









'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak
Klein Willemientjie Witrenoster is by die watergat vir haar daaglikse bad en suipseltjie water. Sy storm opgewonde die dammetjie in dat die water so spat…
Mamma Wilma Witrenoster, neem haar kans waar en teug diep aan die heerlike koel water.
Willemientjie gaan lê sommer plat in die water en wie land op haar? Ronnie Renostervoël. Hy het al van vêr af ‘n paar sappige bosluise bespied…
Ronnie kruip diep in Willemientjie se oor in en haar ogies val sommer toe van pure lekkerkry. Ronnie pik en sluk die lekker vetgesuipte dierasies af, totdat sy krop tot barstens toe vol is. Niks kom by so ‘n lekker oorskoonmaak nie. ‘n Diepe slaap oorval Willemientjie en mamma Wilma se groot lyf hou vertroostend wag by haar telgie…
Terwyl Willemientjie ‘n uiltjie knip, bekyk mamma Wilma haarself in die water en dink dat sy darem nie te sleg lyk nie…
Gelukkig kan sy nie haarself van agter af sien nie…
Dis ‘n warm somersmiddag in die bos. Mamma Kolkat en klein Spikkeltjie se rustigheid word skielik wreed versteur. Mamma Kolkat gee ‘n waarskuwende grom en trek haar lippe oop om haar gevaarlike skerp tande te wys…
Helsim Hiëna is alweer aan die rondsluip op soek na iets om te vreet. Hy sal ‘n klein kolkatjie met een hap van sy kragtige kake, die ewigheid in stuur…
Spikkeltjie het intussen blitsig in ‘n knoppiesdoringboom ingespring. Dis nie die allerbeste boom om in te skuil nie, want die dorings sit soos hare op ‘n luiperd se rug en gryp vir Spikkeltjie vas. Gelukkig sal Helsim tweemaal dink voor hy haar daar afhaal en die ou stap maar ewe druipstert verby. Teen ‘n doringboom en ‘n grommende luiperdmamma is hy nie bestand nie…
Spikkeltjie loer angsbevange om die stam van die boom. Waar is daardie liederlike Helsim nou?
Spikkeltjie wag net vir Mamma Kolkat om ‘n teken te gee dat alles veilig is…
Na die groot skrik is daar niks wat kom by ‘n suipseltjie melk nie…
en ‘n bietjie liefkosing en moederliefde…
Nou bietjie lyf skoonlek…
en ‘n vet boslyf stukkend knyp tussen skerp tande…
Vir oulaas nog ‘n lekker souslek met mammie se skurwe tong…
Dis salig om ‘n Spikkelkatjie met so ‘n sorgsame mammie te wees.
Alle foto’s is geneem in Londolozi, Sabi-Sandwildreservaat en dis hoe die verhaal werklik afgespeel het.
Lexi Langtoon (AfricanJacana) staan gerieflik op Saartjie Seekoei se neus gebalanseer…
Sarel Seekoei verrys uit die borrelende water met ‘n paar riete oor sy neus gerangskik…
Lexi besluit dis tyd om na ‘n ander drywende platvorm te wip en voeg sommer dadelik daad by die gedagte…
Sarel sak alweer weg en nou moet Lexi klou vir al wat sy werd is en gou besluit wat die volgende stap gaan wees…
Sy kyk bietjie rond en klem daardie lang tone om Sarel se oogbanke…
Dis te heerlik op hierdie dobberende dierasie en dis ‘n goeie uitkykpos vir moontlike kos soos ongewerweldes, saad en vis…
Sarel raak darem nou te onstabiel. Tyd vir ‘n ander boot om op te vaar…
Mooi, daar verrys nog ‘n logge liggaam…
Nou net mooi vastrap…
en rats oorspring …
Nee wat, hier lyk dinge nie beter nie…
Laat waai maar terug na bekende terrein…
Sarel moet vinnig sy oë toeknyp, voordat ‘n ellelange toon sy sig verduister…
Grootlangtoon (African Jacana) hou by watermassas met drywende plantegroei, veral waterlelies. Die lang tone is perfek aangepas om maklik in so ‘n habitat te beweeg. Hulle is poliandries…dit beteken dat die wyfie 3-5 eiers vir tot sewe opeenvolgende mannetjies lê. Die nes is swakkerig en van drywende plantegroei. Die mannetjies voer die ouerlike pligte uit… goeie voorbeeld vir die mens.
Dis ‘n warm somersmiddag in die bos. Pappa Walmpie Wildehond (sy naam het hy tewyte aan sy stink asem) het pas ‘n heerlike rooibokbladbeen vir die vyf jongelinge in sy trop gebring. Sy baard is bebloed, want hy het pas saam met die ander volwassenes in die trop, ‘n vangs gemaak. Dit is sy taak om die kleintjies verder te beskerm terwyl hulle gulsig vreet…
Die spannetjie is maar te bly en storm gulsig op die stuk vleis af…
Dis ‘n gestoei, toutrekkery en bakleiery …
Terwyl hulle besig is, kry iemand snuf in die neus, vir ‘n gratis maaltyd. Helsim Hiëna het pas ‘n heerlike modderbad gehad en sy maag grom van die honger…
Hy sluip skelm nader…
Mens kan sy asem ruik…
en die parasiete in sy maanhare sien…
Hy storm vorentoe en gryp die kleingoed se vleis en verorber dit met een hap…
Die kleingoed is heeltemal onverwags betrap en vlug vinnig die bosse in. Pappa Walmpie, wat intussen bietjie afgedwaal het, ruik onraad en kom vinnig aangedraf…
Te laat! Helsim is lankal weg en smak nou sy lippe van pure lekkerkry. Pappa is nou in die moeilikheid, want hy het afgedwaal, terwyl hy kinders moes oppas…
Sedert my vorige verslag hier…
perdebytjie.wordpress.com/…/my-covidprojek
het dinge aansienlik verbeter. Ek en Leah het steeds elke dag gaan ry en naderhand het ek genoeg moed gehad om dit saam met haar in die verkeer te waag. Ek sal nie stry dat my senuwees gaar was nie en dat ek eenkeer die stuurwiel moes gryp, en versigtig moes eenkant toe stuur, om ‘n ongeluk te vermy. Ek weet nou nog nie hoe ek dit reggekry het nie, maar met kalmte het ek vanuit die passasiersitplek die karretjie terug in sy baan gekry. Leah het nog kans gehad om te sien hoe die bestuurder langs ons, haar uitskel! Dit was die benoudste oomblik.
Na vele omswerwinge in die omgewing, het ons begin om elke middag na werk na haar huis in die township te ry. Ek het die maklikste pad uitgekies en so het sy twee weke klank elke middag self bestuur met my wat moed inpraat, lesgee en algemene raad verskaf.
Daar was robots, bane wat verwissel moes word, draaie wat stadig gevat moes word, sirkels, spoedhobbels en fietse, slaggate, lorries en klippe… ‘n mens besef nie hoe oorweldigend dit vir ‘n beginner kan wees nie. Met ons swak gemerkte paaie en reuse slaggate plus varkerige bestuurders, het ons twee vasgebyt en elke moontlike situasie beleef en oorleef.
Twee dae na mekaar, het ek haar laat oefen om in en uit by haar garage te trek. Ons het bakstene gepak tot waar sy die kar moet intrek en met die uittrekslag het ek beduie en arms geswaai vir die vale. Haar garagedeur is baie smal en dan is daar nog twee watermeters, twee mure aan weerskante en ‘n lamppaal wat sy moet vermy.
Iets wat ek ook opgemerk het, is dat iemand wat nooit bestuur het nie, nie werklik die pad ken wanneer hulle self aan die stuur is nie. So het ek toe vir Leah bakens uitgewys op die pad en toe sy verlede week alleen begin ry het, het sy sowaar verdwaal. Gelukkig het sy kop gehou en tog reggekom.
Tuis het ek soos ‘n moederhen angstig haar nooiensrit gevolg op die tracker opspoorder via my selfoon.
Dis nou al ‘n hele week wat sy alleen huis toe en werk toe ry. Ek volg steeds angstig elke dag haar roete op die Tracker, maar as die blou karretjie hier voor ons deur stop en sy so vol selfvertroue met haar handsakkie uit die kar klim, besef ek dit was alles die moeite werd.
On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....
Myriad memories frozen in time
Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.
'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak
British Wildlife & Photography
Lifestyle, Photography and Traditional Art
potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue
'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.
Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen
Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"
persoonlike blog - cam venter
Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS
Simone Foedrowitz - Naturfotografie +
looking through the lens
William Bowles - Online since 1979