Hierdie besondere plek in Namibië,is nie net afgeleë nie,maar ook ongenaakbaar.Nie alleen het baie skepe en hul bemanning langs hierdie woeste, eensame kuslyn vergaan nie,maar hier lê die siklus van lewe en dood naak in die sand en tussen die klippe.Ek het oor ‘n baie klein area op hierdie versameling beendere van verskillende diere afgekom.Terwyl ek met die see se geruis in my ore,die wind in my hare en die absolute verlatenheid as metgeselle,dit gefotografeer het,het ek weereens besef hoe verganklik alles is!
Liefste Pa
Dis vandag presies ‘n jaar gelede dat Pa siek geword het.Dit was ‘n ellendige tyd en na drie weke se lyding is Pa weg.Vanoggend het ons met Pa se assies gery na een van die plekke wat Pa altyd so geniet het.
Daar by die pragtige Marievalevlei,waar Pa altyd so lekker voels gekyk het,het ons eers stadig deur die vlei gery en stil na die verskeidenheid geveerdes gekyk en die oomblikke saam met Pa in herinnering geroep.Dit was asof daar vandag meer skaars soorte te siene was,soos die skaam Dubbelsnip en die twee Bloubekeende.Daar was geen mens in sig nie en ons het rustig op die bruggie,waar die Blesbokspruit in die vlei inloop,stilgehou.Dis waar Pa gereeld koffie gedrink het en die geel kwikstertjies wat gewoonlik daar rondwip,bewonder het.Dis ook die speelplek van die sku otters wat ons al ‘n paar keer daar blitsig sien verdwyn het in die dieper water.
Waar die stroom lekker sterk onder die bruggie deurkabbel en waar mens deur die helder skoon water tot op die bodem kan sien,het ons die assies ingegooi.Met die pragtige lied van ‘n verskuilde rietsanger en die sagte gekrrk-krrk van die bleshoenders het dit stadig in die stroom afgedryf.Dit het sulke pragtige wolkpatrone gemaak en mettertyd deel geword van die ewigvloeiende waters van hierdie pragtige natuurwonder,tussen die mynhope.
So vloei al die herinneringe van ‘n wonderlike skoonpa,wat vir my soos ‘n eie pa was,vandag weer sterk deur my gedagtes en ek is dankbaar dat ek die voorreg gehad het om hierdie dierbare mens te ken.
Skeepswrakke
Die see is nie ‘n speelplek nie.Oppad Skedelkus Nasionale park toe,tref ‘n mens eers hierdie wrak aan net na Wlotzkasbaken en kort duskant Hentiesbaai.
Hierdie treurige verbrande wrak,lê tussen Kaap Kruis en die ingang na die Skedelkuspark.Hulle is tans besig om hom af te takel en binnekort sal daar seker net ‘n geraamte oorbly.
Tussen die Skedelkuspark se hek en Torrabaai,is slegs ‘n paar flentertjies van hierdie baie ou seilskip oor.
Dieselfde wrak vanaf die anderkant.
Ou ratte en stukke ysteroorblyfsels van die Winston