in die woestyn.
Vroegoggend pak ons op om verder noord te ry.Ek stap solank vooruit terwyl die mans die laaste goed op die voertuig se dak vasmaak.Dis ‘n entjie in die rivierbedding op en dan oor die wal tot in die pad.Dis ‘n salige wandeling en ek sien naderhand die uitgang en stap ewe rustig die rivierwal uit.Net om doodseker te maak,trap ek aspris diep duidelike spore,sodat hulle kan sien waar ek gestap het.
Naderhand is ek in die groot pad.Dis so verlate en stil…net ek en die wydsheid..nie eers ‘n bossie of grassie in sig nie…net ek,miertjieklein, in ‘n massiewe uitspansel van sand,klip,berge en blou lug!In my gedagtes maal dit oor die wonder van hierdie onbeskryflike ervaring.’n Mens word selde so met jouself gekonfronteer en dis nogal ‘n angswekkende ervaring om alleen met die eie ek te wees.
Ek stap en stap en ek begin naderhand warm kry.Ek het geen water of hoed by my nie.Ek sou mos net vooruit stap en netnou weer in die voertuig klim.Ek klim op ‘n sandwal langs die pad en maak seker dat ek in die regte rigting stap.Ek probeer luister of ek die gebrom van die voertuig kan hoor.Waar is die manne tog?
Skielik begin visioene van realiteitsprogramme,waar mense verdwaal en hande-viervoet kruip na watermirages,in my gedagtes opkom!Onrustig begin ek oorlewingsplanne bedink.’n Mens bly op die pad,al kom daar net elke ses dae ‘n voertuig verby.Bly op een plek om energie te spaar.Soek ‘n rots om agter te skuil as die son netnou meedoënloos begin neerbrand.Trek jou hemp uit en draai dit om jou kop en gesig.Soek brandhout om vuur mee te maak…nee,daai ene gaan nie werk,sonder enige bome in sig en geen vuurhoutjies nie!Suig ‘n klip vir die dors.Moenie paniekerig raak nie.Iewers sal hierdie naald in die die groot woestynhooimied gevind word!
Net toe my hart al so groot soos ‘n klip in my borskas begin voel,sien ek hulle aankom.My vreugde is groot en ek probeer my angs wegsteek en maak of ek heeltyd nog ewe houtgerus,net flinkies noordwaarts gestap het!
Intussen het die manne self benoude oomblikke beleef en gedink hulle het die Perdeby in die woestyn verloor!Die pad uit die rivierbedding was heelwat verder aan,as waar ek uitgestap het.Niemand het spore gekyk nie en toe hulle my nie kry nie,was hulle self lekker geskrik.Gelukkig het hulle omgedraai en my groot diep merkers teen die wal uit gesien…nou ja..end goed alles goed.
Dit wys net weer,dinge kan baie maklik skeefloop!
‘n Foto van die omgewing waarin ek my bevind het!