Drama in Botswana..

Hester se verhaal vervolg https://www.hesterleynel.co.za/2019/04/11/by-n-veraf-grenspos/woordsnoere-logo

Die bebaarde orrelspeler lyk soos ‘n Recce uit die Rhodesiese Bosoorlog…fris, met bultende vesels onder die moue van sy styfspannende kakiehemp. Hy was beslis op sy dag ‘n man van aansien onder sy troepe. Sy deurpriemende kyk spaar nie my bewerige binneste nie en ek begin stotterend protesteer.

“Shut up son, I am judging your character!”, snou hy my toe en staar my  vir ‘n volle tien minute aan. Ek voel naderhand so nietig soos ‘n eensellige amoeba en bedink ‘n plan om my hier uit te wikkel.

Gelukkig word ek verdere sielkundige streepsuiker gespaar, toe die kroegdeure oopbars en drie bekende figure binnestrompel. Die klomp kroegvlieë snak na hul asems by aanskoue van Jackie Chan, Jamie Oliver en Christian Bale. Selfoonkameras flits om hierdie belangrikste van oomblikke in die saai bestaan van die Platjangemeenskap vas te lê en te troetel.

Nadat alle opgewondenheid bedaar het, blyk dit dat die drie se hulp ingeroep is om ‘n waaghalsige plan uit te voer. ‘n Klein gemeenskappie naby Fort Matlaputla, in Botswana, word al weke lank geteister deur geheimsinnige verdwynings van die dorpsmense.

Die Recceknaap het my geweeg en swaar genoeg bevind en ek is nou deel van ‘n plan, om die Tswanas te hulp te snel.

Vroeg die volgende oggend vertrek ons na die grenspos…’n eienaardige groepie..Jackie, die wildewragtag van Hong Kong, al kappende met die sykante van sy hande, met so hier en daar ‘n wawiel ingegooi, Jamie in die voorhoede met sy mesblok vol vlymskerp geslypte messe en Christian, geklee in sy Batmanpakkie, wat orals styf span op die regte plekke. Natuurlik lyk vaal ou ekke heeltemal sonder styl en vorm die agterhoede saam met ‘n hele entourage nuuskierige volgelinge op sleeptou!

By die grenspos, lê die enigste beampte heerlik en slaap met sy kop op die toonbank. Sy lippe tril soos hy snork en soos die groep verbykom, lig hy net vermoeid en met toe oë sy kop op en tjap met ‘n swaar arm elke paspoort wat onder sy stempel verbyskuif. Daarna sak hy weer in ‘n diepe beswyming en snork kwylend lustig voort, sonder om bewus te wees of dit vriend of vyand is wat deur sy grenspos beweeg het!

By Fort Matlaputla aangekom, stel die eienaardige groepie, onder leiding van Recceman, ondersoek in na die uitleg van die omgewing en doen bietjie navraag onder die plaaslike bevolking, om ‘n gevoel van die sinistere bedrywighede te probeer bepaal.

Ek merk op dat daar ‘n taamlike groot rivier naby die gehuggie verby vloei en sit dadelik twee en twee bymekaar. Ek deel my  gedagtes met die groep en ‘n plan van aksie word uitgewerk.

Met sonsondergang, word ‘n bokram aan ‘n stewige paal langs die water, vasgemaak. Die Sjinees gaan lê in die riete, Jamie sit in die ou gehuurde rokende Toyotabakkie, waarmee ons hierheen gekom het en slyp vir oulaas sy messe, terwyl Batman soos ‘n donker gees op die wal van die rivier rondsweef. Ek en die Recce lê gereed met gewere, gemik op die donker waters naby die arme blêrende ram.

Die nag is stikdonker, maar skielik gewaar ons dit…IMG_7620

Hy swem vinnig op die ongelukkige bokram af, maar voor sy kake kan oopgaan vir die doodsklem op die bok…IMG_7630

klap die skote uit twee gewere en Batman gevolg deur Jackie, sak toe op die krokodil. Hulle sleep die dooie dier wal toe en Jamie staan nader met sy geslypte messe.

In die lig van die maan, wat intussen helder verrys het, kerf Jamie die ongelukkige dier se maag oop. Die lem flits soos hy behendig die dik vel deurklief en skielik stort die maaginhoud, stinkend op die modderige rivierwal uit. Verskeie items, soos horlosies, skoene, hoede, T-hemde en selfs ‘n fietsketting en gebuigde fietswiel met ‘n paar speke in, dui op die geheimsinnige verdwynings, wat nou uiteindelik opgeklaar is!

Terug in die gehuggie, heers blydskap en ook hartseer weens die verlies van geliefdes. Batman deel kostuums uit aan ‘n ieder en elk. Jamie skenk potte wat dadelik op oop vure prut met stukke krokodilvleis en pap, vir latere feesvierings die aand. Jackie gee demonstrasies by die plaaslike mark en hardloop soos ‘n kat teen die kraampies se pale uit. Hy kap waatlemoene en pampoene met sy hande oop dat die pitte so spat, natuurlik tot groot vermaak van die jillende toeskouers.

Ek en Recceman sit stil en aanskou net die besigheid…”My character has been judged.”

NS.Die slapende amptenaar by die grenspos het regtig gebeur! Die idee van die krokodil kom uit Alexander McCall Smith se reeks oor The No.1 Ladies’ Detective Agency…Wonderlike verhale uit Botswana op ‘n deernisvolle, pittige manier geskryf.

Onthou om jou bydrae hier te koppel

https://fresh.inlinkz.com/party/1a5ae3bc0794453eba4ed3f7c6e95f1d

 

31 Replies to “Drama in Botswana..”

  1. Briljant. Absoluut briljant. Die recce wat orrel speel. Jamie wat dure (potte) uitdeel om kos op oop vure gaar te maak. Wonder of hy ‘n reseppie of twee vir krokodilvleis het? Die inhoud van die krokodil se maag – stukke van ‘n fiets?? Wow, ek is bly ek woon hier in veilige KZN. Weet jy wat Bytjie, ek het nie minder nie as agt van Smith se boeke in my e-book biblioteek waarvan ek nog nie ‘n enkele een gelees nie. Daai saak gaan nou reggestel word – hierdie week nog.Ek gaar mos boeke op vir “later”, maar ek doen die meeste van my leeswerk net in die winter. Om verstaanbare redes. Dubbel laaik vir jou bydrae.

    Liked by 2 people

    1. Ek is bly ek kon voldoen aan die regte standaard.😉😉
      Dis nou hoogtyd dat jy daardie boeke moet begin lees! Die papierboeke het sulke mooi voorblaaie en staan netjies in ‘n ry op my boekrak.

      Liked by 1 person

  2. Daar het jy dit nou! n Baie goeie oplossing om die skuldige aan die pen te laat ry. Jy is n storieverteller van formaat! Baie boeiend en vol kinkels. Ek sien voor my daardie grenspos ou met sy snorkery! Ek is bly dat nie een ouens deur die krok gevang is nie.

    Liked by 1 person

  3. Dankie tog dat jy ‘n einde vir die storie kon skryf….en jolly goed ook. My brein weier volstrek om te dink…en ek het geen idee gehad wat om met die drie manne te doen nie. Dina die doring!!!

    Liked by 1 person

Leave a comment

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +