Surprise se storie gaan verder.

Dis langnaweek en Gogo het vir Surprise kleertjies ingepak,want hy gaan Sekunda toe na sy sjebien-ouma.Eintlik gaan sy ma daar kuier,maar sy moet hom saamvat,anders vind die spul familie dáár uit,dat hy by Gogo bly.Die gort sal gaar wees,want hulle sal seker weer begin toutrek oor die kind en eis vir”damages”!

Hy loer met bang hartseer ogies na Gogo,maar sy praat hom moed in en sê hy moet doodstil bly oor waar hy nou woon.Sy ma is aangetrek soos ‘n modepop en haar lang rooigeverfde naels tik ongeduldig op die kind se kop.

Tot dusver het sy niks bygedra tot Surprise se versorging of opvoeding nie.Haar enigste blykie van die kind se bestaan,was toe sy verlede jaar,fyn uitgevat,by die kleuterskool opgerol het vir Surprise se “graduation”!Natuurlik pryk sy op ‘n foto saam met hom,met sy skinkbordkeppie,swart manteltjie en spierwit glimlag.Mens sou sweer sy het betaal vir sy vier jare in die creche.Sy het hom miskien tweemaal gesien,nooit gebel nie en nie eers geluk gewens met sy verjaarsdag nie!

Madame het nou werk gekry,maar weereens word Surprise net gebruik om haar kant skoon te hou by haar suiplap familie.Met afkeuring kyk sy na die kind se goedkoop Pepstore tekkies en gooi ‘n skimp dat sy pa vir die kind Nikes moet koop!Gogo sluk ‘n bytende opmerking weg en plant vir oulaas ‘n soentjie op Surprise se blinkbruin voorkoppie.Sy krimp ineen net by die blote gedagte aan wat vir die kind voorlê.

Die naweek snel verby,maar nie vinnig genoeg vir die getraumatiseerde kind nie.Maandagmiddag,hoor Gogo ‘n kind buitekant haar huis huil.Hemel,dis Surprise!Mammielief het hom net daar afgegooi,nie eers toegesien dat hy veilig ingaan,óf die familie kom groet,wat háár kind koester en grootmaak nie…eish!

Die outjie is omgekrap en vertel van suipery en sjebiengevegte en hoe sy gekletterde ouma ‘n ander ewe dronk oompie rondgegooi het….natuurlik met bygaande skellery en vloekwoorde.Die mannetjie is die heelmiddag ongedurig en spring op en af soos ‘n kaartmannetjie.Gogo se tienerseun bring die knapie naderhand tot bedaring en lei sy aandag af van die naweek se vieslikhede.

Mêrrimpie het nog steeds Surprise se “grant”kaart en Gogo moet maar op haar eie voortsukkel om die bondeltjie “surprise” wat ses jaar gelede sy opwagting gemaak het,te versorg!

NS. As jy dalk nie die verhaal voorheen gevolg het nie,lees Surprise se storie hier: https://perdebytjie.wordpress.com/2015/08/04/die-storie-begin-so/ en hier: https://perdebytjie.wordpress.com/2015/08/05/die-storie-gaan-verder/ en hier: https://perdebytjie.wordpress.com/2015/08/06/die-storie-gaan-nog-verder en hier:https://perdebytjie.wordpress.com/2015/08/07/die-storie-gaan-nog-verder-en-verder-en/ en ten slotte hier: https://perdebytjie.wordpress.com/2015/08/07/die-storie-eindig-so/

29 Replies to “Surprise se storie gaan verder.”

    1. Sy gogo is ‘n vreeslike nugter mens.Sy vat die lewe soos hy kom.Sy is soos ‘n dogter vir my,maar ek leer elke dag iets by haar…die swaarkry wat sy met ‘n glimlag klaarkry…amper alla Langenhoven😄

      Liked by 1 person

      1. Sê vir haar sy moet na die naaste streekshof toe gaan en vra vir gratis advies deur die “Public Legal Adviser” – sy kan tenminste die onderhoudsgeld vir die kind direk van die hof af kan kry. Die ma is besig om bedrog te pleeg deur die geld vir haarself te hou. Gogo moet net haar getuies en bewyse agtermekaar hê.

        Liked by 1 person

        1. Ek het al vir haar gesê om dit te doen,maar om een of ander rede is sy nie lus daarvoor nie.Dis interessant om te besef hoe kultuur ‘n invloed het.Sy is bang vir die skoonfamilie wat Xhosas is.Sy is ‘n Pedi en het steeds die versorgende houding van so baie ouer Afrikavroue.Hulle word misbruik deur die jonger geslag,wat hul kinders net afgooi by die oumas.Ons het ook nie bewyse of die grantkaart by die ma of by die sjebienouma is nie,maar daar is altyd ‘n storie as daarvoor gevra word!

          Liked by 1 person

        2. Die grantkaart self is nie ‘n probleem nie; die hof kan net gelas dat die grant nie meer op die spesifieke manier uitbetaal word nie. Die probleem lê by die feit dat sy tereg bang is vir viktimisasie en dit is ‘n werklike bedreiging. Sulke dinge laat ‘n mens so magteloos voel.

          Liked by 1 person

  1. Gelukkig is die 0 tot 6 jare die belangrikste en dit wat hy nou leer sal hom altyd bybly. Hy ken reeds die verskil van goed en kwaad, en dis ‘n groot ding om so vroeg te leer.

    Liked by 1 person

  2. Dit is SO hartseer…
    Ja hier werk n dame saam my en in familie is ook so geval waar die “grant ma” net met die kind te doen het wanneer sy kan goed lyk. Ai ek voel jammer vir hom en ouma, haar hart moet huil, hoe laat gaan jy n kind as hy moet maar jy weet hy moet liewer nie…. so sad….

    Liked by 1 person

  3. Dis natuurlik die bynes en heuning uithaal storie. Daai blerrie bye bly jou piets en steek, maar op die ou end sal jy wel by die heuningsoet uitkom. Ek het self so Afrika kind, maar myne is darem al 23-jaar en uitgegroei. Ten spyte van Ghana, en Afrika roep hy my, sy Ma. Kinders vergeet nie waar hulle liefde vandaan kom nie – maar al behandel ‘n Ma ‘n kind hoe stief of sleg, is dit ‘n ingebore ding dat ‘n kind lewenslank sal smag na sy bloedma se se aandag en aanvaarding. Daar is dae, wat die Afrika-streep my kind vashou en dan skud en maar net my kop.. Seker ‘n storie vir ‘n ander dag 🙂

    Liked by 1 person

Leave a comment

LollaseGoete (Lolla's Thingz)

Welcome to my world - experiences of a middle-aged Wanderer

Kom ek probeer

My stories

Herklink

Virtuele Begrafnisse | Virtual Funerals

I scrap 2

On Safari and More about photos and photography writing and life experiences....

Making Picture-Perfect Memories for life

Myriad memories frozen in time

Fotografie Anja

Ik ben creatief bezig met fotografie, experimenteren maar vooral genieten.

Perdebytjie se nes

'n Blog oor die natuur en allerdaagse gebeure,wat die lewe interessant maak

Wildonline.blog

British Wildlife & Photography

Something to Ponder About

Musings on Life - Creative Writing - The Environment

Appeltjie

potpouri van stories, foto's, gedagtes, goue vroue

Een, Twee, Drie. Blog Myself!

'n Storie oor die wêreld, vir die wêreld.

Natuurfreak3

Op wandel in de natuur met zijn ontelbare geheimen

Letty-Ann se Ervarings

Aalsie sê:"Sommer vir die lekker!"

Sagte Klippe

persoonlike blog - cam venter

OSA

Lees, praat, skryf, luister ALS IN AFRIKAANS

F O T O H A B I T A T E

Simone Foedrowitz - Naturfotografie +