Transkgalagadi-stories 5

Douvoordag geniet ons ‘n vinnige koppie koffie met beskuit en groet ons vriendin.Die laaste skof het aangebreek.Dis so negentig kilometer na Mamunogrenspos, aan Botswana se kant. Dit maak eers sewe-uur soggens (agtuur in die winter) oop en as jy te vroeg daar is,staan daar reeds ‘n lang ry voertuie,veral vragmotors, wat sommer die nag daar oorgestaan het. So in die halfskemer moet mens weereens versigtig wees vir diere op en langs die pad.

Die pad gaan verby plekkies met name soos Karakobis, Xanagas en Charles Hills. Die grenspos is nie te sleg nie en dit gaan redelik vinnig, nadat jy weer papiertjies in duplikaat ingevul het.Die honde hoef nie hier verklaar te word nie, net met die terugkomslag,wanneer hulle Botswana inkom.Dis gewoonlik dán ‘n gesukkel om die staatsveearts op te spoor. Dié se kantoortjie is ‘n lendelam houtgeboutjie en die ou sit soms in sy kar onder ‘n doringboom om die hitte te ontsnap, of al kletsende iewers tussen die ander amptenare in die hoofgebou, waar daar darem bietjie lugverkoeling is.

Nou is dit deur die Namibiese grenspos, Buitepos. Ook nie te sleg nie, maar weereens vorms invul voor jy ‘n tjap in jou paspoort kan kry. Deur die jare het ek reeds ‘n dik stapel vorms versamel en vul dit voor die tyd in. Terwyl ander mense spook om alles neer te pen, seil ons vinnig deur met ons klaar papiere!

Weereens moet ‘n motorpermit gekoop word en die Schnauzers moet verklaar word. Manlief doen die voertuig en ek die honde in ‘n aparte mobiele geboutjie.Die papiere en boekies word intens bestudeer, veral die inspuitings teen hondsdolheid.Gewoonlik is dit ‘n baie vriendelike amptenaar en ons gesels heerlik oor die weer en die voorkoms van die honde. Baie keer wil van die omstanders weet hoeveel so ‘n hond kos en hoekom het die wyfiehond ‘n baard en hoekom lyk die swart ene soos ‘n bobbejaan! Ek lag maar net en kan uit die onverstaanbare gebabbel hoor, dat ek en my brakke goed bespreek en beskinder word, veral as hulle teen alles wil beenlig en ek my morsdood skaam.

Nou is ons in Namibië en die landskap is steeds plat, bosryk en uitgestrek.Op Gobabis word brandstof ingegooi en ek verkyk my aan die Hererovrouens met hul pragtige gekleurde uitrustings. Veral die ouer geslag dra nog hierdie tradisionele klere wat dateer uit die ou Duitse koloniale tydperk.

Nou is dit aanstryk na ons volgende brekfisboom. Namibië se piekniekplekke is silwerskoon. Dis gewoonlik ‘n netjiese betonblad met ‘n tafeltjie en twee bankies en ‘n behoorlike asdrom digby. Daar lê selde papiere rond, behalwe wanneer ‘n troppie bobbejane daardeur is. Dis altyd netjies gehark en dit lyk of iemand daagliks kom opruim…wat ‘n plesier!

Uitgestrektheid is die enigste woord om hierdie landskap te beskryf. Na die piepklein dorpie, Kalkvlei, raak die landskap meer bergagtig en soos Windhoek naderkom, begin die pad op en af kronkel. Windhoek is geleë tussen en op verskeie rante. Ons saag maar vinnig daardeur en nou is dit dorpies met mooi name soos, Okahandja, Karibib, Usakos en uiteindelik Swakopmund, die eindpunt van ons reis!

‘n Volle 3600 km heen en terug…TWEE keer ‘n jaar, die laaste nege jaar. As ek so rofweg ‘n sommetjie maak kom dit neer op ongeveer 34,200 km….ons is eintlik nie lekker in die kop nie!!

Transkgalagadi-stories 4

Van Kang af raak dit nou werklik eensaam en wild. Mens sien nou minder donkies en beeste, perde en bokke, maar moet maar heeltyd op jou hoede wees. Skielik is daar heelwat vlakvarke, volstruise en baie steenbokkies in die padserwituut en die wildernis gevoel is te lekker.

Ons voertuig het eenkeer so sewe jaar gelede, in hierdie geweste gaan staan en dit was nogal angswekkend,want daar het nie veel voertuie verby gekom nie. Gelukkig het ‘n barmhartige samaritaan ons teruggesleep Kang toe, vanwaar ons agterop ‘n sleepwa terug SA toe is. Sulke goed gebeur maar en elke rit daarlangs, kyk ons altyd na die plek waar ons gaan staan het en beleef weer die hele storie!

Nou strek die pad voor ons uit en jy ry en ry en ry…hierdie 300 km tot by ons aandstop, is gewoonlik my bestuurskof en manlief knip dan ‘n uiltjie saam met die brakke, wat alreeds dik geslaap is!

Die area is baie naby aan die Sentraal Kalahari Wildreservaat en dis nie ongewoon dat daar soms koedoes en ander groter boksoorte, oor die pad hardloop nie. Hier is al selfs leeus opgemerk. Op hierdie stuk pad kan mens maklik aan die slaap raak en ons het eenkeer afgekom op ‘n vragmotor wat drank vervoer het en beheer verloor het. Daar was al ‘n paar ander voertuie op die toneel, maar hulle het ons vinnig weggewys, want toe is die spulletjie besig om hulself te help aan die ongebreekte bottels voggies…wou seker nie nóg grypers duld nie…hahaa….spul aasvoëls!

Naby Ghanzi draai die pad links af na die Namibiese grens,wat nog so 200 km vêr is.Teen hierdie tyd is ons vodde en ry gewoonlik tot by Tsootsha (ook bekend as Kalkfontein), waar ons oornag  in ‘n klein tentlodge, met kampeerplekke ook.

Die plek is reg langs die pad, oorkant ‘n reuse selfoontoring en heet Jungle Light Rest Camp. Daar is vier goed ingerigte tente met eie badkamers en heerlike skoon beddegoed. Dis ook hondvriendelik en die Schnauzers kan nie wag om soos mal goed hier rond te hardloop nie.

‘n Baie gawe vrou bestuur die plek en woon self in ‘n tent, saam met haar hond en twee katte. Deur die jare het ons al so ‘n hegte vriendskap met haar gesmee, dat ons nie kan wag om haar te sien nie. Ons kuier en lag en gesels ‘n hond uit ‘n bos uit. Sy maak die heerlikste kos en later wil ons nie bed toe nie, want sy het soveel interessante stories oor die omgewing, sy mense en haar lewe in hierdie klein dorpie.

Intussen jaag die Schnauzers hoenders, boerbokke en alles wat beweeg, daar in die kamp rond. Die bokke is darem buite, maar word al keffende langs die draad af begelei. Ons arme vriendin se katte het ook al deurgeloop en moes vinnig op die vlug slaan. Verlede jaar het ‘n werfhoendertjie haar stertvere verloor in ‘n skuldige Schnauzer se bek. Die arme hen was só getraumatiseer, dat sy vir ‘n week lank verdwyn het en later in die kampeerplek se badkamers opgespoor is!

Vir hulle ongepoetste gedrag, loop die brakkies goed deur en is later vol klitse, dubbeltjies en daardie fyn dorings wat so aan alles klou.Ek moes al letterlik die dorings uit hul pelse sny en Neelsie se snor tot teen sy bolip afkerf,om die steeksels uit te kry….my skêrtjie gaan altyd saam, want dis elke keer se storie.My vingers voel ook naderhand soos ‘n veerpyltjiebord (“dartboard”) van al die dorings.

Tot so nege uur saans, dreun reuse vragmotors steeds op die grootpad verby oppad grens toe. Meeste parkeer later langs die pad en slaap net daar…gelukkig is dit heel veilig in Botswana en sal die vrag en vragmotor nie sommer gesteel word nie. Snags drie-uur begin die hane kraai en soms balk donkies so hard dat dit klink of hulle by ons in die tent is.

Die sterrehemel is kristalhelder en op maanlose nagte lyk die melkweg soos ‘n spierwit pad. Ai, en die sonsondergange en dagbreek…onverbeterlik…lieflike Botswana met al sy lelike en mooi…een van die plekke waar ek rus vind al reis ek honderde kilometers op ‘n pad!

 

 

 

Transkgalagadi-stories 3

Van “ons” boom af is dit nie vêr na Kanye,die volgende groot dorp nie.Die eerste keer wat ons daar verby is, het ons die fout gemaak om deur die dorp te ry, want die padteken sê verwarrend, dat die buiteroete slegs vir vragmotors is.Wàt ‘n gedoente…robotte, stopstrate, taxi’s, donkiekarre, massas voetgangers…dit het ons amper ‘n uur geneem om daar deur te gaan! Die volgende keer was ons slim en nou volg ons net die vragmotorroete.Vir enigeen wat hier gaan ry, oppas vir dié vangplek!

Die omgewing raak nou plat en uitgestrek, met vlaktes vol doringbome…pure kalahari en die pad seil soos ‘n lang slang, ad in finitum, voor jou uit. Mens gaan verby gehuggies met name soos Moshenang, Mosepele, Sese, sonder om te besef daar is sulke plekke. Dis net die vermindering van die spoedgrens en klein busstophuisies of afritte met asblikke, waar mense soms wag, wat jou laat besef hier is iewers ‘n gemeenskappie in die bosse.

Jwaneng is die volgende groot dorp en spog met een van Botswana se vele diamantmyne.Vandaar is dit Sekoma, Mabutsane, Phuduhudu tot by Kang….die naaste wat jy aan ‘n One Stop gaan kom. Hier is redelike goeie oornagplekke, maar dis te gou vir ons om te stop…600km is te min om op een dag te ry en dan sit mens in elk geval ‘n middag lank en niksdoen!

Toe ons nou die dag daar verby is, was die motorhawe onder konstruksie en moes ons na die volgende een gaan. Die dameskleedkamer was ‘n ervaring…geen deur voor een van die enigste twee toilethokkies nie. Ek het vinnig in die een mét ‘n deur ingespring, want op daardie stadium het ‘n taxi vol vrouens ingestroom. Die deur kon nie eers op knip gaan nie en Perdeby neem toe noodgedwonge ‘n akrobatiese posisie in, met een voet teen die deur, hangende oor die vuil pot, terwyl die skare van buite af  druk en stoot om in te kom! Ek moes nogal my mik ken in hierdie posisie. Die spoelmeganisme was ook in sy maai in en met my hand in die boonste waterbak, lig ek toe maar die stoppertjie op, om die water deur te laat loop. Toiletpapier…wat is dit? Gelukkig is ek al slim en vat altyd my eie rolletjie saam, skelmpies onder my baadjie weggesteek.

By die petrolpomp waar manlief intussen volgooi, staan ‘n groterige bakkie met ‘n seilafdak.’n Klipharde gekraai klink op en die twee in die bakkie skud soos hulle lag.Daardie bakkie kraai en kraai en kraai! Ek vra so ewe vir die bestuurder of dit sy besondere selfoonlui is. Hy skud sy kop en beduie ek moet kom kyk. Onder die seil, saam met vier grootoog passasiers ingebondel, is ‘n hoenderhok met die kraaiende haan en nog veervolkies. Hy was sekerlik keelvol, want die son weier om op te kom daar in die donkerte onder die seil!

Dis sulke oomblikke wat my die wêreld in ‘n ander lig laat sien.

(Word vervolg)

Transkgalagadi-stories 2

Skilpadgrenspos se pragtige tuine, beplant met aalwyne en koorsbome, is in skrille kontras met die Pioneer grenspos van Botswana…slegs twee kilometer verder.Die ingangspad by die hek, is vol gate en die lang geboutjie het al beter dae geken. Behoede jou as jy vakansietyd of op ‘n besige dag hier beland!

Binnekant word ‘n vormpie uitgedeel…daar lê nie stapeltjies op die toonbank nie…een per persoon…kostebesparing en regso ook! Die invulproses geskied gewoonlik met jou vingernael, as jy nie jou eie pen het nie, maar soms is daar ‘n droewige, vuilgevatte pen aan ‘n toutjie, wat miskien nog ink in het…dus sorg vir jou eie griffel! Intussen moet die voertuigbestuurder ook ‘n boek invul, wat daar iewers op ‘n toonbank lê. Dit gaan gewoonlik gou en as jy vriendelik groet met ‘n “dumela Mma”( vir die vrouens) en “dumela Rra” (vir die mans), word jou paspoort vinnig getjap en daar gaan jy.

Nou volg die proses om jou voertuigpermit te koop…deesdae teen ‘n stewige 250Pula per motor en 1650P per vragmotor! Die transaksies neem soms so lank, dat jy ewig in ‘n tou staan in ‘n smal gangetjie. Vreemde mense skerts en maak grappies met mekaar en stap uit as ou vriende. Dis veral die vragmotorbestuurders wat gereeld hierdeur moet gaan, wat maar ‘n soort gelate aanvaarding toon.

Intussen hardloop Perdeby orals rond met die drie Schnauzers op sleeptou op soek na iemand om hul permitte deur te gaan. Soms is ek gelukkig, dan doen iemand agter ‘n toonbank dit sommer. ‘n Ander keer moes ek op die tweede vloer van die gebou, gaan soek vir iemand wat gemagtig is om dit te doen. Onlangs het iemand sommerso daar in die gangetjie my papiere vir ‘n goeie twintig minute intens bestudeer en toe die gewenste tjap op alles gepons…sjoe verligting!

Manlief staan gewoonlik steeds in die tou by die permitte en dan jaag ek en die Schnauzers die reuse werfhoenders wat daarbuite rondskrop. Soms lyk ek soos ‘n skiër agter ‘n boot aan, soos wat die spulletjie hardloop, beenlig en elke boerbok en donkie agterna sit! Welkom in Botswana…verstaan my goed, ek is mal daaroor en verlustig my aan die eenvoud van alles.

Partymaal gaan dit vinnig, partymaal gaan dit stadig…die geheim is geduld, respek, geduld, respek…moenie jou lyf daar probeer rondgooi nie…dis nie jou land nie en hier maak jy soos hulle!

Deur die hek, met jou voertuigpermit en ‘n vriendelike geselsie met die polisieman en daar gaat ons…nou begin die werklike laaaang pad.

Die omgewing hier is pragtig…dis bergagtig, met ongerepte natuur en reuse aalwyne wat oral groei.Ongelukkig hou dit nie lank nie en is mens skielik in ‘n landelike area met allerhande gehuggies, huise, donkies, bokke en beeste. As die spoedgrens 80 of 60 sê, ry jy 80 of 60…..ons is al gevang en dis onmiddellike kontantbetaling of jy is reguit tjoekie toe! Diere word gereeld raakgery en ons het al op lelike tonele afgekom, dus kyk skerp, bly wakker en ry stadiger as jy diere langs die pad sien.

Orals langs die pad is piekniekplekke, maar ongelukkig so vuil. Ons het ‘n spesiale boom, waar ons altyd ontbyt eet, sommer so agter uit die voertuig se kattebak.Na al die stres van stadsverkeer, in die donkerte ry en twee grensposte, is dit ons eerste uitspanplekkie…500kilometers van ons huis af!

Met die groot pad langs ons en enkele vragmotors wat soms toetende en waaiende verbyjaag, is ‘n lekker koppie koffie, toebroodjie en stukkie wors, net die regte medisyne. Vir my is die klingelende klokke van ‘n beestroppie,wat gewoonlik naby ons boom wei, asook die gekwetter van koringvoëls, in “ons” boom, die mooiste musiek. Dan eers begin ons ontspan en moed bymekaar skraap vir die res van die lang tog.

(Word vervolg)

Transkgalagadi-stories 1

Die Transkgalagadi het ‘n lewe van sy eie.Ter verduideliking:Dis die hoofpad wat vanaf Johannesburg,asook Pretoria,dwarsdeur Botswana tot in Windhoek loop.As jy op ‘n kaart kyk,sal jy sien die pad loop amper reguit van oos na wes en is meer as duisend kilometer lank.Die afgelope nege jaar al,ry ek en manlief tweekeer ‘n jaar hierdie roete na Swakopmund.Die afstand vanaf ons huis tot daar, is sowat 1800 kilometer.

Ons het al baie ervarings op hierdie pad beleef en die drie Schnauzers reis saam soos gesoute toeriste.Tussen die voorste en agterste sitplek gespe ons ‘n spesiale hondehangmat vas,met hul kombersies op en vir twee dae lank, broei die drietjies heerlik lyf-teen-lyf, al skuddend, skommelend en slapend tydens die elle lange reis.

Voor mens egter met die honde mag reis, moet hulle ‘n week (let wel, nié agt dae nie, maar sewe dae) voor die tyd deur jou eie veearts gesien word.’n Swetterjoel vorms,ingevulde inentingsboekies en ‘n besoek aan die staatsveearts, (alleenlik per afspraak,iewers in ‘n tipiese staatsdienskantoor in die gopse) besorg aan jou die nodige permit, getjap en geteken.

Nou is jy reg vir die reis. Honde gelaai, paspoorte, voertuigpermitte, padkos gemaak, want eenmaal in Botswana, is dit die wye wêreld wat wink…geen “One Stops” en toilette nie!

Wanneer ons in die pad val, is dit nog donker, want ons ry vroeg om die verkeer op die snelweë te mis. Die SA prys vir padvarke, gaan loshande aan die bestuurders op die pad tussen Pretoria en Rustenburg! Dis ‘n doodspad…soms is dit ‘n dubbelweg met vier bane en dan verander dit weer in tweerigtingverkeer met padskouers wat veronderstel is om noodbane te wees.Jy word kort-kort van agteraf geflits om oor te skuif na die noodbaan, sodat Haastige Hansie in sy reuse vier-by-vier, met blink chroom “bull bar”, verby kan seil teen die spoed van wit lig. Dis platinamynwêreld daardie en voor sonop is dit vragmotors, bakkies, taxi’s en duisende voetgangers wat in die donkerte oor die pad hardloop…loutere hel!

Van Rustenburg af gaan dit effens beter en hartseer verwaarloosde dorpies,soos Swartruggens, Groot Marico, Zeerust en kilometers landelike gebiede vanaf Zeerust na die Skilpadhekgrenspos, skuif verby.

Die laaste twee jaar,is die Skilpadhekgrenspos ‘n fees! Voorheen was daar ‘n enkele baksteengeboutjie, en mobiele kantore, agter ‘n afgeremde ogiesdraad en skewe hekkie. Groot vragmotors het oral gestaan en gewone voertuie verdwerg. Die ryvlak was vol gate en het gelyk soos kraters in ‘n maanlandskap. As jy uiteindelik iewers ‘n parkeergaatjie kon kry en letterlik tot stilstand geskommel het, moes jy nog verby skroppende hoenders en maer brakke beur om jou paspoort te laat stempel. Ou karavane wat beter dae geken het, het gedien as kantore vir forex en invoer van diere en produkte wat verklaar moet word…onder andere die Schnauzers.

Genadiglik is daardie dae verby en kan ons spog met ‘n pragtige grenspos,met efféktiewe personeel en…..silwerskoon kleedkamers!

(Word vervolg)

 

Ek is darem…

nog hier.Was net baie lui om te skryf en te lees.Was ook plat op my rug met griep en niks lus vir die lewe nie.Dus liewe bloggers,ek lewe darem nog!

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +