Party dae

Wens ek dat ek net in ‘n grot kan bly…

Dan hoef ek nie bed op te maak nie..ek skud net die velle reg en vee met ‘n grasbesempie die grotkamer skoon.

Die dak sal ook nie lek nie en ek sal ook nie nodig hê om die badkamerteëls te vervang nie.Omdat ek die minimum veluitrustings sal besit,sal dit nie ure neem om die enkele kliprakkie agter in die grot te ontruim nie.Die paar goedjies stoor ek sommer buite onder ‘n klip en ek hoef nie twee ander slaapkamers tjok en blok vol te stop met meubels en veertig jaar se opgaarsels wat uit die hoofslaapkamer moes skuif nie!

Verder sal ek nie verf en stofdampe hoef in te asem nie en ook nie die aanslag van ‘n gillende “angle grinder” op my reeds sensitiewe oortrommels,hoef te verduur nie.

Dit sal ook salig wees om te weet geen elektroniese goed soos hekke wat met knoppies werk,mikrogolfoonde waarvan die liggies geblaas het,TV’s wat skielik sneeu,swembadpomp wat rukkerig die gees gee,internet wat verdwyn omdat koperdrade voete gekry het,verstopte dreins en  lekkende toilette,sal my rustige grotwonerbestaan versuur nie.

Maar as ek so loer na die vlieswolkies wat ysige koue voorspel,besef ek  dat ek nooit my lastige huis  vir ‘n grot  sal verruil nie!

Kussings

My eerste en sagste kussing is manlief.Hy is altyd daar wanneer ek hom nodig het.In daardie kussing kan ek huil,lag en skinder,sonder om in die vere te verstik.

My tweede kussing is een van tevredenheid en liefde…dit behoort aan my kinders en kleinkind.Op hierdie kussing kan ek altyd staatmaak vir ondersteuning en kry ek gedurig veertjies terug wat ek deur die jare vir hulle gegee het.

My derde kussing is ‘n oue.Sy gô is al bietjie uit,maar hy is soos ‘n geliefde kussinkie waaraan ek vasklou.Soos enige ou ding,is dit die lekkerste een waarvan ek swaar sal afskeid neem.Dis my skoonma.Sy is ‘n bron van lewenswysheid en het die skerpste humorsin.Haar positiwiteit is ‘n voorbeeld vir ons almal en van kerm en kla sal jy nooit hoor nie.

My vierde kussing is my verbeelding.Op hierdie kussing kan ek vêr ente vlieg,dink wat ek wil,my verplaas uit slegte situasies,stories uitdink en alleen met my eie gedagtes wees.Dis die privaatkussing,waar niemand,maar niemand weet wat daar aangaan nie..net ek!

Ek sou graag foto’s wou plaas,maar met ons huis regmakery,is my kamera iewers diep weggepak,waar ek hom nie kan kry nie.

Woeste dag..

Laat my lekker lag!

Ons is weer besig met verbeterings aan ons huis.Die plek begin skielik uitmekaarval,soos sy twee inwoners,wat ook drastiese aftakeling ondervind.Geen mens of gebou ontsnap van hierdie nare werklikheid nie!

Ons slaapkamer lyk soos ‘n slagveld nadat al die pleister afgekap moes word..vorige kontrakteur het hope sand en bittermin sement gebruik,dus verkrummel alles.Die badkamerteëls is uigekap..vorige kontrakteur se teëls het gelig vanweë te min sement!Die dak is darem klaar geseël en nou kan die mure geverf word.

Dit voel soos ‘n inval.Ons slaap nou wel aan die anderkant van die huis,maar toe ons weer sien is die drein en toilet daar  verstop.Vanoggend na oefening,wou ek gou stort,maar daardie Rooter mense is aan’t werk by die drein.Ek vlug na die gastetoilet om darem net my gesig en hande te was,maar o wee!die Sjinese indrukprop het sy alie gesien en die water dreineer nie!Ai tog,so al skuilende van alle oë buite en in die huis,doen ek toe maar my wassery in ‘n plastiekbeker!

Mens se besittings word naderhand jou baas…eenvoud o eenvoud,wat het van jou geword?

 

Plesier en pyn van aanbouings.

My huishulp het die dapper skoene van aanbouery aangetrek.Sy is vrou-alleen en ek bewonder haar moed en deursettingsvermoe.Eerstens moes sy iemand kry om die planne op te trek en daarna munisipale goedkeuring kry.In die proses vind sy toe uit dat haar buurman twee meter van haar erf ingepalm het.Toe sy hom daaroor uitvra,lig hy haar in dat hy twee meter van sy erf vir sy ander buurman gegee het vir die bou van ‘n garage,toe vat hy twee by haar.Dit was natuurlik voor haar huisie gebou is.Die vent was heel inskiklik om dit terug te gee,maar ‘n week later slaan hy twee makoekoes van sinkplate amper teen haar tuinmuur op en bou toe sommer ‘n toilet vir die nuwe huurders ook daar.Verder het hy die vermetelheid gehad om ‘n aansluiting by haar rioolsisteem te maak!Tot haar ergernis stapel hy ‘n klomp gemors teen die muur op aan sy kant.Dis haar muur,waarvoor ons haar help betaal het,maar ta doen nou alles in sy vermoe om haar te kortwiek.

Die taaie vroutjie laat haar nie van stryk bring nie en gee orders dat hy maar die pakaas teen haar muur moet verwyder en dat haar nuwe muur nou styf teen die makoekoes gaan staan…twee meter is twee meter.Ons stuur volgende week die muurmense om die skuif te doen.Makoekoes is verbode,maar in die area waar sy bly,het een persoon daarmee begin en nou spring die goed op soos paddastoele.Dit is so aaklig.Ek kom baie daar en dis skokkend om die praghuise te sien,met sinkkrotte langsaan.Die munisipaliteit is veronderstel om dit te verhoed,maar die mense steur hulle min daaraan. 

‘n Kostelikheidjie van haar aanbouery is die feit dat haar bouer al die vensterrame,deure en ander boumateriaal op haar huis se dak gestoor het.Soos hy bou,kom die goed een vir een af.Lang vingers in die township is soos die slap takke aan ‘n wilgerboom.Selfs haar tuinstoele en wasgoed is al weggedra.Ons kla,maar in die townships gaan dit rof!

Uiteindelik….

is ek ook hier.Ek het my vrek gesukkel,maar nou hoop ek om deel te wees van almal wat daar van LitNet af weggevlug het.Ek moet nog probeer om my ander goed oor te skuif hierheen.Ek weet net nie lekker hoe om die aangesig van my blog te verbeter nie.Enige slimmes daarbuite wat raad kan gee?

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +