverslaggeefster, me Hia de Sint, het gistermiddag inderhaas op ‘n missie na die dam vertrek. Haar haastige optrede spruit uit ‘n wenk wat ontvang is van ene mnr. Kosmo van Dam, wat aan die waterkant in Kosmos woonagtig is.

Sy onrus spruit uit die feit dat daar ‘n geheimsinnige, oorlaaide, vlotagtige vaartuig eers teen sy geankerde multimiljoenrand seiljag gestamp het, voordat dit vinnig die dam ingevaar het. Daar is beslis misdaad vermoed en ons parate misdaadverslaggeefster is in alleryl na die toneel.

By haar aankoms, geklee in ‘n kanariegeel bikini, onder ‘n styfpassende duikpak en ‘n paar swemvinne en duikbril in haar rugsak, moes sy daadwerklike besluite neem vir vinnige optrede. By die jetty was ‘n vaagbekende man, met ‘n kamera en ‘n kop vol knoppe en dagoud rowe. Sy kon hom nie plaas nie, want sedert die vorige dag het sy nog in ‘n waas verkeer, na ‘n nare ondervinding met veertien dames op die nou berugte giggelgroen Broodbus.

Na effense oorreding…bietjie beenwys en so-aan, is me de Sint saam met hom in sy gehuurde motorboot agter die vlotagtige vaartuig aan. Uit haar gesprek met hom, blyk dit toe dat hy ‘n brood te sny het met die passasiers op genoemde vlot. Dit was die einste groep, wat hom enkele dae gelede, met veertien pare stiletto’s, amper bokveld toe gestuur het.

Met die vaartuig in sig, het ‘n paar skokkende feite aan die lig gekom. Uit ‘n kleinhuisie agterop, het ‘n permanente suil rook boontoe verrys en verskeie dames het beurtelings en kort- kort, koketterig uit genoemde ruimte vir verbygaande vaartuie gewuif. ‘n Verdere verwikkeling was ‘n reuse oranje opblaasmatras wat teen hoë spoed agter die vaartuig aangesleep is. Bo-op was ‘n histeriese,  gillende middeljarige dame, vasgebind. Die vermoede is, dat sy soos reeds vroeër berig, die eienares van die juweelbrood was. Dis heel waarskynlik dat ‘n martelsessie ingespan is, om haar te laat afstand doen van haar welverdiende brood.

In hul poging om tot genoemde  dame se redding te kom, is me de Sint en haar weldoener deur ‘n groep dames vanaf die dek, met stukke Tiramisu bestook. Van die bestanddele, vermoedelik die neutgedeeltes, het in die motorboot se enjin beland en ons helde se vaartuig, in die middel van die dam, tot stilstand laat knars.

Met geen ander bote in sig nie en met die vlotagtige vaartuig, vol jillende juigende dames wat oor die horison verdwyn, was ons helde meer as kniediep in die water. Die boot het soos ‘n sif begin lek, maar me de Sint wat gereeld die Midmar en ander plaaslike damme deurswem, was onstuitbaar.

Enkele ure later is ‘n onbekende paartjie, al soenend, elk met een swemvin aan, op die damwal opgemerk. Hulle was besig om selfies te neem met ‘n groot professionele kamera. By nadere ondersoek blyk dit ons eie me Hia de Sint te wees, giggelend in die gespierde arms van ‘n sekere paparazzo. Liefde is in die lug en ons hier op kantoor hoor dalk binnekort huweliksklokkies lui.

Om die brood oor alles te span, het ons berig ontvang, dat die giggelgroen bus al hoesend en proesend, die dorp in ‘n rookwolk verlaat het! Hopelik is dit die einde van hierdie onstigtelike spulletjie. Harties sal na dese nooit weer dieselfde wees nie.

Broodina Barber…verslaggeefster van damsake en plaaslike morele standaarde.

Volg die verdere avonture van die dames op die Broodbus hier:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

Kuier-safari:Verdere verwikkelinge.

 

In vanoggend se Kromkoerant verskyn die volgende berig onder die opskrif:

Wilde wolke.

Na eergister se debakel op die damwal, waar ‘n groep van veertien welgeklede dames, ‘n onbekende man, met veertien pare stiletto’s oor die kop gekletter het, het ‘n paar wurms uit die brood begin peul.

Ons ondergrondse, onderduimse misdaadverslaggeefster, me Hia de Sint, het dit goed gedink om bietjie speurwerk te doen in die omtrek van die giggelgroen bus. Intussen het ‘n baie knorrige druipnat man, amok kom maak in ons kantore en een van ons joernaliste aan sy hare rondgepluk. Ons vermoed hy was die geheimsinnige volmaan met die swart jas, wat die stiletto-aanval oorleef het. Sy kop was vol knoppe en grillerige groen slierte hiasint, het nog uit sy ore en neusgate gepeul.

Nadat ons hom met ‘n broodjie en ‘n knertsie Frangelico tot bedaring kon bring, het hy met die sak brood vorendag gekom. Sy vriend en informant in Paraguay, het ‘n interessante brokkie nuus met hom gedeel, wat hom genoop het om klandestien, die tannies op die bus te agtervolg…natuurlik in ‘n priesterlike gewaad, met ‘n kamera as uiters geslaagde vermomming.

Voordat hy sy verhaal verder kon vertel, was die kantoor skielik in rep en roer, met me Hia de Sint wat histeries en giggelend oor lessenaars en stoele rondval. Hier en daar het sy rekenaarsleutels gedruk en dae se harde werk uitgewis. Toe ons eindelik agter die kap van die brood kom, was dit die storie wat uitgekom het…

Me de Sint het haar flou gesoek na die giggelgroen bus, sonder veel sukses. Toe sy egter ‘n vreemde laagliggende wolk opmerk in ‘n andersins wolklose hemel, het sy nader gesluip. Die wolk het ‘n walglike soet geur afgegee en toe sy deur die dampe bars, kon sy nie help om opgewonde, “diamant en brood* , dáár is die bus!”, te gil nie. Dit het gelyk of dit aan die brand is, maar veertien giggelende dames het haar met ope brode en rokende pype verwelkom.

Die kletsnat-amokmakende-klandestiene-jaslose-paparazzo het die legkaart verder aangevul. Volgens sy informant in Paraguay het ‘n sekere Carlos van Colombië, een van die dames se katelknapie, ‘n massiewe vrag dagga na Suid-Afrika gesmokkel. Alles het onder die broodmantel van ‘n helikoptervlug en ‘n kastige verhouding met genoemde dame, plaasgevind.

Na ‘n uiters geslaagde geheimsinnige bankroof in die Kaap, was daar skielik baie geld wat van hande verwissel het. Daar word onder andere bespiegel dat ‘n sekere regter om den brode omgekoop is, om daggagebruik te wettig.

Hierdie giggelgroen bus is nou kwansuis op ‘n landswye besigtigingstoer, maar die vermoede bestaan dat dit ‘n fynuitgewerkte komplot was om die daggakultuur onder   die  broodlose volk te bevorder. Volgens inligting is daar oornag ‘n groot sleepwa agter aan die bus gehaak en dis beslis nie vol brood nie.

Ons hier by die Kromkoerant hou die situasie fyn dop.

Vis de Arend…Hoofredakteur.

Volg die virtuele verhaal van die Broodbus hier:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928

* Verfynde vorm van “donner en bliksem”…altoos gebruik deur me Hia de Sint, omdat sy haar heilige van nie oneer wil aandoen nie.

Kuier-safari:Waaghalsige dinge op die damwal.

 

 

 

 

 

Die volgende berig het pas verskyn in Die Kromkoerant…

‘n Geheimsinnige groen bus met 14 welgeklede dames, waggelend op verskillende kleure stilettos en met ontwerpershandsakke onder flappende binne-arms vasgeknyp, het gister teen skemeraand vir ‘n besondere spektakel op Hartebeespoortdam se wal, gesorg. Aanvanklik het dit heel onskuldig gelyk, maar na die klap van verskeie Frangelicobottelproppe en die skink van ‘n skynbaar geheime mengsel van energiedrankie, waarvan die resep direk uit Nieu-Seeland ingevoer is, het dinge begin handuit ruk.

‘n Welbekende en hoogs berugte paparazzo het teen die wal uitgeklim om steelfoto’s van die groep te neem. Volgens ingeligte bronne was hy kort gelede deel van hierdie groep en was daar sprake van betrokkenheid by ‘n groot bankroof. Alhoewel hy blykbaar weggekom het met verskeie trippel D buustelyfies wat propvol banknote gestop was, blyk dit dat daar ontevredenheid was, oor verdeling van weggesteekte juwele, in ‘n brood. Dit het tydens ‘n geheimsinnige en onverklaarbare ontploffing in die hande van ‘n hoogs onskuldige dame geval. Sy was nie eers betrokke by gebeure nie en net toevallig in die omgewing.

Volgens gerugte wou sy opsluit nie die brood oorhandig nie en het daarmee haarself bekroon as juweeldief den brode.Die groep het onderneem om haar saam te neem op safari. Sodoende het die term, Borg met ‘n Brood, kodetaal geword in die groep. Intussen is daar glo verskeie klein broodjies gebak met diamante binne-in…glo nie vir menslike gebruik nie.

Volgens ‘n Paraguaanse bron, naby aan die paparazzo, was hy kastig aangestel om steelfoto’s te neem, maar met die motief om van die diamantébrode in die hande te kry.

Terwyl die fees al rowwer begin word het, merk een van die dames ‘n volmaan wat oor die damwal verrys. Deur wasige Frangelico- Nieu-Seeland-energiedrankie-oge, merk sy dat die maan ‘n jas aan het en dat die strale, die flitsende lig van ‘n kamera is.

Haar deurdringende gille het die ander dames tot daadwerklike aksie laat oorgaan en die volmaan moes vinnig sak, met veertien pare stilettos wat op hom neerreën. In die proses het hy van die damwal afgegly en in die water beland. Gelukkig vir hom was daar genoeg hiasinte vir vastrapplek en adrenalienaangedrewe kon hy soos ‘n lelietrapper, oor die water laat spaander. Om te loop op water het daar en dan nuwe betekenis gekry.

Intussen het die ontstelde dames hul stilettos opgeraap en verward bus toe geslinger.   Teen hierdie tyd was daar al ‘n groot skare wat die petalje oopmond aangegaap het en ‘n joernalis van ons koerant was ook op die toneel.

Die enigste bewys van ongerymdhede was ‘n pikswart priesteragtige mantel, wat later tussen die hiasinte in die water gevind is. In die mantelsak was ‘n vuilgevatte stuk papier met verskeie name op. Onderaan is in ‘n lelike krapagtige skrif geskryf: “Kry vir julle!”

As gesoute joernalis, ruik ek ‘n muwwe brood en sal u beslis op hoogte hou van verdere verwikkelinge.

Hia de Sint…misdaadverslaggeefster by uitstek.

(Die virtuele toer van die veertien dames kan hier gevolg word:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=797928 )

Ma se spieëlkas.

Saterdag 22 September 1919, nege-en-negentig jaar gelede, sien sy die lig.

Liefste Mammie,

Ma is al vyftien jaar weg, maar nog steeds voel dit of Ma net gou iewers heen is. Dis ook goed so, want ek praat steeds met Ma, al is dit nie meer oor die telefoon nie. Ma se spieëlkas is nou my enigste wêreldse verbinding met iemand geliefd wat eens hier was…

img_0458.jpg

In die weerkaatsing is die blou beertjie, wat vir Ma vertroosting gebring het in Ma se laaste dae in die ouetehuis se versorgingseenheid.

Somtyds sit ek voor die spieëlkas en maak die laaie oop, sodat ek Ma kan ruik. Deesdae is die reuk vaag, maar die inhoud van die laaie hou die herinneringe wakker.’n Waaiertjie, twee foto-albums, notaboekies en ‘n prentjie deur een van die kleinkinders, is van die skatte in die laai…

IMG_0453

Die prentjie is ‘n tekening van Ouma met haar bril, vernuftig gemaak van riffeltjiespapier en sellotape…

IMG_0460

Ek kyk deur die foto’s en beleef Ma as jongmens. Hier is Ma lid van Normaalkollege, Pretoria se Studenteraad in 1940. Wat ‘n pragtige, stylvolle jong dame met haar hele lewe oop voor haar…

img_0446.jpg

Troudag 29 Junie 1946…

img_0450.jpg

Saam met Ma se ouers en broers, iewers in 1940.

IMG_0452

In die een laai is ‘n stapel opgerolde papiere. Dis Mammie se hele lewe toegevou in vergeelde dokumente…

IMG_0454

‘n Geskeurde bros rapport  van Standerd 4 gedateer 26 September 1930…

IMG_0464

Matrieksertifikaat, daardie jare genoem Eindsertifikaat van die Middelbare skool. Uitgereik in 1936…

IMG_0456

Graadsertifikaat Universiteit van Pretoria 1939…

IMG_0455

Die volgende foto bring herinneringe aan ‘n vurige, uiters gewilde onderwyseres! Ma was so geliefd by die skoolkinders en kon ‘n barshou met ‘n tennisbal gooi, nogal teen die koppe van stouterds in die klas! Ma was berug daarvoor en ek onthou met deernis die jaar wat ek ook bevoorreg was om by ma Engels te kry.

IMG_0448

Ma was sekerlik die enigste onderwyseres wat dit daardie jare gewaag het om ‘n stapel comics as leesstof in die klas aan te hou. Ma se redenasie was dat kinders wat nie wil lees nie, beslis iets uit die prentjieboeke sou leer. Dit het soos ‘n bom gewerk en ons het die Classics in comicvorm verslind. Later was dit net verflenterde tydskrifte, maar die Afrikanertjies het Engels geleer!

Liefste Mams, al is daar net ‘n spieëlkas met ‘n paar herinneringe oor, sal die diep spore wat Ma getrap het, nog lank sigbaar wees.

Vir ewig in my hart,

Ma se verlangende dogter.

 

Benoude oomblikke

AJ se storie https://ouchmybackhurts.wordpress.com/2018/09/12/die-opelug-myn-klaskamer/ oor diamantdelwery, het my skielik aan ‘n petalje laat dink wat ‘n paar jaar gelede met my gebeur het.

Soos die gewoonte was, het manlief my gereeld saamgeneem na konstruksieterreine waar hy werksaam was. Ek was baie bevoorreg om na groot bouwerke soos die Katse- en Mohaledamme te gaan en die Hooglandwaterskema se uitvalwerke naby Clarens. Soms is ek saam na Botswana se diamant- en Nikkelmyne.

Vir wie nog nie op so ‘n konstruksieterrein was nie, dis bleek! Gewoonlik is daar ‘n tydelike kantoorgeboutjie, met ‘n kombuisie en toilette en ‘n paar stowwerige kantoortjies. Van lowergroen gras en bome, is daar selde sprake…dus kokend warm of ysig koud, met mistroostige winde wat om die hoeke huil. Buite is dit ‘n miernes van bedrywighede. Reuse vragmotors, met wiele so groot soos huise, ry op en af. Kleiner voertuie, gewoonlik 4×4 bakkies, het meestal lang pale agterop, met vlaggies aan, sodat die bestuurders van die reuse monsters, hulle kan raaksien en nie pannekoek van hulle maak nie. Ek was al in een van hierdie goed. Dis asemrowend!

Met so ‘n besoek aan Tati Nickelmyn naby Francistown in Botswana, gebeur dit waarvoor ek al my lewe lank vrees. Ons sou gaan kyk hoe ‘n gedeelte van die rotsformasie weggeskiet word om die nikkel verder te ontgin. Ek was so opgewonde, want so ‘n “blast” is skouspelagtig en altyd iets om te sien.

Eers gou badkamer toe…

IMG_2453 - Copy

vir ‘n vinnige draai. Toe ek die deur toemaak, staan ek met die deurknop in my hand en ek weet hier is groot moeilikheid. Bly toe maar kalm, doen my ding en wag totdat iemand my mis. Ek lees maar solank die graffiti teen die mure en oorweeg om ook ietsie te griffel. Woorde soos: “closet comforts” of soiets dof.

Skielik begin die sirene oorverdowend loei. Dis die teken dat almal uit die myn moet padgee. Dit loei en loei…die sweet tap my naderhand af in daardie benoude hokkie, niemand hoor my wanhopige hulpkrete nie. Ergste van alles, ek gaan die skouspel mis!!

Waar is manlief tog? Het hy van my vergeet? Gewoonlik konsentreer hy so op sy werk, dat hy dalk vergeet het vroutjie is vandag saam!

Eensklaps is daar ‘n geskarrel buite die deur en Solly, die kantoorklerk, kom tot my redding. Dit kos hom die hele deur afskroef om my uit my gesellige selletjie te bevry. Ek is bloedrooi van skaamte en manlief  hang aan die deurkosyn soos hy lag. My kyk was genoeg om gate deur hom te skroei!

Gelukkig was ons betyds vir die ontploffing en my gemoed was darem heelwat kalmer en manlief vergewe…

abstract angelic art blast
Photo by Sebastian Voortman on Pexels.com

Keesstories

Karlientjie en Katrientjie de Kees sit vanoggend heerlik in die skadu van ‘n bosvelddoringboom. Die sonnetjie begin al vroeg-vroeg steek en die luiheid trek deur hul harige lywe.

Niks kom by ‘n lekker bosluis- en vlooisoeksessie nie en Katrientjie begin met lang versigtige hale deur Karlientjie se pels te vroetel vir ongewenste pestilensies. Terwyl sy daarmee besig is, neem Klonkie de Kees sy kans waar vir ‘n suipseltjie melk uit mammie se bors. Sy armpies klou liefderik om haar warm lyf…

IMG_3767

Oeg, saligheid der saligheid! Karlientjie se kop trek sommer so skeef en Klonkie moet klou om nie sy brekfis kwyt te wees nie…

IMG_3769

Met haar ogies styf toegeknyp van pure lekkerte, raak sy amper aan die slaap. Maar wie peul daar uit?

IMG_3771

Kiepertjie de Kees…die klein karnallie verinneweer amper die salige atmosfeer met sy woeligheid…

IMG_3773

Hy klim en klouter en kyk orals, maar duidelik is Katrientjie en Karlientjie nie te veel gepla nie…

IMG_3774

Karlientjie is nou sommer plat op haar sy uitgestrek en Klonkie suig steeds heerlik aan sy vroegoggend melkies. Kiepertjie maak omtrent ‘n oorlas van homself. Hy loer en kyk waar hy nie moet nie…

IMG_3776

Kiepertjie spring nou sommer op almal. Hy wil altyd die middelpunt van die geselskap wees. Hy oefen solank, want eendag gaan hy ‘n reuse mannetjie wees wat almal domineer en slae uitdeel aan die stoutes in die familie…

IMG_3778

Hy is ‘n regte klein pyn, maar sy eintlike mikpunt is om salig en gekoester in mammie Katrientjie se arms te nestel en dalkies ook vir ‘n lekseltjie melk…

IMG_3783

 

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +