Wanneer swaartekrag en duisternis bymekaar kom.

Verlede naweek moes ek my kleindogtertjie oppas. Gewapen met al my verroeste kennis van vier kinders wat ek groot gemaak het, is ek vol vertroue vir die takie. Alles verloop volgens plan, want die kleine mensie is baie soet en so vermaaklik.

Bedtyd sit ek met haar in my arms op die enkelbed in die spaarkamer. Reg langs die bed se voetenent staan ‘n laaikassie met mooi koperknoppe aan die laaie. Teen die venster staan die kampkot vol sagte speelgoed, gereed vir die kleine mensie se nagrus.

Ek wieg haar heen-en-weer in my arms en probeer met ’n kraakstem, “Slaap Piekanienie” sing. Juffroutjie is glad nie beïndruk nie en suig kermrig aan haar “glow in the dark” fopspeen.

Dis toe waar ouma besluit, so ‘n bietjie duisternis sal die ding doen en ek stap deur se kant toe om die lig af te skakel. Steeds met haar in my arms beweeg ek bed toe en sien in gedagte myself heerlik agteroor lê met genoemde asempie en haar “glow in the dark” op ouma se gesellige ruim bors.

Dis toe nou waar die spreekwoordelike koek die fên slaan, behalwe dat ek die koek is en die bedkassie en kot is die fên! Ek gaan sit op die kooi, maar daar is geen kooi nie en in die duisternis slaan ek my linkerblad amper moertoe teen die laaikassie se hoek. Die laai se knop boor in my skouer in en die kampkot word summier amper deur die venster gelanseer.…gelukkig het die gordyne gekeer.

Waar sit so ’n mensie ’n keel op en my eerste gedagte is dat sy sleg beseer is! Met haar steeds in my arms, probeer ek regop kom, val weer om, maar is uiteindelik op my voete en strompel verwond deur se kant toe vir die ligskakelaar.

By nadere ondersoek, het sy niks oorgekom nie, danksy ‘n sagte landing op ouma. Bewend van skok en pyn sit ek toe maar so…hierdie keer óp die bed…totdat sy slaap en ek haar kan neerlê in die amper-buurman-toe-gelanseerde-kot.

Na ’n koppie sterk tee en ’n intense ondersoek na my beserings, voel ek effens beter. My rug is nerfaf, die twee bladspiere voel of ’n bokser my as slaansak ingespan het.

Dis ’n week later en ek voel uiteindelik beter. Ek het egter op ’n pynlike en baie goedkoop manier uitgevind dat ek nie osteoperose het nie. So ’n val sou ’n bros beenstelsel heeltemal laat verkrummel het.