Laaste krismisblog

Kersfees lê voor en nou gaan ek bietjie rus. Ek sal die fotogalery in die nuwejaar hervat.

D staan vir diere, voëls en inwoners van die Okavango. Dis seker een van die wonderlikste mooiste plekke in die wêreld. Woorde en foto’s kan dit nie beskryf nie..

Krismisblog nommer ses

D staan vir De Hoop Natuurreservaat, geleë drie uur vanaf Kaapstad in die Overbergdistrik. Dis ongeveer 340 vierkante kilometer groot en is die tuiste van 86 soogdierspesies. Dit sluit elande, Kaapse Bergzebras grysribbokke, geelmuishonde, bobbejane en die hoogs bedreigde bontebok in. Daar is ook ‘n pragtige vlei, waar baie voëlspesies aangetref word.

Die De Hoop Marine Beskermde Area strek tot drie seemyle vanaf die kuslyn. Die baai is die teelplek van die Suidelike noorkapperwalvis en op ‘n helder dag kan mens gelukkig wees om hulle te sien vanaf ‘n hoë duin.

D staan ook vir Die Hel oftewel Gamkaskloof. Dis ‘n afgesonderde vallei omtrent 20 kilometers lank en 600 meter wyd. Dis in die Swartbergreeks. Die naam is afgelei van helling of hel, wat meer te doene het met die styl helling waarteen die pad in die smal kloof afgaan, as met die spreekwoordelike Hel. Dis nogal ‘n uitdagende rit met die pad wat teen ongeveer 579 meters afdaal na die vallei.

Op 28 November 2019, was daar ‘n verskriklike brand wat ‘n groot deel van die vallei verwoes het. Van ver af kan mens die ontsettende verwoesting sien, wat soos ‘n pikswart letsel uitstrek .

Oppad soontoe is daar pragtonele van fynbos, blomme en ander besondere plantegroei en selfs klipspringers.

Aan die anderkant van die kloof is Die Leer…’n baie styl pad waarmee die inwoners vroeër jare plaasprodukte uitgeneem het en ander noodsaaklikhede teruggebring het. ‘n Mens kan slegs daar kom met ‘n 4×4 of ‘n fiets en die pad gaan oor ‘n deel van Bosch Luys Kloof Privaat Natuurreservaat.

Gamkaskloof van die Leer se kant af. Hierdie deel het gelukkig die brand vrygespring.

Krismisblog nommer vyf

D staan vir Damaraland. Dis ‘n streek in die noordweste van Namibië. Dit strek vanaf die Brandberg tot by die klein dorpie Sesfontein. Dis ‘n gebied met asemrowende natuurtonele, ruwe gebergtes, tafelagtige berge, ongelooflike rotsformasies.

Dis ook die tuiste van woestynolifante, renosters, woestynleeus, zebras, volstruise en verskeie boksoorte. Reuse droë rivierlope, soos die Ugab, Huab, Uniab en Huanib, verskaf groenigheid vir die diere. Hierdie riviere kan in siedende watermassas verander as dit reën en het al menige kampeerders sleg verras.

Die paar foto’s wat ek plaas gee nie werklik die ruwe natuurskoon weer nie. Mens moet self daar wees om dit te beleef.

Krismisblog nommer vier

Terug by ‘n B wat ek oorgeslaan het….B staan vir Bloedkopje in die Namib-Naukluft Park in die wonderskone Namibië.Die Naukluftpark beslaan 49,768 vierkante kilometer en is die vierde grootste nasionale park in die wêreld en die grootste in Afrika.

Bloedkopje is naby Swakopmund en ons het ‘n hele nag daar spandeer om die regte lig vir perfekte foto’s te kry. Op ‘n stadium was alles bedek onder ‘n mismantel. Daar is geen geriewe nie en dis net jy, die stilte, jou tent, jou eie water en kos…lekker primitief!

B staan vir Brandberg…dis die hoogste berg in Namibië nl. 2573m. Van buite lyk dit soos ‘n dorre berg wat daar lê, maar wanneer ‘n mens daar instap, is dit ‘n ander wêreld wat voor jou oopvou, met plantegroei en water..natuurlik as dit ‘n natterige seisoen is. Die beroemde “White Lady” rotsskildery word hier aangetref en mens mag alleenlik met ‘n gids soontoe stap. Die skildery is al heelwat verniel en is nie meer mooi sigbaar nie.

Krismisblog nommer drie

B staan vir Biyamiti Bosveldkamp in die Krugerwildtuin. Dis naby Krokodilbrug en ‘n heerlike stil kampie, waar mens die bos op jou eie kan geniet.

C staan vir Chobe in Botswana…een van ons gunsteling plekke om foto’s van olifante te neem..

Krismisblog nommer twee

B staan vir Balule, privaat boskamp in die Krugerwildtuin.

Die afgelope paar jaar bespreek my susterskind die hele kamp uit en dan is daar ‘n saamtrek van familie en vriende. Dis een van die hoogtepunte van kuier en saamwees in die plek waarvoor ons die liefste is.

Krismisblog nommer een

Die slegte tyd waardeur ons almal die afgelope twee jaar is, het my lus ontneem vir baie dinge. Ek het besluit dis nou pure bogtery en vir myself ‘n uitdaging gestel. Ek het in my foto-argief gaan rondkrap en al my mooiste foto’s uitgesoek. Ek begin vandag by A en dit staan vir Alaska. Daar gaan geen byskrifte wees nie, net die mooi om te geniet….

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +