Moderne mens , die bedorwe brok

Ek skud net weer hierdie week my kop oor die verskriklike herrie wat die “Blackberry-meltdown” veroorsaak het. Skoolkinders (lw. baie van hulle besit hierdie duur “noodsaaklikheid”) is rasend, want nou kan hulle nie via daai vingermasjientjie vir die vriend langsaan vra hoe dit gaan nie! Jep, dis ‘n feit, hulle praat nie met mekaar nie, kommunikeer deur die ruimte met vlees en bloed wat ses sentimeter van hom af sit!

Die res van die wêreld se Blackberry gebruikers gaan in kraam en dis asof die oordeelsdag aangebreek het! Wat de josie gaan aan met die mensdom? Moet ‘n mens regtig vier-en-twintig uur ‘n dag, sewe dae ‘n week, twee-en-vyftig dae ‘n jaar, jaar in en jaar uit “gekonnek” wees?

Dinge raak al hoe gekker en gekker. Daar heers groot blydskap omdat ons binnekort op binnelandse vlugte ook internet sal kan gebruik. Bid jou dit aan! Die langste vlug is omtrent twee ure Kaap toe en kan ‘n mens wragtag nie vir daardie ou kort tydjie net van die skerms af verdwyn nie?

Miskien is ek bitterbek oor die tegnologie deesdae heeltemal oor my kop gaan. Maar een ding is seker, ek onthou nog die salige gevoel van net van die aardbol af “verdwyn”, dáárheen waar niemand jou kan vind nie. En as daar drama by die huis was, is dit al laaankal opgelos wanneer jy weer daar aankom en jy weet van niks…salig!

Ek weet nie of dit so goed vir die mens se psige is om so te alle tye beskikbaar te wees nie. Elkeen het alleentyd en privaatheid nodig. Hierdie gepiep-piep van smse en e-posse enige tyd van die dag of nag, maak van ons vasgeknoopte wesens wat totaal verstrengel geraak het in ons eie grênd speelgoed!

Wagkamers en mammogramme

Interressante plekke..wagkamers! Ek sit nou die oggend in so ‘n plek en wag vir my jaarlikse “borsknyptang”-ondersoek. Eerstens vul jy ‘n gebruikersonvriendelike vorm in (net in Engels, al is al die radioloë op die briefhoof duidelik Afrikaans!) waarin daar trippel seker gemaak word dat jy wel sal betaal. Adres van lid, pasiënt, kennis, “next of kin”..die hele tutti, word gevra.. net nie die huishulp s’n nie! ID-nommers, geboortedatums, krone, operasies, implantate, swanger of nie..?

Klaar ingevul, sit ek en kyk vir die mense. Almal sit stip voor hulle en staar en maak geen oogkontak nie. Sommiges lyk regtig siek en ander lyk openlik verveeld of geïrriteerd, kyk kort-kort op horlosies en sug swaar.Jonger mense se vingertjies knip behendig hul selfoonknoppies terwyl my geslag mense doelloos deur spoegvoos tydskrifte blaai. Dis nog ‘n ding, daardie tydskrifte! Party dateer uit die vorige eeu en het al sulke haasore, dat jy gril om aan die goed te vat! Daardie onsigbare spoegblertse onderaan die bladsye, laat my met baie ligte vingertjies bo-aan die tydskrifte vat en in my agterkop sê ek vir myself om tog nie aan my neus of mond te vat nie!

Nou word ek ingeroep en kry ‘n japon om oor my naaktheid te trek..so ‘n voos bloue, wat genadiglik aan die kant vasknoop en nie jou hele alie laat uitsteek soos sommige hospitaaljurke nie. Jy sit daar in die hokkie agter die gordyn en wag dat iemand onseremonieel die gordyn oopruk en jou laat marsjeer na die masjien wat jou nou gruwelik gaan martel. Ja, ons vrouens ken daardie ding..ek vergelyk dit met ‘n “vice grip”, en wórd daardie arme stukkie vroulikheid nou styf vasgeskroef!  Jy’t skoon ‘n spasma in jou nek en blase op jou tong soos jy vasbyt om nie te gil nie. As daar geen probleem in die bors was nie, is daar definitief nóú een na sulke behandeling!

Gelukkig is die dame wat die martelinsrument werk, baie professioneel en verskonend en na die tyd kry ek ‘n sjokoladetjie en ‘n mooi boekmerkie, omdat dit nasionale borskankermaand is. Nou moet ek weer wag in daai benoude hokkie sodat die dokter kan kyk of genoeg vleis vasgeknyp is! Sit maar ‘n horingou blokkiesraaisel, wat al deur iemand anders begin is en invul. Met een oor luister ek na die gesprekke anderkant die gordyn. Dis ‘n vrolike spul en die dokter maak kort- kort grappies met die radiologie meisietjies. Natuurlik kan ek niks sien nie, maar die gesprekke en gelag, laat my besef hierdie mense is gelukkig in hul werksplek, al het hul heeldag met ellendes te doene..’n pluimpie vir hierdie spesifieke praktyk.

Ek is dik van die lag toe ek ‘n ouerige mansstem hoor wat vir die jongklomp daar sê, dat hy nou so vol wind gepomp is en dat hulle nie moet dink dis donderweer of ‘n aardbewing as hulle snaakse geluide hoor nie. 

Ongelukkig word ek weer ingeroep vir nog ‘n sarsie in die knyptang omdat daar bietjie onduidelikheid op die x-straal is. Eish! Hierdie keer is my hele lyf in ‘n spasma en ek gil sulke stil gilletjies agter in my keel. Kry toe darem weer ‘n sjokoladetjie om my te troos…het nogal gehelp hoor.

Sjoe, darem klaar is dit terug wagkamer toe, waar intussen al massas mense soos worsies ingeryg sit. Ek wag amper ‘n uur voordat ek my verslag kry en skeur dit met bewende hande oop in my kar. Gelukkig lyk alles reg en ek sug van verligting. Dis twee dae later, en ek voel of ‘n voorhamer my dáár getref het, maar ek is dankbaar dat ek gesond is en sal maar vir ‘n paar dae loop met die bietjie pyn!

Blaffende honde

My bure oorkant die straat het SES worshonde. Soggens sewe-uur as die man by die hek uitry, begin hulle te blaf en blaf en blaf! Ek wil al my polse sny, maar ek besef die brakkies is alleen en verveeld en dis niemand se skuld nie. Die eienaar kan tog ook nie daarvoor help nie! Saans net na sononder is hulle stil en dan begin die boerboel in die erf agter ons .

Hy blaf so “woef!” stillllte..”woef!” stilllte….die heelnag deur. Ek het al oor die muur geloer, want party dae blaf hy ook so. Dan praat ek mooi met hom en ek kan sien dat hy vrek van eensaamheid en ‘n gebrek aan aandag en liefde. As dit ‘n maanligaand is, ween die arme skepsel. Ek weet nie of dié bure waks in hul ore het nie, want duidelik hoor hulle nie die arme dier se maanligsmekinge nie. 

Hoekom hou mense honde aan as hulle nie hierdie wonderlike skepsels deel kan maak van hul huishouding nie? Ek het nog nooit geglo in ‘n agterplaasbrak, wat net aandag kry wanneer sy kos en water terloops uitgedeel word nie! 

Verder Noordwaarts

Vanaf Khaudum, is ons verder tot in die Caprivistrook. Die hoor van hierdie naam was vir my altyd sinoniem met oorlog en vliegtuie wat saans opstyg by Waterklooflughawe, waar ek as kind gewoon het. Dit het herinneringe opgeroep van gebede aan “ons manne op die grens” en die stuiting van die “kommunistiese gevaar”en vriende wat jonk gesterf het in die koeëlreën van ‘n onsinnige oorlog.

Dit was heerlik om uiteindelik die ware plek self te sien, sonder al daardie oorlog-ellendes en geskiedenis van die verlede!Die Okavangorivier vorm die grens met Angola en dit het skielik vir my duidelik geword wat presies gebeur met die moerasvorming in die Noorde van Botswana. Hierdie magtige rivier stoot elke jaar op in die Kalaharisand en vorm duisende eilande in die Okavangodelta. Die diere- en voëllewe hier, is ongekend. Dis onmoontlik om dit te beskryf en elkeen moet dit op sy lewenslys sit om na die Okavangomoeras te gaan.

Ons het baie interessante mense ontmoet, wat “lodges” op die rivieroewer bedryf. By een van hierdie plekke woon ‘n ou met ‘n lang pluiserige baard saam met sy vrou en hy raak skoon in vervoering oor voëls. Sy boekversameling is reusagtig…rye en rye boeke net oor die geveerdes van die wêreld. Dis altyd ‘n openbaring om sulke mense te ontmoet..’n wandelende leeftyd se kennis en ervaring!

Daar naby is die Mahangu reservaat wat ook nou deel geword het van die wêreld se grootste oorgrenspark. Dis ‘n klein reservaat, waar geen oornagfasiliteite is nie. Wat ‘n pragtige plek!’n Groot gedeelte van die pad, loop langs die Okavangorivier en daar staan plate rietbokke, lechwe, zebras, olifante en verskeie watervoëls. Groot was ons opgewondenheid toe ons die mooiste swartwitpensbul te siene kry. Mooi was nog nooit lelik nie en die amper uitwissing van hierdie grasieuse dier, is ‘n klad op die mensdom se naam!Daar is ook ‘n kol met pragtige reusagtige kremetartbome.

Later is ons na “Popa Falls”. Die naam is bedrieglik, want dis nie ‘n waterval nie, maar wel waterversnellings, wat oor groot rotsagtige areas stroom..pragtig, maar mens moet bietjie klim en klouter om daar te kom.

Daarna het ons die terugtog na Swakopmund, ons ander tuiste, begin, deur allerhande agterpaaie te ry.

Goeie herinneringe

 Kremetartboom waaronder ons geslaap het, se “voetjies”

 Sikerettikamp die heel suidelike kamp in Khaudum

Die toilette (regs) en badkamer

 Oulike aanwysings op die deure

Die goed geventileerde badkamer   

 Die “opelug” kombuis

Ekke

Verlate en vergete

Pas terug van ons toer na die noorde van Namibië, wil ek ‘n paar gedagtes met julle deel. Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Behalwe vir die feit dat ons in ‘n wildernisgebied was waar ons in vier dae presies drie ander voertuie gesien het, was dit ‘n 4X4 roete vir spykerbaarde! Gelukkig was ons gids baie bedrewe en was ek geen oomblik bang nie.

‘n Ou se lyf is naderhand seer van al die heen en weer wieg en die feit dat dit vyf ure geneem het om sewentig kilos af te lê, (het darem tussenin gestop om wild en voëls te kyk) sit nie lig in elkeen se broek nie.

Die Khaudum reservaat is ‘n stukkie vergete wildernis, waar min mense kom. Dis in die Noord-Ooste van Namibië en het net twee kampterreine. Alles is erg verwaarloos, maar ons het dit verwag en was geestelik ingestel om geen water of geriewe te hê nie. Dus was dit ‘n heerlike verassing toe daar wél “badkamers” en toilette was!

Die toilet was heel gesellig. Die bak het nie ‘n deksel op gehad nie en as mens op die troon sit, word jy van bo-uit die bak gespuit met ‘n straal water…sommer ‘n “bosbidet”! Die stort was vol bye wat water kom soek by die druppende kraan en natuurlik steek een van die knape my toe in die voet. Gelukkig is ek nie allergies nie, maar my voet was die volgende dag pofferdik geswel.Die sparretjiesmure was ook lekker deursigtig en aan ventilasie op ‘n moeë warm lyf, het dit nie ontbreek nie.

Afgesien van die algehele verval, het die sien van die hoogs bedreigde Bastergemsbok, opgemaak daarvoor. Ons kon pragtige foto’s neem. Die bokke is ongelooflik sku en ons het vir ure geduldig sit en wag by watergate vir hulle om te kom drink. Daar was geweldig baie olifante wat heeltyd die water geannekseer het en dit moeilik gemaak het vir ander diere om te kom drink.

Een aand teen laatskemer, het ons aanskou hoe trop op trop olifante aangehardloop kom na die water. Met die son agter hulle en die stof wat uitslaan soos hulle hardloop, was dit ‘n ongelooflike gesig. Ons het naderhand opgehou tel toe ons by honderd kom. Die interaksie was verstommend. Elke nuwe groep aankomelinge het die ander gegroet deur met hul slurpe in mekaar se monde te voel. Die heel kleintjies is deur die opgeskote koeie beskerm en toe enetjie effens in die modder vassit, was daar gou een by om hom uit te stoot.Hierdie jong vroulike diere is nes agt tot tienjarige mensdogtertjies wat graag oor babas koer!

Ons het ook gesien hoe ‘n Geelbekwou ‘n duif vang, ‘n Jagarend met ‘n slang in sy bek en ‘n Witkruissperwer wat ‘n mossie kap. Die kersie op die koek, was ‘n rooikat , wat doodluiters oor die pad geloop het. Al is hierdie katsoort in die sestigerjare tot pes verklaar op plase, sien ‘n mens selde hierdie pragdier. In al die jare wat ons in die bosse rondploeter, is dit maar die tweede keer dat ons een te siene kry! 

Hoe meer ‘n mens daar buite kom, hoe meer wil ‘n mens dit doen. Dis soos ‘n verslawing..’n baaaie lekker een!

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +