Slaggat of gatslag? Die voortvlugtiges. Hoofstuk 8

(Vir my gereelde lesers, hierdie is net ‘n pretblog en sal geen sin maak nie. Gaan gerus verby. To my regular readers, this is just a fun blog and will make no sense to you. Please pass).

Dis doodstil by die Toweropstal. Orals lê lywe rond. Toortsie se gefranjelliekoseerde poeding en die nag se kaperjolle in die bankkluis, het sy tol geëis. Sersant Gigaba lê heerlik lepel teen ‘n uitgepaasde kollega se deinende boepens. Wanneer sy drankasem met elke asemteug buitentoe geforseer word, tril sy mondhoeke ritmies en maak sulke klapgeluidjies. Verskeie van die voortvlugtiges lê ook hand om die blaas, met die polieste en met mekaar. Almal lyk ekstra dik en rondborstig van die bondels banknote, wat in trippel D’s en deurskynende tentgrootte Balipênties ingestop is.

Oom Paul en Oom Piet sweef bokant die dronknes rond, skud afkeurend hul spookkoppe en klik met hul tonge, terwyl rookwolke uit brandende pype borrel. Die twee is dit eens dat die moderne mens sleg en lui geword het en sonder sedes en waardes is.

Skielik is daar ‘n oorverdowende knal en die twee spoke skrik hulself vir die tweede keer in hul grafte in. Kisplanke, eierklitsers, kombuisware, rooibosteesakkies, Frangelicobottelproppe, twee bloedrooi stiletto’s, ‘n lipstiffie, mascara en ‘n verflenterde blonde pruik, sif neer op die verdwaasde motgevrete spul, wat nou skoon nugter geskrik is.

Una se “container” se deur hang aan een skarnier en in die boom langsaan, wapper ‘n kopdoek, wat alteveel na Toortsie s’n lyk. ‘n Swaargelaaide trippel D fladder skeef-skeef soos ‘n reuse tandemvalskerm af aarde toe. Die Bali-stalletjie is nou ‘n ali-stalletjie, want dit het letterlik sy g..alie gesien!

Lekkervurig se vuur is heeltemal geblus en nou voel sy ook nie eers meer lekker nie. Die klippers en graspolle spat soos Sonell, Woestynkind en Wegkruipertjie, wild dekslaan agter die stewige stêrre, van ‘n flou man in blou. Camilla, ontdaan van al haar verleidelike bybehore, het heeltemal haar sexy aanslag verloor en huil warm snot en trane, in die kroes borshare van die Latynsevoorkomskonstabeltjie. Abrie duik verskrik uit die pad van ‘n Baliaanse blou bal-en-klou tafelpoot, wat trillend langs hom in die grond vasslaan en sy volgestopte monnikjaspante netjies vaspen.

Tannie Frannie is helder wakker geskrik uit ‘n salige droom en gryp vervaard in die lug rond na vallende voorwerpe, onder andere ‘n uitgeholde brood vol skitterblink kroonjuwele. Scrapydo se Porkie-uil klou verbete aan haar skouer en rittel van die koue en skok. Sy veerlose lyf lyk soos dié van ‘n geplukte hoender. Sy hele veredos is in sy maai in en warrel stadig aarde toe, saam met stukkies suurgeworde gefranjelliekoseerde poeding. Scrapy self, lyk of sy so pas met haar Muskvuurpyl deur die klankgrens gebars het.

Ekmyself se bewerige vinger druk per ongeluk die musieksisteem aan die gang en ‘n klipharde sarsie kanonskote uit die 1812 Overture van Tchaikovsky, sorg vir nóg nat en vuil onderklere.

Op die plaas langsaan, in die koeistal, sweef rasperige Mozart en Bach musiek, spookagtig deur gebuigde luidsprekers. Die klomp Friese se uiers is drooggeskrik en hang soos trosse rosyntjies onderaan die rondmalende beteuterde diere. Die melk wat reeds uitgemelk is, het geskif en staan nutteloos in skeefgeduikte emmers.

Perdebytjie steier verdwaas na haar byeboerwa met ‘n plan om alleen te vlug. Sy weet nie waarheen en waarvan sy moet wegkom nie. In haar benewelde toestand besef sy net, iets groots het vanaand hier gebeur. Sy wonder of Hester en haar katelknapie se pappie, Pablo Escobar, nie iets hiermee te doen het nie. Hy is hoeka nog kwaad oor die goud wat uit sy seun se voortande gesteel is én hy het ‘n ogie op onse Hes! Natuurlik ook gehoor van die vonds in die bankkluis. Slyp seker sy geelgerookte Colombiaanse tande vir die Towerspan se swaarverdiende buit, om sy onheilige dwelmbesigheid ‘n hupstoot te gee.

Dan is daar ook nog die moontlikheid dat Abrie se Definitive Dictionary of Dubious Denotation al die tyd eintlik ‘n Definitive Dictionary of Dubious DETONATION is.

Die Perdeby het nou vaal vrede met joernale, rokende-bebaarde-ou-omie-spoke-wat skelm-boudknyp-in-die-donker, tonnels, goud, Krugermiljoene, opdragte van ‘n afwesige afkakebeen Hester-wat-in-luuksheid-in-‘n-druglord-se-villa-lê-en-tjoklits-vreet, zoemende stekende bye, botteltjies omkoopheuning vir bankamptenare, korwe en vuilgevatte banknote…sy gaan nou soos ‘n wafferse skelm die nag in verdwyn. Sy koers eers gou kombuis toe om te sien wat sy vinnig kan aas om saam te vat. Die verwoesting laat haar ‘n oomblik in haar spore vassteek en dan tref dit haar soos ‘n gatslag/slaggat/donderslag?? Sy is nou heel deurmekaar en die regte woorde ontwyk haar.

Stadig registreer die oorsaak van die nag se fiasko in haar warkop. Op die versplinterde tafel in die hoek van die verfloiingde kombuis, is ‘n Tupperbak vol poeding, wat duidelik krioel van die lewe. Die deksel bult gevaarlik uit en dis ‘n gegewe, dat dit enige oomblik met ‘n moerse knal, saam met strale deeg die lug in gaan skiet. Langsaan lê die flarde van nog so ‘n bak, bruisend en borrelend met gefranjelliekoseerde-Abrie-en-Toortsie-se-watsenaam-se-tiraGISmoe. Die plafon hang vol druppende stalagtiete en Perdeby lek vies ‘n taai, suur blerts deeg van haar harige voorarm af.

Met ‘n paar bottels Frangelico stewig onder een fris getatoeëerde arm vasgeknyp en verskeie dik pakke blou banknote, wat sy vinnig in haar bonsende oorvol trippel D en gatsakke stop, storm sy na haar byeboerwa. Skielik staan sy versteend, want dis die gesig wat haar begroet…Zoomaway het plek gemaak vir…

Boomaway

Dis seker waarheen die B van die Bali-stalletjie, wat minute gelede verfomfaai is, gelanseer is. Nou glo sy sowaar in spoke.

Skielik ontwikkel sy ‘n vretende lus vir een van Hester se Pablo Esco-tjoklit-Bars…

Ekmyself sal nou verder kalmte met haar musiek moet bring.

Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=769965
Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

148 Replies to “Slaggat of gatslag? Die voortvlugtiges. Hoofstuk 8”

    1. Toe ek die woordeboek se titel uitgedink moes ek kophou om nie self disleksies te leef nie. En ja ek het Tina se detonation (in al sy vele fasette) self baie geniet. Ek speel dikwels in my kop met sulke tipe woorde, soos
      Right of access is reserved
      Right of access is reversed
      Right of access is severed

      Wel die gefranjelliekoseerde poeding wat Bytjie nogal volgens my oorspronklike spelling gespel het ons amper van ons lewens ge-severe en nou sal Net-Ek ‘n bom deskundige of poedingdeskundige of ‘n brawe gefranjelliekoseerde persoon moet kry om die poeding te ontlont.

      Liked by 3 people

  1. Koekemekranka! Perdebytjie, hierdie is ñ hengse mondvol! My oë bly omtrent uitpop van al die senarios wat jy so gemaklik hier laat rondvlieg! En dan wil jy wegvlug in jou Boomaway-wa, nogal met my B op. Ek moet nou eers diep sit en dink oor wat ons vannag hier oorgekom het.

    Liked by 2 people

  2. Ek het my nou so gelag vir die spul. Dit is so goed geskryf!!! My en Una se pruik 😢😢😢😢 Hoe gaan ons weer orde skep!!!! Liewe Moses my kop spin…. wonder of die Latynse beampte darem genade met Kameel sal hê as Camilla nou in haar glorie in geskiet is. Ek sal soos Una eers moet sit en die spul inneem. Voel asof ‘n aardbewing my getref het.

    Liked by 3 people

    1. Dis hoogtyd dat sy daai Escobar skurk nou in sy maai stuur en bietjie terugkom aarde toe. Sy is heel waarskynlik in die swewende hemel van sterkgekruide rookgoedjies. Die tjoklits is seker ook gedokter…. spesiale “brand” Esco- bars!

      Liked by 1 person

        1. Dis wanneer ‘n Ken handig te pas kom. Dis eintlik maklik…. Toorts neem partykeer fotos van elke stap en leer my so. As jy dit eenkeer regkry… het jy dit… 😕 of…. ook nie altyd nie.

          Liked by 1 person

      1. Hester as ek geskrik het raak ek kwaad en was almal se koppe om my…. nog erger ek gryp hulle aan die keel (vra my dogter) Jy sit bietjie vêr vir dit 😄

        Liked by 1 person

    1. My trippel D laat geen ruimte in die voorste sitplek nie. Ek weet ook nie of my voete die pedale gaan bykom nie, want daai boesems druk my vêr van die stuurwiel af. As jy nog kans sien om onder sulke omstandighede te vlug, is jy welkom.

      Liked by 2 people

      1. Ek lyk ook soos ‘n bakkie skeefgelaai vir die naweek oppad Lesotho toe met al die buit… maar tussen ons twee sal ons wel jou zoomwa bestuur kry.

        Liked by 1 person

        1. Kyk jy nie movies nie…. weet jy wat ‘n brood vol kroonjuwele aan die sagmoedigste mens gaan doen? Jammer Frannie as dit karakterskending is… maar ek het noual soveel dinge by toweropstal beleef dat niks my meer sal verbaas nie.

          Liked by 3 people

    2. Jy gaan nêrens! Bly net sit of lê waar jy ook al wakkergeskrik het. Mens maak nooit belangrike besluite as jy ge-traumatiseerd is nie. Kyk net rond dat niemand fotos neem nie, mens weet nooit…Waar presies was jy heelnag, Kameel?

      Liked by 3 people

        1. Jy moet onthou Camilla is weg 😭… en Kameel staan nou ontbloot voor julle. Ek voel werklik naak sonder haar. Hoekom het jy haar met Toorts se konkoksie die lug ingeskiet?

          Liked by 1 person

        2. Jy kan net in die rommel gaan rondkrap vir haar stilettos 👠 pruik, mascara en lipstiffie en ‘n “comeback” maak. Jy moet net eers die warm snot en trane afvee…miskien met Toorts se opgehangde kopdoek of een van Una se tentgrootte deurskynende Balipênties.

          Liked by 3 people

        3. ☺☺ Jy kry dit alweer reg om my te laat giggel! Ons kommentaar-skrywery het my in die moeilikheid. Gisteraand wou manlief baie, baie verergd weet hoekom ek so op my foon lê! ‘Ek neem deel aan ñ blog kompetisie, en vanaand is my beurt, anders verloor ek.” Blatant gelieg!!! Die bieghokkie, Abrie moes inderdaad een saanvlans want die rytjie is l…a…n…k van bloggers wat moet praat.

          Liked by 4 people

        4. Una 😀😀😀😀 dis erg. Dis soos ek wat verlede naweek met my foon heeltyd hmmm toe verdwyn.het… terwyl daar ‘n volskaalse partytjie aan die gang is.

          Liked by 2 people

        5. Ek begin net al hoe meer besef dat niemand ‘aan die buitekant’ presies kan verstaan nie. Jy moes my verduideliking gehoor het toe middel-kind my bank-besigheidskaartjie vinnig moes ontwerp!

          Liked by 3 people

        6. Bieghokkie toe met jou!!! 😁😁😁😁 Nee hulle sal nie verstaan nie… nog minder hoe ons ons so kan inleef in die storie.

          Liked by 2 people

  3. Kan iemand asseblief nou vir Toorts tot bedaring bring…. sy maak my kop dronk met haar gehollery om die boom. Abrie… ag tog jy lê vasgepen op die grond… iemand klim in die boom en kry Toorts se kopdoek ASSEBLIEF!!!!

    Liked by 2 people

  4. Jammer, ek het vanoggend die drade van my kakebeen af laat verwyder en nou eers hier opgedaag. Net betyds om te sien hoe ek beskinder word oor my lewensstyl-voorkeure en my keuse van mans. Mansvriende bedoel ek. Jy is geskakel Perdebytjie.

    Liked by 1 person

        1. Ek is ‘n nie-roker, nie-drinker, nie-slukker, nie-snuiwer … Dit laat my nou dink aan die keer toe ons ‘n nuwe bestuurder gekry het baie jare gelede toe ek net by die bank begin werk het. Die personeelbestuurder het ons ingelig dat die nuwe bestuurder ‘n man van sobere gewoontes is – hy rook nie, hy drink hy vloek nie … en toe vra ons afdelingshoof: “Het hy kinders?”. Ons het gegil van die lag en is goed oor die vingers getik.

          Liked by 4 people

  5. Briljant geskryf, ek was nou so geskok dat ek dit drie keer moes lees voordat ek kon besluit wie, wat en waar alles nou skielik onderstebo geraak het. Ek het geweet Toortsie se gebrou gaan backfire. Nou wil die misdadigers elkeeen sy eie rigting inspat. Wat het geword van lojaliteit en samewerking? Is alle take al uitgevoer? En moenie weer ‘n vinger na my wys nie – ek is hier by julle, alhoewel nou nie juis in vaste gedaante nie! Dankie vir hierdie bobaas entertainment Bytjie.

    Liked by 2 people

        1. Toortsie, ek gaan nêrens, net terug bank toe! Het my dubbelDdubbelD daar vergeet, en al daai ponde lê ook nog daar. Nee, my naam is op die spel. Hoe sal dit nou lyk as my besigheidskaartjies SAAM met die res van die buit gekry word!!! My naam gaan nie aan ñ halwe poging gekoppel word nie. Ek kan nie eers onthou hoe ek terug in die Toweropstal geland het nie! Nou-nou het ek belangrike “evidence” daar gelos.

          Liked by 2 people

  6. Ek is nou so deurmekaar soos ‘n pizza in ‘n tuimeldroer. Kan ek net ‘n bietjie boere nikotien kry vir my hoofpyn? Dis Grandpa vir die wat nie weet nie… Hierdie ontploffing het my kop nou in alle rigtings geskiet. Kan almal net kalmeer? Dis die poeding wat geskiet het. Die Filistyne is nie op ons nie.

    Liked by 3 people

  7. Al wat ek wil weet is wat het Toorts in daai poeding gesit om dit te maak ontplof? Sy wil hoeka nie die resep deel nie
    Ek vetrou die hele spul b(l)oggers niks nie, het almal die regte bedrae neergeskryf? En hoekom sien ek nerens die stuk papier nie? Gaan ons nou van voor af moet tel?
    En daai poliesmanne se boude is ietwat ronder as vantevore, ek is seker hulle het ook Balipenties aan

    Liked by 4 people

    1. Iemand het vergeet om die poeding in die yskas te sit en dís waar die probleem gekom het. Nog so ‘n bietjie asemhou, die resep volg binnekort en dan sal julle sien daar is niks onheiligs in nie.

      Liked by 2 people

        1. Ek dink eerder dat dit ‘n geval was dat die sopies Frangelico saam met die spookskok te gou begin werk het en iemand se aandag dalk maar per ongeluk gedwaal het.

          Liked by 1 person

      1. Net vergeet om die poeding in die yskas te sit sê Toorts. Tussen haar en Sonell klink dit asof die uil wat sy vere verloor en die koeie se melkemmers wat duike in het en haar eie kopdoek wat in die boom hang en die spoke wat tweekeer graf toe is en en en en, sommer maar net ‘n blapsie was…. niks om oor huistoe te skryf nie. Wonder of sy en Sonell nie kop in een rooi doek is nie?

        Liked by 3 people

  8. Tina hierdiie is absoluut puik. Al die navorsing wat jy gedoen het kom sterk en snaaks deur. As herdie ‘n film was sou mens dit keer op keer kon kyk en elke keer iets bysien en weer snaaks vind. Soos die groot filosoof (verwysende na sy postuur) Shrek gese het: it is layered like an onion!

    Liked by 4 people

    1. Dankie Abrie, dis nou baie lekker om te hoor. Ek moes omtrent my neus op die grond hou om almal se kwinkslae, snaaksighede en idees bymekaar te sit. Gelukkig was ek met vakansie en ek het genoeg tyd gehad.

      Liked by 2 people

      1. Jy moenie nog praat nie. Die vorige keer moes hul my n spesiale permit gee om uit te klim. Hierdie keer gaan hul my en Porkie in kwarentyn sit omdat arme Porkie nakend is en op vreemde aarde getrap het. Sal maar n plan moet maak om verder te ontsnap. Hoop om darem so n paar ponde/goud of note te he om spul hier om te koop. Ongelukkig sal ek so baie nodig he dat ek twyfel of dit genoeg gaan wees.

        Liked by 1 person

Leave a reply to Toortsie Cancel reply

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +