Elke oggend stap hy hier verby,somer en winter…die ou geboë grys man.Langs hom stap sy getroue metgesel aan ‘n leiband…’n pragtige Welsh Terrier,jonk en lewendig,maar rustig-gehoorsaam.
Soms stop die man en gesels met verbygangers,meestal onbekendes,wat oor sy pragdier uitvra.’n Hond is altyd ‘n aanknopingspunt,maar dis waar die gesprekke bly,kort,leeg en betekenisloos.
Gewoonlik stap hy afgemete.Soms stap hy stadig.Soms tuur hy oor die oseaan.Soms staan hy sommer net stil.Die hond is altyd getrou langs hom.
Smiddae kom hy weer verby,stap weer afgemete,stap weer stadig,tuur weer oor die oseaan en staan sommer net stil,die hond steeds getrou langs hom.
Wat is die mens tog?’n Vlietende asem wat vir ‘n kort tydjie die aarde bewandel,jonk en vol bravade van die jeug,met ‘n gewaande idee van onsterflikheid.Soos die tyd aanstap,die ontnugtering van ideale wat nie verwesenlik word nie en die harde werklikheid van die lewe met sy volle aanslag,wat mens soms asemloos op die knieë dwing…net platgeslaan!
Die goeie en slegte tye snel verby en voor jy wis,is dit net ‘n herinnering van wat was en al wat oorbly is ‘n verlangende teruggryp na die verlede,soos in die gedagtewêreld van ‘n eensame ou man.
NS.Ek voel sommer vanaand nostalgies,na al die lelike gebeure van die afgelope week.Dit laat my opnuut besef hoe broos en onvoorspelbaar die lewe is.